Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 180

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die dank van die arts en die leerlinge vir die onderrig

180 Die arts sê: “O my baie vername, hemelse vriend! Nou het jy al my bedenkings en twyfel baie suiwer tot die laaste atoom uit my weggevee; dit is vir my nou volkome duidelik, en dit sal vir al my metgeselle ook wel geld; daarom sy alle lof aan die enige Heilige onder ons, wat vanuit Sy onmeetlike liefde deur jou, `n bewoner van die hemele, ons die ware wysheid uit die hemele so ligtend en vir ons nog onnosele verstand so maklik te begryp laat verkondig het!

[2] Nou is die wese van die ryk van God as te ware voor my liggaamlike oë geplaas en so aanskoulik gemaak. O, hoe is my siel nie nou bly en opgewek nie!”

[3] Hierop sê ook die leerlinge aan die arts: “Vriend, nie net vir jou het dit geheel duidelik geword wat die ryk van God nou eintlik is nie, maar ook vir ons; want in daardie opsig was ook ons gemoed nog altyd min of meer in `n newel gehul, hoewel ons uit die liefde en wysheid van die Heer en ook van jou al tallose buitengewoon groot dinge gehoor het. Daarom sy ook van ons alle liefde, alle lof en alle eer alleen aan die Heer, wat op hierdie berg deur jou opnuut aan ons almal so `n helder lig gegee het! Met die lig uit die hemele moet alles wat op aarde nog donker is, volledig verlig word!”

[4] RafaEl sê: “Vriende, dit sou wel goed gewees het as dit so maklik gaan soos wat julle, verligtes dit nou vir julle voorstel! Die mense het oor die algemeen te sterk materieel en dierlik geword, en dit is moeilik om aan klippe en wilde, verskeurende diere die evangelie oor die Godsryk te verkondig.

[5] Julle het slegs één sterk wêrelds ingestelde mens in julle midde, wat vanaf die begin by julle was en ook alles gehoor en gesien het wat julle gehoor en gesien het. Vir hom was my openlike gesprek met die arts nie wat dit vir julle was nie. Hy dink by homself: “O, as ek sy wysheid en mag gehad het, dan sou alle goue berge op aarde my eiendom gewees het!”

[6] Daarom word vanuit die hemele die lig ter opwekking van hulle gees ook maar net aan diegene gegee wat dit soek en as `n verhewe lewensbesit bo alles liefhet en ten seerste waardeer; maar vir diegene wat maar net in die wêreld daarmee wil pronk om daarmee `n oorvloed aan dooie skatte van die aarde te verwerf, is so `n lig van geen nut nie en dit (die lig) stort hulle nog verder in die ou oordeel van die materie. Daarom is dit nie goed om die pêrels uit die hemele vir die varke te werp nie. Gee die reine dus in die eerste plek alleen aan die reines!

[7] As julle die diere tot mense sal omvorm, gee hulle dan suiwer, vir mense passende kos! Ware mense is daar egter maar weinig, en die wat nog daar is, woon in ellende en word byna platgedruk deur die mense van klip en word deur die dierlike mense platgetrap.  

[8] As julle die evangelie aan die mense verkondig, verkondig dit dan eers aan die armes en ellendiges; probeer daarna eers van klippe en diere mense te maak! Wat ek julle nou gesê het, behoort ook tot die wysheid uit die hemele.”

[9] Ons Romeinse regter, wat ook met groot aandag na alle wyse woorde van RafaEl geluister het en wat Ek in die verborgene ook innerlik gewek het, sodat hy die betekenis van wat daar gesê word, kon vat, sê aan My: “O Majesteit en Heer, hoe is hierdie pragtige hemelse gees tog nie buitengewoon wys nie! Ja, as `n mens op hierdie aarde ooit die kuns verstaan het om die innerlike, verborge dinge van die sielslewe so helder en verstaanbaar uiteen te sit, sou daar beslis nooit `n duister afgodedom onder die mense opgekom het nie; want nadat `n mens so `n onderrig en wonderbaarlike ervaring meegemaak het, sou selfs die mees eenvoudige mens tog gaan nadink en onmiddellik begin om vanuit die lig van sy geloof, volgens so `n leer aan homself te werk en hom daarvolgens te rig, en met U hulp sou hy op die manier maklik en vinnig tot die innerlike lewensvoleinding gekom het, terwille waarvan U liefde, wysheid en mag hom geskape het.

[10] En - netsoos mens sê dat “`n goeie voorbeeld laat goed volg” - sou dit daarna sekerlik die aandag van ander mense getrek het en hulle sou aan die voleindigde mens vra hoe hy tot so `n goddelike volmaaktheid van lewe gekom het.

[11] En as hy hulle dan met die helderheid van hierdie gees, wat U, o Heer, “RafaEl” noem, die voor die hand liggende waarheid sou verkondig het, sou hulle ook onmiddellik met al hulle lewenskragte tot die dade oorgegaan het, waardeur dit maar net moontlik vir hulle was, omdat hulle eweneens mense is, om tot die ware lewensvoleinding te kom. 

[12] Maar vir sover ek weet het daar nog nooit `n gods- en lewensleraar met so `n eenvoudige duidelikheid by en onder die mense op hierdie aarde opgetree soos wat hierdie verheerlikte gees dit nou gedoen het nie, en dit is dus ook verstaanbaar dat soveel mense God, hulleself en hulle ware lewensbestemming mettertyd uit hulle bewussyn en waarneming kwytgeraak het.

[13] As regter het ek my verdiep in alle goddelike en menslike leringe en wette wat in die Romeinse ryk voorkom, en sodoende vanselfsprekend ook in die Judese leer; maar oral is misterieë op misterieë gestapel, wat `n natuurlike mens, al is hy begunstig met `n helder insig en `n skerp verstand, onmoontlik kan begryp en prakties kan toepas vir die werklik bo alles noodsaaklike ontwikkeling van sy innerlike sielslewe. Maar na `n dergelike onderrig moet dit vir elke mens tog duidelik word wat hy is, wat daar van hom moet word en wat hy moet doen om dit te word waarvoor U, o Majesteit en Heer van alle wesens en dinge, hom bestem het. - O Majesteit en Heer, het ek in die opsig dalk tog wel enigsins korrek geoordeel?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205