Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 64

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die ongeloof as bewys van rypheid vir `n nuwe openbaring. Vergelyking van die mense ten tye van Noag en van Jesus. Die geestelike toestand van die mense.

64 Die Heer: “Maar Ek sien nou nog `n baie spesiale vraag by My nuwe studente, en dit is: “Ja, as die geloof aan `n ware God, wat die eintlike basis moet wees vir die rypheid van die mense ten opsigte van God, byna algeheel ontbreek het, dan begryp ons nie waarom God ten tye van Noag, toe die geloof in `n ware God by die mense ook totaal verdwyn het, nie na hulle gekom het soos wat Hy nou na ons toe gekom het, en op hulle eie grond en bodem `n leer gegee het waarmee hulle in vryheid die ewige lewe kon verkry het nie! Waarom het God toe liewer die ergste sondvloed laat kom om die mensdom, wat God vergeet het, te verdelg?”

[2] Ek sê vir julle dat ook hierdie vraag bepaald nie in geestelike opsig onbelangrik is nie, en die beantwoording daarvan moet `n groot lig werp op die verhouding tussen God en Sy skepsele. Let dus goed op!

[3] Die mensdom was ten tye van Noag nie so goddeloos soos wat julle wel dink nie; hulle was egter teenoor die God wat hulle maar al te goed geken het, trots en het baie hoogmoedig geword en wou hulle in alle erns teen Hom verset en Sy mag by Hom afneem. Hulle het gedoen wat hulle wou; en hoewel aan hulle vanuit die hemel die mees wyse wette gegee is, het hulle dit met hul voete vertrap en presies die teenoorgestelde gedoen.

[4] Hierdie mense het die God, wat hulle goed geken het, gehaat en was vyandig teenoor alles wat maar afkomstig was van God se Almag en Wysheid. Hulle het alles vervloek wat van God afkomstig was, selfs die hele sigbare skepping, uiteindelik selfs die aarde, en hulle het ook in alle erns besluit om die hele aarde met hul springstof te vernietig. Hulle is deur die mense van die hoogte dikwels en meermale gewaarsku en ook gestraf vir hul misdade.

[5] Daar is volke van hulle afgeskei en hulle is na verre lande gelei, waarvan die nakomelinge vandag nog lewe en die ou leer nog het, hoewel dit ongelukkig nie meer suiwer is nie. Maar dit alles het niks gehelp nie. Hulle het weer magtig geword, by name die Hanogiete*, wie se stad uiteindelik baie groter was as die hele, groot, Beloofde Land. Hulle het uiteindelik die kinders van die hoogte onderwerp, behalwe die familie van Noag, wat nog as enigste volledig getrou aan God gebly het.  *(Hanoch, die seun van Kain se stad. Lees daarvan in “die Huishouding van God.” van JL)

[6] In Noag se tyd het hulle uit pure oormoed begin om die berge te vernietig, hoewel hulle deur die wyses onder die bergbewoners gewaarsku is dat die grootste watersluise hulle daar onder die berge bevind, en dat, indien hulle in hul vermetelheid ook maar één groot berg tot op die grond sou afgrawe en sy massa in die diepte van die see sou werp, daardeur meer onderaardse watersluise sou open, waardeur in `n kort tydjie soveel water na die aardoppervlakte gelei sou word, dat dit tot bo die hoë berge sou styg en hulle almal daarin sou verdrink. Maar al hierdie waarskuwings het net geensins gehelp nie, maar het hulle nog meer aangemoedig om met energie, wat nouliks beskryf kan word, aan die vernietiging van die berge te werk.

[7] Noag het toe gesien dat alle vermanings en onderrigting vrugteloos was, en hy het tot God gebid vir `n middel om minstens sommige van die goeie mense en diere en lewensmiddele te red; want hy het maar al te duidelik die treurige gevolge van die slegte en dwase dade van die toenmalige wêreldse mense ingesien. Toe eers het hy van die Gees van God onderrig ontvang om `n ark te bou, waarvoor die ontwerp en die mate uit die hemele aan hom gegee is.

[8] Toe die bose dwase met onuitspreeklike moeite die voet van `n belangrike berg vir die grootste deel daarvan weggeneem het, het die loon vir hul werk ook alreeds sigbaar geword. Die groot massa van die eintlike berg, waarvan die steunpilare weggeneem is, het begin om deur sy groot gewig te sink, en het verskriklike watermassas in magtige strome na die oppervlakte van die aarde gedryf. Deur die talle warm waterstrome moes ook die lug natuurlik daardeur vol met dampe en wolke geraak het, waardeur die reën werklik in strome begin neerval het en die water tot bo die berge laat styg het. Meer as `n derde van die hele wêrelddeel Asië het oorstroom, en alle Hanogiete, wat gemeen het dat hulle die hele mensdom op aarde uitgemaak het, het daar ten gronde gegaan en hul stad het ewe-eens in die diepte van die aarde gesink. 

[9] Uit My kortlikse weergawe, maar ware beskrywing van daardie mense uit die tyd voor Noag, blyk wel dat hulle nie onkundig was oor God nie, maar hulleself bo Hom wou verhef, en die omstandighede bewys juis dat hulle Hom wel geken het.

[10] Hul haat teenoor God is eenvoudig veroorsaak deur die feit dat hulle moes sterwe en dat meestal reeds na dertig tot veertig jaar, terwyl hulle van die bewoners van die berge, wat destyds `n baie hoë leeftyd bereik het, gedink het dat hulle onsterflik was. Dit was die rede waarom hulle so woedend op God geword het en hulle ernstig voorgeneem het om, omdat hulle moes sterwe, ook alles ten gronde te rig, om God te trotseer.

[11] As dit nou so is en nie anders nie, kan julle dan by julleself nog volhou dat die mense toe ook alreeds so ryp was soos nou?! Kyk nou eers na die mense op aarde! Hoeveel is daar selfs onder die Judeërs, wat waarlik in `n God glo en werklik lewendig op Hom vertrou? Hulle het byna almal net `n suiwer tradisionele geloof, in hul hart is hulle egter volkome goddeloos, en dit kom heeltemal nie in hulle op dat daar werklik een of ander God sou kon wees nie, - en as daar Een mag wees, dan is Hy, volgens hulle, gladnie bekommerd oor die sterflike mense met hul gebede en offers nie. Die mense het Hy maar net geskape om Sy aarde te laat bebou en te kultiveer. Dit is eintlik wat die beter Judeërs glo, - die slegteres glo in elk geval heeltemal niks nie.

[12] Weer ander, wat nog tot die ou Judeërs behoort soos wat daar in Samaria `n aantal is, sê: Die insettinge van Moses is goed, en mens moet dit nakom, of hulle nou van God of maar net van Moses afkomstig is. Wie hom by die insettinge hou, faal nie, of daar nou `n God is of heeltemal geen God nie. Mens moet die goeie net doen omdat dit goed is, en die slegte nalaat omdat dit sleg is.

[13] Maar uit die wysheid blyk immers tog ook weer duidelik dat die lewende geloof in God geen eenvoudige saak is nie. Hoe dit egter in die tempel met die geloof aan `n God gesteld is, weet julle self maar al te goed, en daar hoef verder geen woord meer daaroor gesê te word nie. Want waar mens geen gewetensaak daarvan maak om die gebooie van God tersyde te stel en in die plek daarvan, wêreldse voorskrifte as heilige en van God gegewe in te stel nie, daar het alle geloof aan `n ware God volkome verdwyn. Nou sien julle hoe die geloof in God nou by die Judeërs daar uitsien! En vra julle nou uiteindelik eers self af, hoe sterk julle eie geloof in `n ware God was! Voordat julle na My gekom het, het julle nog iets Goddeliks in die tempel gesoek en het julle die instellinge soveel moontlik nagekom, - maar aan die egte bestaan van `n God het julle self getwyfel, en julle geloof was maar net alreeds vanaf die wieg `n aangenome gewoonte, wat julle baie moeilik sou kon aflê, omdat julle in die plek daarvan niks beters geweet het om te vind nie en julle ou gewoontegeloof `n deel van julle lewenswyse geword het. Daarom was julle geloof dan ook so goed soos geen geloof nie. 

[14] Dus by die Judeërs as die uitverkore volk van God is daar nou heeltemal geen geloof meer nie; maar as daar alreeds geen geloof meer daar te soek en te vinde is nie, hoe moet dit dan by alle heidene te soek en te vinde wees?! In vroeëre tye het hulle tog nog aan hul afgode en orakels geglo; maar nou glo hulle ook niks meer nie. Hulle hou hulle weliswaar aan die uiterlike seremonies en gebruike, maar van geloof is daar ook alreeds lankal geen sprake meer nie.

[15] Net in Egipte vind jy nog enkele volgelinge van Plato, Sokrates en Aristoteles, wat nog die moontlikheid van `n hoogste, maar aan niemand bekende Goddelik Wese aanneem; maar hulle dink ook dat die mens wat deur `n uiters streng lewe dit sover kan bring dat hy die Goddelike Gees op bepaalde heilige momente sal kan voel en dan tydens die gevoel heldere blikke in die toekoms sal kan werp. Maar verder kan geen sterfling dit volgens hulle dit sover bring nie. Wat daar met die mense na die liggaamlike dood gebeur, bly `n Gordiaanse knoop wat nooit ontknoop kan word nie,  waaroor daar wel baie menings bestaan, wat in die mens `n vae hoop opwek, maar waaroor mens heeltemal geen sekerheid het nie.

[16] Die beste deel van die heidene dink nou so. Maar as dit so is, iets wat julle nou sonder moeite kan sien en begryp, dan is dit immers tog ook duidelik dat juis nou sprake is van die rypheid tussen Skepper en skepsele van waaruit die mense eers volkome in die toestand gekom het om deur God, sonder om hul selfstandige lewe skade te berokken, onderrig en tot goddelik­soortige lewensvolmaaktheid gelei en gebring te word. - Is dit vir julle nou duidelik?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205