Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 185

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die genesing van die besete jong vrou Maria Magdalena

185 Maar kort daarna, ongeveer na `n kwartier, kry die gids van die Romeine, wat andersins as publieke vrou met ontugtige manne verkeer, vanweë teveel van die genoemde wyn geweldige krampe, en sy jammer en vertrek haar gesig terwyl haar ledemate en spiere vreeslik vol krampe word.

[2] Die Romeine was daardeur hewig ontsteld, omdat hulle so `n verskynsel as `n buitengewone slegte Malum Omen* beskou het. Hulle sê: 'Wee ons, die gode het baie kwaadgeword vir ons, omdat ons `n vreemde God gaan opsoek het! Wat doen ons nou?' *(slegte voorteken)

[3] Lasarus sê: ‘Bly gewoon rustig! Want ek ken hierdie persoon al geruime tyd; sy het al `n aantal jare las van hierdie siekte, en sy het dit al meermale gehad, veral as sy ietwat te veel wyn gedrink het. Ons Judeërs noem dit besetenheid deur één of dikwels ook meer bose geeste. In vroeër tye, toe daar nog baie vroom mense onder die Judeërs te vinde was, kon sulke bose geeste deur die gebed van `n vroom mens verjaag word; maar in hierdie tyd bestaan dit nouliks meer. Natuurlik sou ons besondere Man dit wel oombliklik kon doen, as Hy dit wou hê!

[4] Kyk, dit is die oorsaak van die verskynsel en verder heeltemal niks nie! Hoe kan julle gode vir julle kwaadword, terwyl hulle tog nêrens anders kan bestaan as in die fantasie van mense wat van `n ware God niks weet nie, omdat hulle nog nooit iets oor Hom gehoor het nie? Waarom nie? Dit lê in die ewige groot wysheidsplan ingesluit van Hom wat die mense geskape het.'

[5] Dit stel die Romeine gerus, en hulle kom toe weer na die gids kyk, wat haar in `n ellendige toestand bevind, en ietwat medelye vir haar voel.

[6] Die vernaamste Romein kom na ons tafel toe, waar ons baie rustig sit, soek juis vir My uit en sê: 'Beste vriend, is daar dan glad niemand onder u wat die ongelukkige meisie bietjie kan help nie? U sit egter so ongeïnteresseerd daar, terwyl hierdie arme vrou met die dood veg! Ek sou haar beslis graag gehelp het as ek `n middel teen die kwaal sou ken; maar dit is by ons Romeine nog baie sleg gestel met die genees van die spesiale soort kwale.'

[7] Ek sê: 'U het uself tot My gewend, sonder om te weet wie Ek is; maar u halwe vertroue dat daar aan ons tafel iemand is wat die besetene sou kon help, het u na My toe gebring. En Ek sê u dat u gees u al die regte Man aangewys het, wat haar ook sal help tot haar liggaamlike welsyn en tot welsyn van haar siel. Let dan goed op met watter middele Ek hierdie jong vrou vir altyd sal help!'

[8] Toe staan Ek van My stoel af op, gaan na die heeltemal verstyfde jong vrou wat op die grond lê, strek My hande oor haar uit en bedreig die sewe bose geeste in haar.

[9] Maar die geeste skreeu hardop uit haar buik: 'O Jesus, Seun van Dawid, laat ons nog `n kort tydjie in dié huis van ons!'

[10] Maar Ek dreig hulle nog `n keer, en hulle verlaat die jong vrou op dieselfde oomblik.

[11] En die jong vrou staan op en was vrolik, fris en gesond asof sy nooit iets makeer het nie. Maar toe sy My langs haar sien en mense haar vertel dat Ek haar gehelp het, kyk sy My strak aan en sê: 'Ag, dit is tog die geweldige man vir wie my hart al sedert `n jaar gelede steeds vinniger klop! En juis Hy, wat ek oneindig liefgehad het en nog liefhet sedert ek Hom slegs eenmaal in die verbygaan gesien het, kom my nou te hulp! O vriend, U kon my maar eerder laat sterwe het in plaas daarvan dat ek U nou tot groot verdriet van my hart weer moet sien, sonder om ooit die hoop te hê om ook deur u bemin te word! Want U is `n suiwer mens en ek is `n verdorwe hoer!'

[12] Daarop val sy aan My voete neer, omklem dit knielend en maak hulle nat met trane van liefde en berou.

[13] Toe kom `n paar leerlinge na vore, wil haar van My voete wegtrek, en sê vir haar dat so-iets hier nie van pas is nie.

[14] Maar Ek sê vir die leerlinge: 'Wat gaan dit julle aan?! Is Ek dan nie Heer oor Myself en nou ook oor haar nie? As dit vir My teveel word, sal Ek wel vir haar sê wat gepas of nie gepas is nie! Ek sê vir julle: Hierdie jong vrou het baie gesondig, - maar sy hou ook meer van My as julle almal saam; daarom sal haar ook baie vergewe word. En verder sê Ek nog vir julle, dat orals waar My evangelie gepredik sal word, ook oor die voorval en hierdie jong vrou gepraat sal word.'

[15] Toe trek die leerlinge hulle terug en sê niks meer nie.

[16] Maar Ek sê daarop vir die jong vrou: 'Staan op, want jy is geholpe, en al jou sonde is jou vergewe! Maar gaan nou heen en sondig nie meer nie, sodat jy nie nog iets erger sal oorkom nie! Want as `n bose gees `n mens verlaat het, trek hy deur dorre streke en woestyne en soek na `n woning, en as hy niks vind nie, kom hy weer terug. Dan vind hy sy ou woning skoongevee en gereinig, sodat hy `n groot begeerte kry om weer daarin te trek. As hy egter sien dat hy te swak is, gaan haal hy sewe ander geeste, wat nog erger is as hy, en gesamentlik trek hulle dan met geweld in die gereinigde woning in, en hierdie tweede toestand van die mens is dan nog baie erger as die eerste. Let dus goed op dat dieselfde jou nie oorkom nie! Staan daarom op, gaan heen en sondig dus nie meer nie!'

[17] Toe staan die jong vrou op en weet van louter liefde en dank vir My byna nie wat sy moes doen nie. Na `n oomblik vra sy My of sy tog hierdie nag nog hier in die herberg mag bly, omdat dit al laat in die nag geword het.

[18] En Ek sê vir haar: 'Ek praat nie teen jou liggaam nie, maar teen jou siel en haar talle wêreldse begeertes; met jou liggaam kan jy gaan waar jy wil!'

[19] Dit was voldoende vir die jong vrou en sy gaan weer aan tafel sit, - maar haar oë wend sy vir geen oomblik van My af nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205