Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 66

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die hebsugtige owerste van Kapernaum

66 Ek sê: “Nie iets van besondere belang nie! Maar laat hom maar kom en dit self aan julle vertel!”

[2] Toe het die herbergier na ons toe gekom en hy vertel: “Die owerste van die sinagoge in Kapernaum het mense gestuur vir `n tiende van die visse, maar omdat hy gehoor het dat ek `n ryk vangs gehad het en dit nie aan hom gemeld het nie, moet ek hom nou as welverdiende straf `n drievoudige tiende van die edelvisse gee. Dit is maar goed dat hy nie weet dat hulle op die aand van `n Sabbat gevang was nie; as mens dit aan hom sou verraai, sou hy waarskynlik al my visse afgeneem het! Jammer, dat die vorige owerste weggegaan het, - hy was `n baie goeie man; maar hierdie een is vir ons `n ware plaag en hy behandel die mense byna asof hulle almal sy eie slawe is! O Heer, sou daar niks aan hierdie kwaad gedoen kan word nie?”

[3] EK sê: “O ja, en wel op `n baie besondere manier! Stuur nou `n bode na die owerste om aan hom te sê dat hy eers die visse in jou vergaderbak moet laat tel, omdat jy hom nie te veel en nie te min van die opgelegde drievoudige straftiende wil gee nie. Dan sal hy gou met sy amptenare hier wees om die visse te tel, - maar nie één daar vind nie! Want die visse het Ek geskape, en Ek kan hulle ook weer laat verdwyn en hulle dan nogmaals skep. As hy hom daaroor opwen, en jou wil beskuldig dat julle die visse dadelik laat wegbring het toe jy van sy eis gehoor het, dan eis jy dat hy dit deur getuies laat bevestig, omdat jy jou anders onder Romeinse beskerming sal stel. As hy dit hoor, sal hy weggaan en jou verder geen straftiende meer oplê nie. Doen dit, en dan sal alles wel in orde kom!”  

[4] Die herbergier sê: “Maar nou is die middagete ook alreeds klaar! Sal ons dit nie eers nuttig, sodat ons nie tydens die maaltyd deur die owerste gesteur word nie?”

[5] EK sê: “Ons sal baie ongestoord eet, - ook al sou daar honderd owerstes buite besig wees om visse te tel! Hy kan selfs, as hy wil, binne na ons toe kom, en dan sal hy so gou moontlik na sy huis gaan om sy huid te red.”

[6] Toe die herbergier My dit hoor sê, het hy baie bly geword en dadelik `n bode na die owerste gestuur, en ons het aan tafel gaan sit en was daarby in `n baie goeie stemming, veral oor die vlug van die talle oggendgaste wat op die onweer gevolg het.

[7] Na die maaltyd sê EK aan die herbergier: “Hy kom alreeds aan; kyk egter eers vooraf in die vergaderbak, dan sal jy sien wat se vis die owerste daarin sal vind!”

[8] Die herbergier het toe vinnig na buite gegaan en ontsettend geskrik toe hy, in plaas van die groot edelvisse, die reuseslang wat voorheen tydens die onweer waargeneem is, daarin sien rondswem.

[9] Maar ook die owerste wou van die tel van die visse niks meer weet toe hy die monster waargeneem het nie. Dat ons herbergier hierdeur vinnig en maklik van die owerste losgekom het, is begryplik; want van die monster het die owerste geen enkelvoudige en nog minder `n drievoudige straftiende verlang. 

[10] Toe hy die monster sien, het die owerste so gou moontlik teruggewyk en gesê: “Hierdie monster het in die tiende al my plek geneem! Ek sou wel baie graag `n paar stukke van hierdie edelvisse op my tafel gesien het, maar omdat daar niks meer is nie, moet dit natuurlik ook so in orde wees. Waar niks is nie, is ook geen wet en geen reg nie, en dus is ons weer goeie vriende; as jy egter tog weer eens so `n edelvis vang, stuur dan aan my `n betaling! Want as jy minder as tien visse vang, hoef jy tog geen tiende te betaal nie. Maar nou maak ons dadelik dat ons so ver moontlik van die see wegkom; want hierdie ondier kan wel die land opkom en ons almal soos vlieë weghap! Hy het `n bek om huise mee te verslind!”

[11] Daarop het hy vinnig na sy huis geloop en het hom toe vir `n lang tyd nie meer by die see laat sien nie, omdat hy `n te groot eerbied vir die monster gekry het.  

[12] Sodra die owerste egter weg was, terwyl die herbergier nog toegekyk het, het ook die monster van `n reuseslang weggegaan en met groot kronkels vinnig na die vol see geswem, waar dit deur die hoë golwe uit sig verdwyn het.

[13] Toe het die herbergier na die groot vishouer gekyk, en dit was, net soos vantevore, vol van die mooiste edelvisse. Daarop het hy weer vol vreugde na ons toe gekom, aan ons tafel geëet en gedrink en aan ons vertel wat hy gesien het en hoe goed hy van die owerste afgekom het. Terselfdertyd het hy ook gevra in watter deel van die see hierdie monsters hulle by voorkeur ophou, om hulle te kan vermy; want dit sou tog wel nie baie aangenaam wees om êrens op hulle af te kom nie.  

[14] Toe sê EK: “Moet jou nie daaroor bekommer nie! Die ondier woon op die diepste plek van die see en kom ongeveer elke honderd jaar tydens besondere groot storms, wat hul oorsprong onder die water het, eers te voorskyn, iets wat op die binneseë `n baie seldsame verskynsel is. So nou en dan, as hierdie ondiere honger het, omdat hulle op hul diepte te min voedsel vind, kom hulle wel aan die oewer en roof daar skape, lammers en kalwers, ook eselsvulletjies en varke; maar hulle val net selde of ooit mense en groot diere aan. Maar van nou af aan sal hy nooit weer te voorskyn kom nie, want sy lewenstyd is verby; daarom hoef jy ook nie daarvoor bang te wees nie. Stuur egter eers oor `n paar dae `n edelvis aan die owerste, dan sal hy volkome tevrede wees daarmee. - Maar nou kan elkeen weer `n vraag stel as daar iets vir hom nog nie duidelik is nie; want vanaf môre af sal ons `n aantal dae hier rus en weinig oor geestelike sake praat!”   

[15] Almal sê: “Heer daar is nou byna niks meer om nog aan U te vra nie; want ons het van U tog alreeds oor alles die mees wyse lesse ontvang!”

[16] EK sê: “Rus dan nou en dink na oor die lesse wat julle ontvang het!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205