Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 98

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die herbergier en Judas Iskariot

98 Die herbergier sê aan hom (NOTA BENE: Ek sal dit `n bietjie uitvoeriger aan julle Nuwe-Salemiete meedeel): “Vriend, jy is `n leerling van die Heer en is van beroep, vir sover ek jou van jou steeds uiters slegte erdewerkprodukte maar al te goed ken, niks anders as `n pottebakker nie! Maar hoe jy in die geselskap van hierdie Majesteit en Heer beland het, dus so goed as in die mees volmaakte geselskap van JaHWeH God, daarop sou ook die aartsengel MigaEl ons selfs die antwoord skuldig bly!”

[2] Judas Iskariot sê: “Ja, vriend jy het gelyk dat jy sulke woorde tot my rig! Ek is weliswaar `n pottebakker, maar egter nie onervare in die Skrif nie! Moses en die profete ken ek, danksy `n skrifgeleerde, op die punte van my vingers, en ek weet baie goed in wie se geselskap ek my bevind. Ek reis egter nie saam om iets wêrelds te verdien nie - wat by die heersende wêreldse omstandighede tog elkeen toegestaan sou moet wees - maar slegs om te sien of die profeet Jesaja in sy voorspellings geen onwaarheid gespreek en geskryf het nie! Want hoewel ek, wat my vak aanbetref, `n pottebakker is, is ek ook `n kenner van die Skrif en ek het op grond van my steeds meer stille waarnemings aan hierdie ware Godmens alles volkome waar bevestig gesien, wat die genoemde profeet en ook die ander profete van Hom voorspel het.

[3] Maar ek het ook `n goeie geheue en weet van elke voorspelling wat die Heer reeds by verskillende geleenthede ten nadele van my gemaak het. Kortom - ek is `n duiwel in die geselskap van die leerlinge van die Heer, wat ek in weerwil van al die ander, ook as sodanig erken; want die tekens wat Hy doen, het `n natuurlike mens nog nooit gedoen nie. Maar as ek dit netsoos alle ander erken en vas glo, vra ek: “Waarom is ek dan `n duiwel?” 

[4] Goed, as ek dan een is, dan is ek een en moet ek dan ook een bly! Maar as julle nou eenmaal iets moet wees wat julle in feite nooit wou gewees het nie - het ek dan wel die skuld van alles? Kortom, dit word vir my nou skielik al te bont! Ek is nou netsoos alle ander, al byna twee en `n half jaar een van die eerste leerlinge van die Heer - en ek moet `n duiwel van die hel word! Nee, dit sal absoluut nie gebeur nie; want ek weet nou goed wat ter wêreld ek moet doen om geen duiwel te word nie. 

[5] Ja, in die tyd toe die Heer my so `n getuienis gegee het, was ek dit ook in Sy oë; want Hy alleen ondersoek hart en niere van die mens. Hy wis dus ook hoe dit met my daarvoor gestaan het, en Hy sal ook weet hoe dit nou met my daarvoor staan. As ek nie deug in Sy geselskap nie, het Hy ook meer as genoeg mag om my op staande voet te verwyder. Hy alleen is die Heer en kan doen wat Hy wil, en niemand kan aan Hom sê nie: “Heer, waarom doen U dit?”; maar deur iemand wat heeltemal my gelyke is, laat ek my egter nie graag teregwys nie! Want elke mens het sy swakhede en het genoeg met homself reg te stel om in die korrekte orde te kom, en solank hy nog met sy eie swakhede te kampe het, moet hy sy naaste met rus laat en hom nie vrolik maak oor sy gebreke nie, en hom nie in die teenwoordigheid van elkeen verkleineer nie. 

[6] Ek ken Moses en die profete en ken nou ook die leer van die Heer, waarin alles bevestig word wat alle profete vanaf Adam, Sehel en Henog voorspel het oor die Een wat nou onder ons is - en ek weet dus ook wat ek moet doen en nalaat. Ek sou alleen wil weet waarom ek onder ons leerlinge van die Heer steeds as die minste met onvriendelike oë bekyk word, asof ek in die volle betekenis van die Woord `n duiwel onder hulle sou wees!”

[7] Nou sê die herbergier: “Vriend, jy het jou nou maar net so oor my opgewen, omdat ek jou in my vrolikheid gevra het hoe dit tog gekom het dat ook jy blywend `n leerling van die Heer geword het! Ek wou jou daarmee geensins tereg wys nie en wis ook niks daarvan dat die Heer jou eers aangedui het met `n naam wat ek self nie weer wil uitspreek nie. Ek uiter maar net my verwondering oor jou, omdat ek jou voorheen in jou handel en wandel as burger maar al te goed geken het en gesien het dat jy dit, ondanks jou kennis van die Skrif, met die hou van God se gebooie nooit so eng opgeneem het nie.

[8] As mens met jou gepraat het, wis jy alles baie beter as wie dan ook; maar as mens vanweë jou dikwels onlofwaardige handelswyse aan jou gevra het of jy dit self eintlik wel as `n onbetwisbare waarheid glo, dan het jy gesê: “Niemand het God ooit gesien of Sy stem gehoor nie, maar in alle tye was daar mense met verskillende talente en vermoëns gewees; en Moses en alle profete was ook maar mense, met wie onsself nooit gepraat het nie. Wat hulle geleer en opgeskryf het, was goed vir hulle tyd; maar sedertdien het die tye geweldig verander en ons en ons behoeftes daarmee en daarin ook, en daarom is Moses en die profete in baie opsigte nie meer nuttig vir ons nie. En wie dit nie insien vanuit sy self opgedoene ervarings nie, bedrieg homself, deurdat hy terwille van die bereik van die hemel, wat hom eens te wagte staan, maar waaroor mens nie die minste sekerheid het nie, sy aardse lewensgeluk met voete betree! “Jy sien, vriend, dat ek ook nog `n goeie geheue het!

[9] Ek ken jou dus baie goed en jou lewensbeginsels het nie vir my onbekend gebly nie, en dit is nou presies wat my verbasing gewek het oor die feit dat jy jou in dié allerhoogste geëerde geselskap ophou; want wat jou geloof betref was jy geheel en al `n Sadduseër en jy het jou ook die hondswysheid* van die Grieke eie gemaak, waarvan jy dikwels sê dat dit die meeste aan die natuur van die mens sou beantwoord, as mens reeds as kind daarin opgevoed sou word. *(`n Verwysing na sy siniese lewensopvatting. Die Griekse Woord vir sinikus is verwant met “kunè”, die Griekse woord vir “hond”. `n Sinikus staan op die standpunt dat slegs jou eie norme en waardes tel, en dat die van ander in die samelewing absoluut nie daartoe dien nie; die eerste dien dan ook gevolg te word, die laasgenoemde met die voete vertrap te word.)

[10] Sê nou self of dit my nie moet verbaas nie, dat ook jy blywend `n leerling van die Heer geword het en jou vroeëre handelinge, wat jou baie geld in die sak gebring het, opgegee het, hoewel jou erdewerk produkte nooit die beste was nie - waarom jy dit gedoen het, dit sal jy dan as sakekundige wel die beste weet! Maar hier blyk tog duidelik daaruit dat ek nooit die bedoeling gehad het om jou te verkleineer en nog minder tereg te wys nie.

[11] Maar waarom jy jouself steeds as die minste onder die leerlinge van die Heer beskou, dit is jou saak; maar ek merk egter nie hier dat jy ten opsigte van die ander leerlinge `n laer rang toebedeel is nie. 

[12] Maar ek is van mening dat sulke gedagtes alleen kan ontstaan in die gemoed van iemand wat vanuit `n bepaalde hoë dunk van homself, in wat hy uitoefen, steeds liewer die eerste en hoogs-aangeskrewene wil wees as die minste en `n ondergeskikte. Iemand wat al meer as gelukkig is dat hy in so `n geselskap die minste van die minstes en die dienaar van die dienare van die Heer kan wees, sal hom egter nooit daaroor bekla en nie in die geheim gekrenk voel, vanweë die feit dat hy homself in daardie geselskap as die minste beskou nie!

[13] Vir sover ek nou die betekenis van die leer van die Heer ken, waaroor ek baie met Kisjona gepraat het en met Philopold van die naburige dorp Kane, wat in die landpunt lê wat van Samaria `n hele end in ons land insteek, maar ook nog maar `n paar weke gelede met twee leerlinge wat vanuit Jerusalem uitgestuur was, wat ek in Kapernaum aangetref het, is die sin van die leer die grootste deemoed, sagmoedigheid en selfverloëning, sonder welke eienskappe van die gemoed, geen ware en suiwer liefde vir God en die naaste denkbaar is nie.

[14] Maar iemand wat nog deur die swakhede van sy medemense gekrenk en beledig kan word, het nog nie deurgedring tot daardie ware lewenspunt, waar die Heer van hom sou wil of kan sê nie: “Kyk, dit is `n man na My hart!”

[15] Ek het jou nou eerlik my mening gegee, en wel omdat jy my daartoe gedwing het; nou kan jy weer jou opmerkings maak, as jy `n paar daarteen kan inbring!”

[16] Judas Iskariot voel baie geraak deur die baie verstandige woorde van die herbergier en wis in eerste instansie nie wat hy hom moes antwoord nie.

[17] Eers na `n rukkie sê hy (Judas Iskariot):”Ja, ja, jy sal wel gelyk hê; want jy het werklik diep in die gees van die leer deurgedring! Maar as die Heer nou aan jou sou sê: “Jy is `n duiwel!”, hoe sou so `n getuienis uit Sy mond vir jou smaak?” 

[18] Die herbergier sê: “Vriend, as die Heer my so `n getuienis sou gee, sou ek in my hart aan Hom sê: “O Majesteit en Heer van die lewe, ek dank U heeltemal verpletter deur U heerlikheid, dat U my laat sien het wat `n groot sondaar ek nog in U oë is; maar ek vra U: Betoon my medelye en barmhartigheid en dryf die duiwel van hoogmoed, leuens en bedrog en ellendige selfsug uit my, en vervul my met die gees van die ware deemoed, sagmoedigheid, selfverloëning, die ware liefde vir U en onselfsugtige liefde vir my naaste!” En ek glo dat die Heer sekerlik nie sou weier om die barmhartigheid aan my te betoon nie, as ek Hom vanuit my volle lewenserns daarom sou vra. 

[19] En nou wend ek my tot Uself, o Majesteit en Heer, en ek vra U om my barmhartiglik tereg te wys, as ek in die loop van hierdie woorde iets verkeerd gesê het!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205