Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 75

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Hoe die natuur beskou moet word

75 Maar EK sê: “Dit duur nog wel `n uur, en dit is baie goed om hier op hierdie heuwel te wees, en te sien hoe God Sy gedagtes vir ons oë beliggaam.”

[2] Die herbergier sê: “Heer, hoe moet mens dit wel sien?”

[3] EK sê: “Dit, hier om ons heen, wat jy met jou oë sien, met jou ore hoor en met elke ander sintuig waarneem, is louter beliggaamde gedagtes van God. Jy sien hoe magtig die golwe beweeg. Wie dryf die waters daar so hoog op en laat dit nie tot rus kom nie? Sien, dit is God se gedagte, tot lewe gebring deur Sy wil! Kyk eers na al die voëls wat besig is met die golwe! Wat is hulle anders as suiwer beliggaamde gedagtes van God?! Die hele see, alle berge, alle diere, al die gras, alle kruie en bome, alle mense, die son, die maan en alle tallose talle sterre is niks anders nie. Hul bestaan hang heeltemal net af van die vir julle nou nog totaal onbegryplike bestendigheid van die wil van God.

[4] Gestel die moontlike situasie dat God van een van die beliggaamde gedagtes wat ons hier sien, Sy wil wegneem, wat gesien die oneindige vryheid van die Goddelike wil, goed verklaarbaar is, dan het die beliggaming ook reeds op dieselfde oomblik verdwyn. In God sou die geestelike gedagte wel bly, maar die liggaam sou hom as’t ware in die totale niks oplos. Hier voor ons het ons nou die bestaan, wese, wording, en ook verganklikheid van die gedagtes van God, wat vir die ware vriend van God so belangrik is! Is dit nie `n ware vreugde om daarna te kyk en daardeur van dag tot dag JaHWeH se liefde, wysheid en almag van naderby te leer ken nie?!

[5] Kyk na die wolkies daar in die ooste, hoe hulle nou eers groter, dan weer kleiner word, en vervolgens heeltemal verdwyn! Dit is ewe-eens God se gedagtes, wat, deur Sy wil net baie liggies uit die lug saamgetrek en in `n vlugtige liggaamlikheid oorgaan, in steeds veranderlike vorme vir ons sigbaar word. Hierdie vorme lê duidelik nader aan die oorspronklike, geestelike elemente as die massiewe berge en alle ander skeppings wat ons hier aan alle kante omring; maar nogtans is hul bestaan nog onvolkome en hulle moet eers, deur hulle meermale in `n ander vorm te manifesteer, soos byvoorbeeld in reëndruppels, oorgaan en dan as voedingstof in die een of ander plant `n meer bepaalde, bestendiger vorm aanneem, en so tot by die mens opklim, van waaruit hulle dan as volledig vrye, selfstandige en self vry denkende wesens met `n vry wil vir ewig onveranderlik en bestendig in die suiwer geestelike en aan God gelyksoortigheid kan en ook sal oorgaan.

[6] Sien, wie so die skepsele van God betrag, ondervind baie genoeë en vreugde daarvan! En Ek sê vir jou dat so `n beskouing meer krag aan die mens gee as `n ontbyt wat te vroeg genuttig is. - Vind jy dit nou ook nie so nie?” 

[7] Toe sê die herbergier: “O ja, Majesteit en Heer! Maar vir so `n besielende beskouing het mens ook U Wysheid nodig; ek sou wel `n eeu kon kyk en dan sou ek dit wat U nou aan ons uitgelê het, nogtans nie ontdek het nie! Van nou af aan sal dit by my ook wel beter gaan; want ek is `n vriend van die natuur en verlustig my graag in sy skepping en vorme. Net wanneer hy eers hier of daar ontaard, bly ek graag so ver moontlik daarvandaan. As daar swaar storms kom en die wolke dreig om ons met weerligstrale en donder te vernietig, dan hou my vriendskaplikheid met die natuur op; maar as hy so rustig besig en aanwesig is, is ek besonder lief vir hom. Weliswaar is hierdie golwestorm op die see nou ook geen rustige werking van die natuur nie, maar vir ons bewoners van die vasteland is dit nie juis gevaarlik nie en daarom nog met `n geruste hart en gemoed aan te sien; maar sou `n geweldige orkaan die see so in beweging bring, dan sou dit hier nie juis so baie behaaglik wees om die natuur in sy doen en late te betrag nie en daarin die groot Goddelike gedagtes, wat deur Sy wil tot lewe gebring is, te herken nie.”

[8] EK sê: “Dit is beslis so; maar wat Ek nou aan jou gesê het, is ook geen gebod nie, maar net `n goeie raad, - want andersins sou die mense ook in die diepte van die see moes afdaal en daar orals in alle rigtings die beliggaming van die groot gedagtes van God moes waarneem. As `n mens dit sonder gevaar en sonder nadeel vir sy lewe kan doen, laat hom dit dan so nou en dan doen, dan sal hy daaruit menige nut vir siel en liggaam haal en ook meer en meer in homself die gees van die ware liefde vir God en ook vir die naaste opwek.

[9] Want om God waarlik te kan liefhê, moet mens trag om God steeds meer te leer ken. Wie dit nie die belangrikste vind nie, sal dit uiteindelik aan homself te wyte hê wanneer by hom die innerlike gevoel en bewussyn van die ewige voortlewe van die siel na die liggaamlike dood net uiters swak is en bly; want hierdie egte lewensgevoel is alleenlik maar net die gevolg van die ware, lewende liefde vir God en daardeur vir die naaste.

[10] God in Homself as Vader is immers juis in Sy oerwese die liefde en daardeur die Lewe self, omdat liefde en lewe een en dieselfde is. Wie dus die liefde vir God in hom het, wat die enigste lewenselement is, die het ook die ware, Goddelike, ewige lewe in hom. Wie egter hierdie liefde nie het nie, is innerlik dood; sy lewe is net `n skynlewe en bly daardeur só lank `n oordeel, as hy nie vrywillig die liefde vir God in homself opgewek het nie en deur selfstandige dade tot lewe gebring het nie. En sien, juis daarom is dit goed vir die ware mens as hy van tyd tot tyd dieper beskouinge wy aan dit wat hom aan sy sintuie ter waarneming voordoen! - Verstaan jy nou wat Ek aan jou gesê het?”

[11] Toe sê die herbergier: “Ja, Majesteit en Heer, nou is dit vir my ook duidelik; dit is net tans hier op aarde baie te betreur dat die meeste mense heeltemal niks weet van sulke belangrike lewenslesse nie! Maar dit sal my nie aan die korrekte ywer ontbreek om ten minste ontvanklike mense, tydens gunstige geleenthede, dit wat ek weet, by te bring nie. Maar wat kan nou die vernaamste rede wees, dat die mense in hierdie tyd so ontsettend onsinnig geword het?” 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205