Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 149

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

`n Voorspelling van die Heer oor ons hedendaagse tyd. Die noodsaak van goddelike openbaringe

149 Ek sê: 'Vriend, soos wat dit nou is, sal dit oor ongeveer tweeduisend jaar weer wees, en die aanloop daartoe sal al baie vroeër begin! In ons tyd is die Judeërdom baie erger as die heidendom - want die heidene gebruik tenminste nog hulle verstand, terwyl dit by die Judeërs met die voete vertrap word; - maar in dié tyd sal My leer, dus die Christendom, erger wees as die Judeërdom en die heidendom tesame. Daar sal dan groot geestelike nood onder die mense wees.

[2] Die lig van die ware, lewende geloof sal uitgedoof wees en die liefde sal volledig verkil. Die hoogmoed van die welgestelde mense sal alle grense te buite gaan, en die heersers en priesters sal hulle nog baie belangriker waan as wat die onbekende JaHWeH nou vir die Judeërs is en Zeus vir die heidene.

[3] Maar ook dan sal Ek van tyd tot tyd manne en maagde opwek en hulle die korrekte lig gee, en die lig sal steeds sterker en kragtiger word, en uiteindelik alle werke van die groot hoer van Babel (Babilon) verswelg. Verwonder jou dus nie dat dit nou so is nie; want dit was al dikwels so en erger, en dit sal eers nog erger word.

[4] Die wêreld sal altyd wêreld bly, maar tog sal Ek Myne steeds lei, en My oordeel oor die wêreld laat kom wanneer hulle so sleg geword het dat daar naas alle wêreldse dinge, geen vonkie van die ware lewenslig uit God meer kan bestaan nie.

[5] Nou is weer so `n punt bereik dat, sonder Johannes en sonder My, in die hele Judese land elke vonk van die ware Elohimskennis sou verstik het, en daarom moes Ek Self as mens na hierdie wêreld toe kom om alle mense met goeie wil, die verlore lewenslig terug te gee, en om opnuut aan hulle die weë na die ware kennis van God te toon. Daar sal weliswaar nog dikwels `n stryd wees tussen My kinders en die wêreldse kinders, omdat die aantal wat aan My behoort, op die aarde steeds kleiner sal word as die aantal wêreldse kinders; maar uiteindelik sal Myne tog oor die hele wêreld seëvier, en geen skade sal meer aan hulle berokken kan word nie. Want ook al vind julle alle materie nou nog so hard en onverwoesbaar, dit sal uiteindelik tog moet wyk voor die mag van die Gees.

[6] Maar slegs God is Heer oor alles, en Hy weet die beste wat, hoe, en waarom Hy die een en ander toelaat en verorden, en daarnaas die Ware Lig oor die mense uitgiet en dit in alle erns by Sy kinders in stand hou, sodat niemand kan sê: 'As daar `n alwyse God sou wees, wat alles wat die eindelose ruimte vul, geskape het, dan moes Hy tog wel soveel insig, verenig met liefde gehad het, dat Hy Hom aan Sy verstandige en denkende skepsele, wat tog mense is, tenminste in soverre sou openbaar en laat sien het, dat hulle daaruit sou kon uitmaak dat Hy die ware grond van alle dinge is en wat die mense van Hom kan verwag, en hoe hulle moet lewe om die verwagting te realiseer!'

[7] As God Hom glad op geen enkele wyse sou wou openbaar nie, sou die mense ook volkome die reg gehad het om aan geen enkele god te glo nie, en elke mens wat sou beweer dat daar tog `n god of wel meer onsigbare gode sou wees, neer te slaan en te sê: 'Wat het ons te doen met jou dwase fantasiegod?! As daar een is, laat hy hom dan sigbaar maak en ons vertel wat hy met ons wil doen! As hy dit nie wil doen nie, dan bestaan hy in werklikheid ook nêrens anders nie as maar net in die bederfde fantasie van `n dwase leegloper!

[8] `n God wat volledig van Homself bewus sou wees as die sentrale punt van alle Wysheid en Mag, sou met die mense, as sy volmaaktste skepsels, in soverre hy tog wel redelik rekening gehou het dat Hy Homself vroeër of later aan hulle sou openbaar en hulle sou toon waarom Hy daar is en wat Hy uiteindelik verder met hulle sou wil doen. As dit egter nie die geval is nie, en as daar nie een of ook meer kere volledig na waarheid aangetoon kan word dat Hy daar is nie, dan bestaan Hy ook nie, en dan verdien hulle, wat oor `n goddelike bestaan praat en skryf, om baie swaar gestraf te word.

[9] Want dit is voldoende dat die, met alle verstand en insig begaafde en van homself maar al te duidelik bewuste mens, alle ten hemel skreiende probleme van die deur hom buite sy skuld verkreë lewe moet dra, laat staan dat hy hom vir niks en niemand deur `n nêrens bestaande God bepaalde harde en teen elke natuur ingaande wette moet laat voorskryf nie. Want `n God, wat hom maar net by monde van `n gek en arbeidsku dwaas aan ons mense kan en wil openbaar, is óf niks anders as `n hersenskim van die genoemde dwaas, óf hy bestaan maar net uit die een of ander ruwe, dom, blinde krag, met so `n geringe selfbewussyn en verstand, dat hy, as hy nie uitgelag wil word nie, hom maar net baie stilletjies heimlik aan `n dom, nikswetende en niksbegrypende, liggelowige dwaas durf kenbaar maak.'

[10] Kyk, elke verstandige mens sou geregtig gewees het om so oor die godheid te dink, indien die godheid homself maar net, en nie anders aan die mense sou laat sien en openbaar, as deur middel van lui en waardelose priesters nie!

[11] Maar as ons teruggaan tot op Adam, dan sal ons tydruimtes ontdek, wat baie kort op mekaar volg, waarin God Homself aan duisendmaal duisend mense, sekerlik wel op die mees gedenkwaardige wyse geopenbaar het, en aan hulle Sy wil en Sy wyse doel met die mense meegedeel het; maar omdat die mens, as aan hom sy vrye wil nie gelaat word nie, heeltemal geen mens sou wees nie, doen hy ook met die goddelike woord presies wat hy met die menslike woord doen.

[12] `n Klein deeltjie van die mense hou vir `n tydlank nog rekening daarmee; maar die grootste deel vergeet dit gou-gou totaal, en beskou uiteindelik alles as waardelose bedenksels en `n gekwetter van mense, geniet met volle teue van die wêreldse vreugde en beskou die wyses as dwase en dwepers, wat ter wille van `n baie onsekere en onaanwysbare hemelryk aan die ander kant, die ware hemelryk van hierdie aarde met hulle voete vertrap.

[13] Deur sulke opvattinge gaan die geloof in `n ware God dan aan die een kant wel onherroeplik verlore, en dit te meer omdat aan die anderkant, die lui priesterstand deur hulle selfsugtige vervalsing van die geopenbaarde woord van God, die nugter en volwasse denkende mense mettertyd tog die oë moet laat open vir die feit dat so `n geopenbaarde wil van God, selfs vir die domste mens op aarde nog te dom moet wees. Die leer bestaan uit louter onbegryplike geheime, wat egter deur die blinde mensdom tog as heilig beskou moet word omdat hy homself veels te onwaardig beskou om sulke groot, diep en heilige geheime ooit te kan verstaan.

[14] Of is dit dalk vandag anders? Gaan die dom, blinde volk nie na die tempel om die Skrif te aanbid nie? Maar van dit wat daarin staan, weet hulle weinig of niks nie, en hulle het ook geen behoefte om iets daarvan te weet nie, want hulle stel hulleself volkome tevrede daarmee dat die heilige priester van God dit verstaan, en dat die gewone mens niks anders nodig het as wat die priester hom vertel nie, en om te doen wat die priester wil hê nie; want die priester weet verseker wel waarom.

[15] Maar as die mensdom altyd so met die geopenbaarde woord en die wil van God omgegaan het, is dit tog geen wonder dat die mense al binne honderd jaar, na watter geweldige openbaring van die waarheid dan ook, nouliks méér weet en glo as slapende kinders weet van dit wat hulle in hulle wakker toestand gedoen het nie?! Desondanks hou God egter nooit op om Homself op die mees verskillende wyses so te openbaar, dat die mens by enige nadenke dadelik kan vasstel dat dit daarby nie op `n natuurlike wyse gegee is nie.'


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205