|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 141
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249. |
|
|
Die mislukte aanval van die owerste van die sinagoge
141 Op `n dag kom die reeds bekende owerste van die sinagoge met sy Fariseërs en Skrifgeleerdes by Matthias aan en eis om met My te praat, omdat hulle gehoor het dat Ek en My leerlinge opnuut hier verblyf gehad het. Want hulle het uitdruklik van Jerusalem bevel gekry om noukeurige inligting oor hierdie Nasarener in te win, oor wat hy doen en waarmee hy nou besig was. Ja, hulle moes hom selfs gryp en hetsy dood of lewend aan Jerusalem uitlewer.
[2] Toe sê Matthias: 'Meneer, Hy woon by my, maar ek raai u aan om ook nie die geringste teen Hom te onderneem nie - want dan is u met al u helpers reddeloos verlore!'
[3] Die owerste sê: 'Vergeet nooit dat sy toordery niks aan die heilige priesters van God kan doen nie!'
[4] Matthias sê: 'Goed, - daar in die groot kamer bly Hy met al Sy leerlinge en Hy sit juis aan vir die middagete! Gaan na binne en praat maar self met Hom!'
[5] Toe gaan die owerste na die toe deur en bons geweldig hard met sy vuiste daarop.
[6] En Ek sê vir die reus: 'Laat hom binne en praat jy met hom, want Ek ag hom geen woord waardig nie!'
[7] Toe maak die reus die deur oop en brul op die owerste: 'Kom maar binne, allerellendigste booswigte en skurke! Julle mooi plan is reeds lankal aan ons bekend, en ons het juis hierheen gekom om dit uit julle drakemonde te hoor. Dus na binne, julle wilde nag- en moerasdiere, en praat, sodat die gereg nie te lank opgehou word om julle na verdienste te verpletter nie!'
[8] Hierdie woorde maak op die owerste en sy soortgenote so `n indruk dat hulle begin te bewe en geeneen van hulle in staat was om ook maar iets te sê nie. Hulle het die reus as `n Romeinse vise-diktator beskou, wat - deur die keiser met alle mag toegerus was – en wat alle Judeërs oor die afgrond wou jaag. Terwyl hierdie besoekers vol vrees en skrik voor die geopende deur gestaan het, begin die agterstes sigbaar aanstaltes te maak om vandaar af weg te gaan.
[9] Toe roep die reus met `n donderende stem op die herbergier: 'Sluit alle deure goed af, sodat geeneen van hierdie onmense my kan ontkom nie!'
[10] Nouliks het die reus dit gebrul, of die herbergier het te min tyd om die deure dig te maak; want hierdie sin gee die voete van die ondersoekers buitengewone vleuels, sodat hulle halsoorkop vandaar af vlug.
[11] Maar die reus spring na die owerste en gryp hom dadelik aan sy jas, tel hom soos `n veertjie in die lug op en vra hom toe wat hy wou hê.
[12] Die oweste sê bewend en bibberend: 'Heer, meester, ek wou maar net in opdrag van Jerusalem met die Profeet praat, en toe kom u, `n vreeswekkende persoon, vir my, die owerste van die sinagoge van hierdie plek, so skrikaanjaend tegemoet, - en daarom kon ek nie met Hom praat nie!'
[13] Die reus sê: 'Ellendige skurk, jy is dit ook ewig nooit werd om hierdie ware Elohimmens ook maar op tienduisend treë te nader nie, laat staan om met Hom te praat! Ek weet presies wat die ellendige skurke in Jerusalem en jy en jou kwaadaardige handlangers teen die hoogste verhewe Elohimmens het. Wee julle, as julle dit ooit sou waag om Hom met julle Beëlsebul-kloue aan te raak! Dan sal julle die groot Romein leer ken!' - Daarop plaas hy die owerste weer op die grond en sê toe nog vir hom: 'Het hierdie suiwere, almagtige Elohimmens dan nog geen tekens hier by julle gedoen nie, sodat julle kan glo dat Hy dieselfde Messias is waarvan al julle profete voorspel het dat Hy juis in hierdie tyd en in hierdie land ter wêreld sou kom om die mense van die ewige dood te verlos nie? Praat, ellendeling!'
[14] Die owerste sê: 'Natuurlik wel, het Hy maar al te veel tekens gedoen, sodat alle mense hom naloop en ons, die ou priesters wat ook deur God aangestel is, die rug toekeer, en dit is nou juis die rede waarom die hoëpriesters in Jerusalem hom so vyandiggesind is! Ons is egter na gelang van Jerusalem en moet doen wat Jerusalem ons voorskryf.'
[15] Die reus sê: 'Hoe kom dit dan, dat alle heidene uit die stede langs die Eufraat bykans slegs vanweë Sy verhewe leer aanhangers van Hom geword het, en dat hulle wat Hom volg ook dadelik die beskikking kry oor die een of ander suiwer goddelike krag?! `n Dokter in Serrhe het die wonderbaarlike gawe gekry om al sy siekes slegs deur die geloof in die almagtige Naam van hierdie Elohimmens so te genees - en wel in één enkele oomblik, - dat die sieke daarna so gesond is asof hy nooit iets makeer het nie. Ja, selfs dooie mense kry weer `n nuwe lewe en is dan so fris en gesond soos `n sorgelose bokkie in die hooggebergte! As die heidene dit egter kan doen en insien, waarom dan nie julle Judeërs nie, waarvan tog geskryf staan dat hulle die uitverkore volk van God is? Ek sê julle egter in die Naam van die hoogste verhewe Elohimmens: Julle kan dit nie omdat julle al van julle geboorte af aan ondergeskikte kinders van Beëlsebul is en daarom die mees deurtrapte vyande van God is. As julle dit egter ontken, verdien julle nie beter as om heeltemal van hierdie aardbodem af verdelg te word nie.'
[16] Toe die owerste dit van die reus hoor begin hy te smeek en allerlei dinge te belowe. Daarop laat die reus hom onder allerlei dreigemente gaan en kom toe weer in huis terug.
[17] Maar die herbergier hou sy hart vas, omdat hy die groot wraaksug van die owerste geken het.
[18] Maar die reus sê vir hom: 'Maak jou maar nie bekommerd nie en vertrou op die mag van Hom, wat dooies opwek, berge verplaas en yster afgodsbeelde deur Sy wil vernietig! Ek sê jou: honderd legioene van sulke skurke maak my nog nie bang nie, laat staan hierdie een!'
[19] Toe sê die herbergier, ietwat meer gerusgestel: 'Ja, ja, jy het heeltemal gelyk! Wat myself betref, ek is ook nie bang vir hulle nie, en self het ek sekerlik die grootste vertroue in die Heer, wat ek al vanaf Sy prilste jeug ken net soos Sy aardse ouers, omdat Hy as sagmoedige seun al dinge gedoen het wat maar net vir God moontlik is; maar ek is maar net ietwat bekommerd oor julle, my baie gewaardeerde gaste, dat julle daarvoor hier in Kapernaum onaangenaam deur hierdie booswigte bejeën sal word! Want ek ken hierdie skurke maar al te goed!'
[20] Die reus sê: 'Laat hulle maar hierlangs kom, dan sal ek op my eentjie goed met hulle afreken! Want hierdie ellendelinge is dit immers ewig nie werd dat die Heer, die Mees Heilige van ewigheid af, hulle met Sy almagtige wil teenhou en tugtig nie!'
[21] Vervolgens kom die reus weer na ons toe, gaan aan tafel sit en vertel hoe hy in sy regverdige toorn met die springhaas van Babel omgespring het.
[22] Ek sê: 'Dit was weliswaar baie goed, en Ek het dit toegelaat dat jy die heerssugtige Fariseër so behandel, - maar ook die herbergier het gelyk: Ons sal nie so lank hoef te wag voordat hulle met `n aantal gewapende geregsdienaars hier sal wees en ons almal sal wil boei en gevange neem nie. Wat doen jy dan?'
[23] Die reus en saam met hom ook sy nie minder kragtige nege broers sê: 'Heer, leen ons dan slegs `n klein deeltjie van U almagtige barmhartigheid, dan sal ons vir altyd `n einde maak aan hulle gemene praktyke!'
[24] Ek sê: 'Wel dan, probeer dit, maar dood niemand nie!'
[25] Daarop drink hulle almal hulle bekers leeg, gaan na buite en rapporteer hulleself by die pad, elkeen gewapen met `n ware Herculesknuppel. Dit het nie baie lank geduur nie, of daar kom al `n groot groep van veertig lansknegte en geregsdienaars aan, met die kommandant en die owerste met sy handlangers daaragter.
[26] Die reus word woedend en sê vir sy broers: 'Ons laat hulle tot tien treë naderkom en dan sal ek hulle toeskreeu dat hulle moet bly staan! Doen hulle dit, dan sal ons praat, - doen hulle dit nie, dan gebruik ons ons knuppels!'
[27] Toe kom hulle tot op tien treë afstand, en die reus brul met sy vreesaanjaende stem: 'Staan stil, of julle is almal kinders van die dood!'
[28] Die Romeinse soldate aarsel en bly staan.
[29] Daarop vra die reus hulle: 'Wat wil julle hê, en wie bring julle hierheen?'
[30] Toe sê die soldate vir die tien manne, waarvan hulle gedink het dat hulle hoë Romeine was: Meneer, die owerste van die sinagoge het by die kommandant verklarings gemaak dat gevaarlike volksopruiers hulle hier ophou, en dat ons hulle moet gevange neem en onskadelik maak!'
[31] Daarop brul die reus: 'O ellendige skurk van `n owerste! Wag maar, jy sal die koningseun uit die Kaukasus leer ken wat nou Romein is! Soldate, gaan onmiddellik terug en lê die lanse neer, anders gaan dit sleg met julle afloop!'
[32] Maar hulle sê: 'Dit kan ons nie doen nie, want agter ons staan die hoofman wat die bevel voer.'
[33] Toe beveel die reus vyf van sy broers om die owerste, sy helpers en die kommandant te bemeester, terwyl hyself met die soldate sou afreken.
[34] Dit gebeur alles bliksemsnel. Die soldate word soos deur `n storm die see ingeblaas en kon hulle met moeite swemmend van `n verdrinkingsdood red.
[35] Intussen bemoei die reus hom met die owerste, gryp hom vas, hef hom omhoog en sê: 'Ellendige booswig, hou jy so jou gegewe woord?! Hierdie keer kom jy, infame leuenaar, nie meer so maklik uit my hande nie! Waar is die volksopruiers en landverraaiers? Ons het rustig daar by die herbergier gesit en ons het hier `n paar dae uitgerus omdat ons ietwat vermoeid was van die ver reis, en hierdie swarte dier gee ons aan as volksopruiers en landverraaiers! - Hoofman, waar is die see die diepste, dat ek hierdie ellendeling daarin kan slinger sodat hy daar met sekerheid aan sy einde sal kom?'
[36] Die hoofman sê: 'Vriend, laat hom los; want nou verstaan ek waaroor dit eintlik gaan! Hierdie hond wou my maar net die Verlosser uit Nasaret, wat ek baie hoog ag, laat gevange neem! O, as ek dit maar net vermoed het, sou hy heelwat anders van my te hore gekry het! Maar laat hom nou maar gaan, die res sal ek wel met hom afhandel, en ek sal hom laat sien wat dit beteken om `n Romein deur `n valse en versinde verklaring aan te stel tot `n verkeerde ampshandeling! Maar bring my nou by die Heer van my lewe!'
[37] Daarop slinger die reus die owerste nog `n keer in die lug, sodat hoor en sien bepaald vergaan, en plaas hom toe taamlik sonder ontsag op die grond neer. Toe hardloop hy met sy helpers weg en sweer by homself om vir die res van sy lewe nooit meer iets teen My te onderneem nie. Vervolgens kom die tien manne saam met die hoofman weer na My toe terug in die huis in, nadat die hoofman eers die soldate, wat uit die water geklim het, beveel om huistoe te gaan.
|
|
|
|
|