|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 213
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249. |
|
|
Die onwetendheid van die Fariseër oor die son en die sondvloed
213 Die Romein sê: 'Ek weet wel dat jy en waarskynlik baie van jou soortgenote nie in `n God glo nie, maar die volk tog dwing om in julle te glo, en dat julle maar net allerlei wette voorskryf wat vir julle self voordeel bring! Maar nou gaan dit nie daaroor nie; die voorwaarde van die weddenskap moet nagekom word! As jy dus beslis geen vrae meer uit die Skrifte wil hê nie, dan sal ons dadelik ander vrae stel. Hier kom dus die vierde vraag!
[2] Vertel eers wat die son nou eintlik is!
[3] Kyk, dit is `n baie natuurlike vraag! Beantwoord dit, - maar korrek en waaragtig!'
[4] Die Fariseër sê: 'Dit is tog `n belaglike vraag! Wie kan dit weet? So `n vraag kan jy wel aan `n God stel, maar nie aan `n mens nie! Wie was dan by of selfs op die son gewees om te kan sê wat die son as sodanig is?! Ons mense kan slegs dit oor hom sê wat ons daarvan sien en waarneem.
[5] Hy bestaan uit `n taamlike groot, baie sterk liggewende skyf, en sy groot ligsterkte verwek warmte en selfs, soos wat dit wel eens in die groot woestyn van Egipte was, `n sodanige hitte dat klippe kan smelt. Verder gaan die son op en onder, wat op aarde dag en nag veroorsaak. Dan gaan hy reëlmatig in die winter in die suide laer en in die somer weer verder na die noorde hoër op, en die wisseling veroorsaak die jaar en die vier jaargetye. Tewens veroorsaak die lig van die son, na gelang van die gradasie van die lig en die warmte, die groei van die plante en die geboorte van tallose talle insekte. Soms word hy verduister, wat egter selde voorkom. Hoe so `n verduistering veroorsaak word, sal geen mens op die hele aarde weet nie, ewemin waar hy homself snags bevind.
[6] Kyk, dit is dan ook alles wat ons mense van die son weet en kan weet, en meer kan ek jou daarom ook nie vertel nie! Dat hy inwendig waarskynlik uit `n groot vuur sal bestaan, laat hulle ten dele vermoed uit die feit, dat sy lig so ver weg nog so `n groot warmte versprei; maar daarby is dit baie vreemd dat dit op die hoë berge altyd baie kouer is as hier benede, hoewel die hoë bergtoppe nader aan die son staan as die dal. Meer of nog nadere gegewens het ons mense - soos wat reeds gesê is - nie oor die hemelsterre nie. - Het jy op die antwoord ook iets aan te merk?'
[7] Die Romein sê: 'O, meer as genoeg! Want wat jy daar gesê het, weet elke gewone dagloner wat geen skrifgeleerde is nie, en wie se wysheid, net soos die van jou, nie baie voorstel nie en sonder dat hy homself deur die volk laat aanbid, anders as wat julle dit van die volk vereis. Waarom is ons Romeine, en alle leerlinge van ons groot Heer en Leraar, dan so presies van hierdie dinge op die hoogte en waarom jy nie? Kyk, dit gebeur omdat jy in geen God glo nie, soos wat die meeste van jou soort is! Kom daar egter iemand wat julle baie sou kon leer, dan vervolg julle hom dadelik met alle mag; want julle is bang dat sy groot wysheid die aansien van julle ou verroeste domheid baie sou verminder. En daarom wil julle self niks hoërs leer en te wete kom nie, en laat julle dit ook nie toe dat julle stokblinde aanhangers dit leer en te wete te kom nie. Om die rede is julle self egter ook dubbel strafbaar.
[8] Wie in geen God glo nie, is duidelik `n goddelose. Sonder God is die siel egter duister en so goed as dood, en sien en hoor niks van alles wat God alles volledig volgens waarheid in haar gees ingeskape het nie. Die van God besielde en verligte mens sien egter alles en verstaan ook alles. Hy kan daarom ook die son en die maan, die sterre en die hele aarde so in homself bekyk asof hy self daar was. En as hy dit gedoen het, weet hy dus ook wat die son is en hoe hy daaruit sien en ewe-eens al die ander.
[9] Ek en talle ander wat ook hier is, val die barmhartigheid ten deel; daarom weet ons nou ook almal wat die maan, wat die son en wat die sterre is. Omdat jy dit nie weet nie en nog nie eens soveel weet as wat die Essene weet nie, wat ons Romeine baie goed ken, daarom het jy ook hierdie vierde vraag baie ontoereikend en onwaar beantwoord. As jy jou daarvan self wil oortuig, het ons wel middele om jou ook daarvan te oortuig.'
[10] Die Fariseër sê: 'O, dit hoef nie! Want mense soos julle, wat heeltemal ingewy is in alle magie en toordery, sou my nog ver bo die wolke in die son kon intoor, - en vir so `n lugreis is ek niks lus nie! Ek gee my al gewonne en gee toe dat ek ook hierdie vierde vraag bykans nie beantwoord het nie. Stel my dus maar die vyfde vraag!'
[11] Die Romein sê: 'Dit sal met alle vrae wel so met jou gaan! Dat jy nie baie van die hemel af weet nie, het ek al gesien; miskien gaan dit met jou op hierdie aarde beter!
[12] Wat weet jy van die sondvloed van Noag af? Was dit algemeen of slegs van plaaslike aard? Het Noag wel van elke diersoort `n paar in sy ark saamgeneem? Hoe het hy saam met sy familie die groot aantal diere gevoer? Waar het hy vir die verskeurende diere die vleis en vir die viseters die vis vandaan gekry? Waarvan het die roofdiere naderhand geleef, toe Noag weer uit die ark uitgegaan het? Want toe was die aarde nog woes en eensaam en nêrens was daar `n skaap- of varkkudde wat as voedsel vir die leeu, die tier, die hiëna, die wolf ensovoorts kon dien nie. Die water moes in die algemeen nog baie hoër as selfs die hoogste berge op aarde gestaan het. Waarheen het dit uiteindelik heen gestroom, as die hele aarde orals self hoog onder water gestaan het?
[13] Gee my eers `n redelike antwoord daarop! Want dit is selfs vir my iets ongelooflik, en ek kan beslis niks wys word daaruit nie. Miskien kan jy my op jou manier `n bevredigende uitleg gee? Praat!'
[14] Heeltemal verbouereerd sê die Fariseër: 'Vriendjie, jy vra my iets wat jy self nie skyn te verstaan nie! Wat doen jy dan as ek dit aan jou sou vra?'
[15] Die Romein sê: 'Dan sal jy niks verloor nie! Of ek egter hierdie saak self net so min verstaan as jy, is `n ander vraag, en dit sal later nog wel blyk. Nou is jy aan die beurt om iets te sê!'
[16] Die Fariseër vervolg: 'Ja, my vriend, oor die baie mistieke punt uit die boek van Moses is ook weer nie soveel te sê en uit te lê nie! Want hierdie saak is, soos wat ons dit met ons eie verstand beoordeel het, oor die geheel geneem, `n volkome teennatuurlike onsin. Ons het geen ander historiese gegewens daaroor nie en dit beteken dus: Óf om die onsin te glo soos wat dit gegee is, en daarby in die tyd aan `n baie grillerige almag van God as groot helper te dink - óf die hele ou kraam oorboord te gooi!
[17] Die boek praat van `n baie algemene vloed, wat volgens ons beter bekende natuurwette tog steeds volkome onmoontlik is. As jy dit vir die ou Indiërs vra, wat nog ouer boeke besit as ons, dan ken hulle glad nie `n sondvloed van Noag nie. Maar wel sê hulle dat `n groot stertster talle duisende jare gelede baie naby die aarde gekom het. En die ster het suiwer uit water bestaan, en die aarde het die water na hom toe aangetrek. Daardeur was `n groot deel van die vlakte in Indië onder water geplaas, wat eers baie geleidelik in die groot Indiese oseaan verdwyn het. In die tyd het alles verdrink wat in die dale gewoon het; mense en diere. Diegene wat op die berge gewoon het, het dit opgeskrywe, om dit deur te gee aan hulle kinders en kindskinders. Dit is `n Indiese en ook `n Persiese sage.
[18] Die ou Egiptenare ken, behalwe die oorstroming van die Nyl, geen enkele ander vloed nie. Slegs sommige More sê dat daar waar die groot Saharawoesyn nou lê, eens water gestaan het en dat dit `n groot meer was.
[19] Ook het ons teruggekeerde apostels vertel van `n groot ryk aan die uiterste ooste van Asië, aan die ander kant van die groot muur, en hulle het met die wagters in die Indiese taal gepraat. Hulle het ook vrae oor die groot sondvloed gestel, en of die muur voor of na die algemene vloed gebou was. Maar die gemoedelike wagters kon hulle wel baie oor groot bergbrande vertel, maar oor so `n groot watervloed het niemand iets geweet nie. Hierdie kennis het ons deur allerlei ervaringe opgedoen. Dit is daarom baie moeilik om aan `n algemene sondvloed te dink, laat staan nog te glo.
[20] Julle Romeine praat in julle godeleer ook terstond van twee groot oorstromings: Die Ogygische (obskure antieke tyd: vertaler) en die van Deucalion (Noagitiese vloed) en Pyrrha. (Filosofiese twyfel). Of dit egter plaasgevind het of nie, kon nóg ons Judeërs, nóg julle Romeine beoordeel en weet. Maar as die sondvloed van Noag nie as `n algemene oorstroming gesien moet word nie, dan verval ook die ark en al die ander dinge.
[21] Die beeld van die vloed van Noag het beslis `n baie ander betekenis as maar net dit, - wat nie geloofwaardig is nie omdat soveel ander feite daarteen spreek. Maar wie het die sleutel daarvoor? - Uit dit alles blyk dus wel dat ek jou daaroor ook geen verstandige antwoord kan gee nie, en jou vraag is dus bykans nie beantwoord nie, maar terdeë verontskuldig’.
[22] Die Romein sê: 'Ja, dit het ek baie goed uit jou woorde verstaan; en dit beteken net mooi niks vir my nie, en ek sien by jou as priester steeds maar die onaangename, dat jy van die mense onvoorwaardelike geloof vereis vir dinge wat jy self as baarlike onsin uitmaak. Maar ek sê vir jou dat hierdie verhewe Heer en Leraar van ons, jou presies en glashelder sal kan vertel hoe die vurk in die hef steek met die sondvloed van Noag; maar omdat jy nie aan `n God glo en nog minder aan die suiwer goddelike sending van hierdie Elohimmens nie, sal jy nog steeds in die nag van die oordeel van jou siel bly! Met die beantwoording van my vyfde vraag is dit dus ook bykans nul! Dus gaan ons oor na die sesde vraag! Miskien het jy meer geluk daarmee!'
|
|
|
|
|