Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 214

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Oor die boek Job en oor die tempel Jabusimbil

214 (Die Romein sê) 'Sê my eers: Hoe vind jy die boek Job? Hoe beval die tweegesprek tussen God en Job jou en die tussen God en Satan? Wat dink jy daarvan, en hoe kan jy hierdie vreemde geskiedenis vir my verklaar?'

[2] Die Fariseër sê: 'Alweer so `n vraag wat deur geen enkele verstandige mens beantwoord kan word nie! Hoe vind jy dan jou Icarus, Bacchus en Orpheus? Ons Job het nooit bestaan nie, en alles is `n vrome sage, bedink deur die een of ander ou siener, wat toentertyd sy versinsel met `n sweem van `n duistere moraal so opgeskryf het soos wat hy dit self verstaan het. Ons sien daarin `n uiters opregte man aan wie God groot waarde geheg het. God laat Hom dan ten eerste deur Satan wysmaak dat ook hierdie Job sou val, as hy - Satan - hom aan die tand mag voel. God gee daarop ten tweede aan Satan die reg om die geduld van Job op die skandelikste wyse te beproef, en wel net so lank totdat die arme Job uiteindelik sy geduld verloor het en behoorlik teen God in opstand gekom het. Daarna het God hom `n segsman gestuur wat die arme Job baie skerp tereggewys het; en wanneer Job homself dan weer volledig geskik het volgens die harde wil van God, het God weer barmhartig geword.

[3] Wel, wie daarin iets wys kan ontdek van die kant van `n God af, wat baie wys moet wees, moet wel uit die tyd van hierdie baie geplaagde man stam! Ons lees hierdie geskiedenis met teësin en het dit lankal as apokrief verklaar, want in hierdie geskiedenis sit net so min waarheid en wysheid as in die van jou Atlas, wat die hele hemel voortdurend op sy skouers moet dra, en daaroor is ook geen wyse en verstandige antwoord te gee nie.'

[4] Die Romein sê: 'Nou, nou, dit gaan wel goed so by julle! Omdat julle te traag is om te soek, te dink en te leer, daarom verwerp julle liewer alles wat nie in julle lui kraam pas nie! Al met die eerste oogopslag sien ek in Job die innerlike, geestelike vorming van die mens, en julle noem dit apokrief. Word daarin nie baie duidelik getoon hoe die siel haar langsaam maar seker moet skei van alles wat wêrelds en liggaamlik is nie?

[5] `n Mens wat in alle opsigte in welstand leef, kan God maklik loof en prys, want dit gaan met hom baie goed daarby; maar vir sy siel het dit nog maar weinig waarde. Maar dan word die mens op die proef gestel hoe hy homself in die ellende en in die nood teenoor God vertoon, en deur middel van Job is daar `n heerlike beeld gegee hoe mens nie net in welstand nie, maar ook in die grootste ellende vir God moet erken, loof en prys. En so-iets noem jy oneg en dit betitel jy as sinnelose en onbegryplike kletspraatjies?! O, jy staan nog heeltemal onder in die poel van die oordeel en die dood! En jy het dus nou al ses vrae verspil! Maar daaroor praat ons nie, en ek sal jou nou as sewende vraag iets baie natuurlik en maklik vra! Luister dus!

[6] Kyk, in Opper-Egipte bestaan, nog baie goed bewaar, in `n granietberg, `n uitgekapte tempel van God! Sy naam is Ja-bu-sim-bil. Hierdie tempel - heel iets anders as die tempel in Jerusalem! - is deur die oerbewoners van die gedenkwaardigste land in die hele wêreld, dus deur die toenmalige kenners van God, met die onbeskryflikste moeite in die wêreld tot stand gebring. Voor die toegangsdeur is in sittende, dus in ewige rustende houding, die vier elemente van hierdie aarde as gepersonifieerde weergegee. Hulle kolossale weergawe moet die geweldige krag van God in die wette van die totale natuur voorstel, en in hulle rus die onveranderlike orde van die Goddelike Gees. Die binneste van hierdie tempel, `n baie ruim saal, bestaan uit drie afdelings. In die eerste staan reusagtige mensegestaltes, in die tweede mense van ons geslag, en in die derde, met verskillende tekens heeltemal op die agtergrond, weliswaar sterk verweer, staan die woordsimbole Ja-bu-sim-bil te lees. - Hoe sou jy, as skrifgeleerde, vir my die inwendige van hierdie gedenkwaardige aardse tempel uitlê? Want ek hoop dat dit nie vir jou onbekend is nie.'

[7] Die Fariseër sê: 'Ja, ja, daarvan het ek baie gehoor, en dit sal wel presies so wees soos wat jy my nou beskrywe het; maar die tempel is verskriklik oud, en wie kan sê wie die volke was wat die tempel gemaak het? Hulle tekens is vir ons onleesbaar, en wie kan presies raai wat dit beteken?! Dit lyk nie in die minste soos ons skrif nie, en sodoende is dit vir ons dood. Julle skryf van links na regs, en ons omgekeerd, en daarom kan julle die oerskrif van Egipte ook makliker lees as ons, omdat mense sê dat die ou Egiptenare ook van links na regs geskryf het. Ons skryf omgekeerd en kan daarom egter nie die ou skrif meer ontsyfer nie. Wat kan die drie sale en die vreemde groot en klein beeldhouwerke in die eerste twee sale beteken, en wat uiteindelik die derde saal met die bepaalde inskripsies, wat ons Judeërs nie kan lees nie?'

[8] Die Romein sê: 'O, julle, wat die veronderstelde kinders van God moet wees, en wat deur alle wysheid van die wêreld soos groot moeraspaddas opgeblase rondloop - asof julle die hele aarde geskape het! Dit wat voor die hand liggend is, verstaan julle nie, en tog wil julle opvoeders en leiers wees van, volgens julle Skrif, God se uitverkore volk! Niemand kan iets weggee wat hy nie het nie, maar slegs dit wat hy het! Julle besit maar net domheid en onwetendheid in alle dinge! Wat kan die arme volk dus van julle leer? Niks anders as julle onbegryplike domheid nie! Want helaas, ek het in Rome al dikwels `n baie ou spreekwoord gehoor: 'Kyk, die man is nog dommer as `n Jood!', en nou merk ek self dat dit waar is!

[9] Ons Romeine het dit nog nooit benede ons waardigheid geag om onsself van die geestelike godeleer van elke verowerde volk presies op die hoogte te stel en ons uitgebreid daaroor te laat inlig nie, en tog noem mense ons heidene, - en julle, as die volk van God, glo nie in julle groot God nie, maar verag ook nog alle ander godekennis sonder om dit ooit in die minste van naderby te ondersoek! Wat se soort mense is julle dan? Waarlik, julle is nog erger as die meeste gewone Epikuriste, wat mense geword het wat uitsluitlik maar net dink aan hulle maag en hulle buik!

[10] Kyk, ek, `n heiden vanaf my geboorte, sal jou nou sê wat die gedenkwaardige tempel by Ja-bu-sim-bil as betekenis het, wat my ook merendeels baie ander begrippe van die ware Godheid bygebring het, as wat ek vroeër gehad het.

[11] Toe ek op `n keer, ongeveer tien jaar gelede, vir staatsake na Opper-Egipte moes reis, het ek ook by die genoemde tempel uitgekom, wat `n onbeskryflike indruk op my gemaak het. Ek het alles met die grootste opmerksaamheid bekyk en het my daar deur `n aanwesige, heeltemal verarmde priester en bewaker van die ou bouwerk laat uitlê wat al die dinge nou beteken. Die ou man, wat baie liefdevol en deemoedig was, was uitermate behulpsaam en het alles so goed vir my uitgelê, dat ek vir myself moes sê: Kyk, die man is wys en praat die volle waarheid!

[12] Hy sê toe vir my: 'Kyk, vriend, die reuse figure aan die regterkant stel die sewe geeste van God voor, waardeur die mens op hierdie aarde tot allerlei kennis kom en hom daarop dan talle en grootse dinge inbeeld! Die figure aan die linkerkant is voorstellinge van die wilde en onbeheerste hartstogte van die mens, en daarom sien jy ook aan hulle voete allerlei tekens van dood en oordeel. En kyk eers na die tweede saal! Die is ietwat laer as die eerste, en jy kom daar deur `n taamlik nou deur in. Dit gee die deemoed van die mens weer, waarsonder jy onmoontlik tot die egte kennis van God kan kom. Daarom sien jy hier ook baie beskeie mensefigure in diep geboë houding. En nou hier in die derde en laaste saal sien jy maar net geestelike dinge, voorgestel deur ooreenkomstige tekens. En daar, heeltemal bo-in sien jy in `n kring die tekens: Ja-bu-sim-bil, - dit is: God se woord in die hart van elke mens wat God liefhet en soek. En die tekens beteken: Ek Was - Is - en sal wees. Ek is die Al-Een, en buiten My is daar geen God nie!'

[13] My vriend, wie soek sal vind, en ek het van my jeug af aan gesoek en baie gevind! Maar die Allerhoogste wat ooit in hierdie wêreld êrens te vinde was nie, het ek hier gevind, maar nie in die blindheid van julle tempel nie, maar daar! Daar sit Hy in mensegestalte heel vriendelik by ons, waarvan in die ou tempel in die derde saal geskryf staan: Ja-bu-sim-bil! Dit maak egter heeltemal niks saak of jy en nog baie meer van jou soortgenote dit glo of nie; want desondanks is dit tog soos wat ek en talle duisende dit nou glo en altyd sal glo.

[14] Die sewende vraag het hiermee egter ook onbeantwoord gebly en ek sal jou nou die agste vraag stel en sien of jy by jouself `n antwoord daarop sal kan vind!'


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205