Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 91

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die arts ontvang van die Heer die krag om deur handoplegging siekes te genees

91 Toe het ons weer na Jored se huis gegaan, waar `n oorvloedige ontbyt reeds in die bekende saal klaar vir ons voorberei was, en waar ook die studente, wat die oggend tuis gebly het, op ons gewag het. Ons het aan tafel gaan sit en geëet en gedrink. Die maaltyd het bestaan uit vis, heuningkoek en lamsvleis, terwyl die wyn, wat van `n besondere goeie gehalte was, uit Rome gekom het. Ook is daar spesiaal uit Cyprus ingevoerde wyn uit Griekeland bedien, en daarby wit koringbrood met botter, wat veral vir die Judese Grieke baie goed gesmaak het. Ons het ongeveer twee uur aan tafel bly sit en daar is baie gepraat, meestal egter oor allerlei landboukundige aangeleenthede. 

[2] Eers na die maaltyd is My leer oor die liefde vir God en die naaste deur die student Johannes voorgedra aan alle manne en vroue wat in die huis gewoon het. 

[3] Daarop het almal My plegtig beloof om hierdie leer noukeurig na te volg en daarvolgens te handel, en EK sê: “Glo en doen dit, dan sal julle ook op maklike en vinnige wyse die meesterskap van die lewe bereik!”

[4] Vervolgens het Ek almal die hande opgelê en aan hulle krag gegee vir hul goeie en ernstige voorneme.

[5] Maar die arts sê daarop: “O Heer, sien U, sowel hier in hierdie plek asook in die verre omtrek, waar daar altyd baie siekes is, is ek nou die enigste arts! Omdat niks vir U onmoontlik is nie, sou U my miskien ietwat van U wondergeneeskrag kon gee sodat ek dit vir my siekes kan gebruik, veral vir die armes wat geen geld het om duur medisyne te koop nie.”

[6] EK sê: “Jesus is My Naam; lê die siekes in hierdie Naam jou hande op dan sal hulle, as dit goed is vir hul sieleheil, beter word! Maar gee die rykes soos gewoonlik maar net medisyne; want Ek gee hierdie krag aan jou uitsluitlik vir die armes!” 

[7] Nadat Ek dit aan die arts gesê het, het hy My daarvoor gedank en het vervolgens dadelik weggegaan, want hy het `n paar arm siekes gehad wat hy nou plotseling wou help. En hy het hulle ook gehelp; want hulle het op die oomblik dat hy hulle in My Naam sy hande opgelê het, beter geword. Na `n uur het hy weer teruggekom, My nogmaals vir hierdie krag gedank wat aan hom gegee is, en het aan ons die groot verbasing van die geneesde mense beskryf, wat baie verskillende kwale gehad het.

[8] Hy sê: “Hulle kon nie begryp dat terwyl alle medisyne voorheen nie gehelp het nie, hulle nou opeens maar net deur handoplegging so gesond geword het soos nooit tevore nie. Hulle het my gevra, hoe ek nou skielik aan hierdie ongekende geneeswyse gekom het, en waarom ek dit nie vroeër gebruik het nie. Maar ek het gesê: ”Hierdie geneeswyse het `n uitheemse, groot Verlosser aan my getoon, en die siekes genees maar net omdat ek Sy Naam aanroep en Hy Self dan met my wil dat die sieke gehelp word!” Daarna het hulle almal na U gevra en hulle wou U baie graag persoonlik leer ken; want hulle het toe gedink dat U beslis Goddelike kragte moes hê omdat so-iets anders totaal onmoontlik was. Ek het niks daarop gesê nie en het hulle in hul mening gelaat.

[9] Maar nou sal ek by my ryk siekes wel moeilikheid kry; want hierdie nuwe geneeswyse sal vinnig in die hele stad bekend raak, en die rykes sal dan ook op dieselfde wyse deur my genees wil word. Wat moet ek aan hulle sê, as hulle van my verlang om dit te doen wat U, o Heer, my eintlik as’t ware verbied het?”

[10] EK sê: “Wel, stel dan die voorwaarde aan hulle, wat hulle, wanneer hulle genees is, vir jou en die armes moet nakom! Gaan hulle vreugdevol en gewillig op die voorwaarde in, lê hulle dan ook jou hande op; doen hulle dit egter nie, laat hulle dan siek bly en gee aan hulle medisyne soos hulle dit wil hê en wil neem! - Is jy nou daarmee tevrede?” 

[11] Die arts sê: “O liewe Heer, volkome! Maar nou het ek nog `n ander vraag, naamlik: Hoe en waarmee kan ek U my dankbaarheid daarvoor toon? Ek is weliswaar nie ryk nie en nou wel die allerminste, noudat my kollegas, wat gister verdwyn het, my sekerlik nie baie agtergelaat het nie; maar nogtans wil ek die beste doen wat in my vermoë is! Majesteit en Heer, ek smeek U, vra my tog een of ander vergoeding of `n offer!”

[12] EK sê: “Laat dit daar; want niemand ter wêreld kan My iets gee wat hy nie eers van God ontvang het nie, en dus ook nie jy nie! Maar leef volgens die leer wat aan julle almal hier gegee is, en jy moet God liefhê bo alles en jou naaste soos jouself, en hou die bekende gebooie van Moses en leer dit ook aan die Grieke, dan skenk jy My die beste en waardevolste offer! En ook alle ander mense moet dit doen, dan sal hulle lewe in die waarheid en in die barmhartigheid van God, die Skepper en Vader van alle mense!

[13] As Ek van die mense, aan wie Ek goed doen, geld sou wou aanneem, sou Ek regstreeks teen Myself getuig, en sou Ek nie die Een wees wat Ek is nie; want as Ek aan julle skatte uit die hemele bring en gee, omdat Ek die mag daartoe het, kan Ek My nie met dooie materie daarvoor laat betaal nie. Julle mense kan dit egter wel met mate en doelgerig doen; want ook Moses het voorgeskryf dat priesters en rigters deur die volk gevoed en onderhou moet word, en die tiende deel van alles moet kry wat geoes word op die akkers en in die wynberge en ook van die huisdiere. Maar Ek en My studente sal dit nie nodig hê nie; want wie lewensmeester word soos wat Ek is, sal daarna nie hierdie middele vir sy onderhoud nodig hê nie. Waar hulle ookal sal heengaan, alles wat hulle nodig het, sal aan hulle van bo gegee word. Want al die goeie wat julle die Vader in die hemel in My Naam sal vra, sal Hy sonder voorbehoud aan julle gee.”  


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205