|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 78
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249. |
|
|
`n Gesprek tussen die herbergier en die owerste oor die Heer
78 Teen die aand het ons weer teruggegaan en toe ons in die huis kom, was daar ook alreeds `n oorvloedige aandete vir ons berei, en `n bode van die owerste wat die twee edelvisse as geskenk ontvang het, het op die herbergier gewag om die dank van die owerste en `n mandjie vol vars eiers, wat deur die groot hoenders van die owerste gelê was, aan hom oor te bring.
[2] Die herbergier het hom daarvoor bedank en gesê: “As ek weer so `n vis vang, sal ek weer aan die owerste dink.”
[3] Toe het die bode egter gesê: “Dit sal die owerste sekerlik baie vreugde verskaf, maar hy het gehoor dat die berugte profeet uit Nasaret na bewering tydelik hier vertoef. Die owerste sou self graag met u daaroor wil praat, en daarom sou u hom ook `n groot vreugde verskaf as u na hom toe wou kom om hom presies daaroor in te lig. Wanneer kan u kom? Bepaal u maar self die tyd!”
[4] Die herbergier sê: “My liewe vriend, wees nog `n paar oomblikke geduldig! Ek moet nog eers `n vriend gaan raadpleeg oor die tyd wat ons nodig het vir `n afspraak wat ek vanaf môre vir `n paar dae met hom het, - daarna sal ek wel kom om die owerste korrek in te lig oor die seldsame, wonderbaarlike mens uit Nasaret, wat volgens my mening baie goed aan my bekend is.”
[5] Daarop het die herbergier na My toe in ons eetkamer gekom en My gevra wat hy nou moes doen.
[6] Maar EK sê: “Gaan vandag nog na hom toe, hoewel dit alreeds aand is, en sê dat Ek hier is en hier sal bly solank dit My behaag. Wie egter iets teen My mag hê, moet kom en dit persoonlik met My self kom afhandel. Want Ek gee Self oor Myself rekenskap en verder niemand in die hele wêreld nie. Gaan nou en sê dit aan hom, en hy sal met hierdie inligting volkome tevrede wees! Maar vertel hom verder nie veel oor My nie!”
[7] Met hierdie advies het die herbergier vinnig na die bode uitgegaan en met hom ook vinnig na die owerste gegaan, wat juis nie baie ver van die herbergier vandaan gewoon het nie, weliswaar binne die stadsmure.
[8] Toe ons herbergier by die owerste gekom het, was hy bly, omdat hy baie graag wou geweet het hoe dit met My gesteld was. Na `n wedersydse vriendelike begroeting het die owerste dadelik gevra wat daar van waar was dat mense gesê het dat die berugte profeet by hom, naamlik die herbergier, vertoef het en daar met sy angswekkende dinge besig was.
[9] Die herbergier sê, wat Ek hom tevore in die mond gelê het om te sê.
[10] Daarop het die owerste `n nors gesig getrek en hy sê: “Maar hoe kan u as bekende persoon en herbergier nou iemand wat alreeds algemeen vervolg word, in u huis herberg?”
[11] Die herbergier sê: “Dit is as gasheer en herbergier my plig; want ek mag die deure van my huis vir niemand sluit nie, wie hy ook is en waar hy ook vandaan kom. Ek het nie eers die reg om `n dief en `n rower daar uit te gooi en hom te vra wat hy van plan is om daar te doen nie, omdat `n regte herberg ook deur hom gerespekteer word. Bowendien is my herberg `n vry plek, waarin sewe volle dae lank selfs geen misdadiger gegryp en voor die gereg gebring mag word volgens die wette van Rome nie. Waarom sou ek dan, gesien hierdie omstandighede, die beroemdste man wat die wêreld ooit gehad het, geen herberg gee nie, omdat Hy ten eerste nooit iemand iets skuldig gebly het nie en ten tweede die allervriendelikste en beste mens is wat ek ooit êrens ontmoet het?!
[12] Bowendien het Hy in elk geval op die Sabbat in die skool gepreek. As u iets teen Hom gehad het, sou dit immers daar die regte plek gewees het om Hom te gryp en rekenskap van Hom te vra! Ek as herbergier het geen reg daartoe nie. Hy is nou egter nog by my; as u iets teen Hom het, dan staan dit u, net soos elke ander mens, heeltemal vry om self daarheen te gaan en met Hom te praat. Want Hy het uitdruklik aan my gesê, dat niemand in die hele wêreld vir Hom rekenskap hoef af te lê nie; omdat Hy heeltemal net vir Homself instaan, en vir sover ek uit ervaring weet, vir niemand terugskrik en vir geen mens bang is nie. Maar wel sou alle mense Hom moet vrees, want die mag van Sy wil is oneindig. Wat Hy maar wil, gebeur en is daar.
[13] Of het Hy dalk nie die vorige jaar die dogter van u voorganger, Jaïrus, uit die dood weer tot lewe gewek nie, iets wat u tog sekerlik goed sal weet?! En daarom is Hy `n ware weldoener van die mense, ook al is Hy in Homself ook ondeurgrondelik. Waarom sou ek dan so iemand nie herberg solank Hy by my wil herberg neem nie?!”
[14] Die owerste sê: “U is in u reg, dit weet ek baie goed, en niemand kan u iets in die weg lê nie. Maar laat u nie wegvoer deur van Hom te glo dat hy die beloofde Messias van die Judeërs is nie! Want Hy versprei sulke godslasterlike leringe onder die volk, en ek weet maar al te goed dat `n baie groot aantal mense van die volk nou alreeds in Hom glo, omdat Hy Sy leer met allerlei toorkunste bevestig, wat Hy vir die grootste deel vas en seker met die hulp van Beëlsebul bewerkstellig. Dit is al wat ek eintlik aan u wou sê, en dit was vir my daarom baie aangenaam dat u vandag nog na my toe gekom het.”
[15] Die herbergier sê: “Waarlik, daarvoor was dit tog nie nodig om my hier na u te laat roep nie! Want ek is tog self `n mens van ervaring in die wêreld en kan baie goed beoordeel of iets vals of eg is! Ons almal ken hierdie wonderbaarlike mens byna vanaf Sy geboorte en ons ken Sy ouers, mense wat altyd streng volgens die wette geleef en gehandel het en derhalwe ware voorbeelde van gehoorsaamheid aan God en al Sy instellings was. Maar hoe sou hierdie een dan, met sulke ouers, en wel volgens die getuienis van Josef, die vrome timmerman, wie se gelowigste, mees welopgevoede en gehoorsaamste seun met Beëlsebul in verbinding staan en Sy werklik Goddelike wonderwerke met sy totaal onbeduidende hulp verrig?!
[16] Wie `n volkome geldige oordeel oor Hom wil gee, moet moeite doen om Hom van alle kante en onder alle omstandighede te leer ken; dan eers kan hy met reg sê en beweer: “Die persoon is sus en so!” Dit is so my mening. Maar om `n mens dadelik te verdoem sonder om hom self beter te leer ken, vind ek heeltemal onvanpas vir regterlike, en nog baie minder vir priesterlike wysheid. Dit verbaas my van u dat u, soos wat ou boosaardige vroue dit doen, maar net van hoorsê oordeel oor iemand wat u nog nooit gesien en mee gepraat het nie. Gaan praat self met Hom, - en oordeel dan eers oor Hom!'
[17] Daarop het die owerste niks meer geweet om te sê nie en hy het by homself nagedink oor wat hy sou doen.
[18] Eers na `n oomblik het hy (die owerste) gesê: “U het weliswaar gelyk, en as ek geen owerste was nie, sou ek waarskynlik netso daaroor gedink het soos u; maar ek is hier owerste en moet volgens my plig handel. Teenoor iemand soos u dink en gedra ek my egter nie soos `n owerste nie, maar as mens. Sou ek egter meer met die tempel verbonde gewees het as nou, dan sou ek volgens die opdrag van die tempel die mens moes gegryp en Hom aan Jerusalem moes uitlewer. Omdat ek egter meer mens as owerste is, laat ek Hom selfs in die skool preek en gaan self nie daarheen nie, om dit die skyn te gee dat ek niks daarvan geweet het nie. Maar die Nasarener, wat andersins na bewering baie verstandig en wys is, het blykbaar `n baie raaiselagtige en vir niemand begryplike toespraak gehou en het uiteindelik byna alleen in die skool oorgebly. Nou, as ek my vry kan maak, dan kom ek môre of oormôre `n slag daarheen; want ek wil Hom minstens tog wel sien!”
[19] Daarop sê die herbergier: “Doen u dit; ek staan daarvoor in dat u geen spyt daaroor sal hê nie!”
[20] Toe het die herbergier afskeid geneem en het weldra weer na ons toe gekom en aan My vertel wat hy met die owerste gepraat het.
[21] En EK sê aan hom: “Jy het baie goed gepraat omdat Ek immers Self die woorde in jou mond gelê het; maar desondanks bly die owerste nogtans tempeldienaar, en as hy `n nuwe aansporing van Jerusalem sou kry om My te vervolg, dan sou hy dit met volle ywer doen. Maar so sonder aansporing is hy baie op sy gemak gestel en laat hy ons gaan en doen wat ons maar as’t ware wil. Of hy egter om My ontwil hierheen sal kom, is `n vraag wat moeilik te beantwoord is; want as die owerste môre sal wakker word, sal hy dit wat jy met hom bespreek het, nouliks meer kan herinner. - Maar laat ons nou gaan rus, want die berg het ons ledemate moeg gemaak!”
[22] Daarop het almal van hul sitplekke af opgestaan en hulle na hul toegekende slaapvertrekke begeef, wat by ons herberg baie goed ingerig was.
[23] Daarna het Ek nog twee volle dae daar vertoef, waartydens daar egter niks van enige belang gebeur het nie. Maar op die oggend van die derde dag het Ek met die studente en met die herbergier na buite gegaan en die see tot kalmte gebied. En dadelik het die golwe bedaar, en die vissers het alreeds gou daarna ylings aan die werk gegaan, omdat hulle tog in elk geval alreeds vyf dae lank moes rus, wat hulle bepaald ook nie juis geskaad het nie.
|
|
|
|
|