|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 163
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die twyfel van die regter
163 Daarop sê die regter: “Ek prys jou ywer, en jy is gelukkig met jou gegronde oortuiging; as jou Heer en God ook my die barmhartigheid sou bewys wat hy jou en jou twee metgeselle bewys het, sou ek jou woorde ook sekerlik in die mond neem. Maar noudat ons tog oor hierdie saak praat, moet ek jou aandag tog nog op iets vestig.
[2] Kyk, jou almagtige Helper is, wat Sy liggaam betref, ook `n mens, waarin vir ons baie onbegryplike bonatuurlike krag woon, wat vroeër op soortgelyke wyse ook in die mens Moses gewoon het, wat `n pleegseun van `n farao was, en wat daarna ook in nog vele ander profete gewoon het, netsoos dit vir ons uit die Skrif van die Judeërs bekend is.
[3] Al die buitengewone mense het ook groot dinge en tekens gedoen; maar tog het hulle, wat hulle liggaam betref, almal gesterf. Waar hulle siele gebly het, weet nou geen lewende mens met absolute sekerheid nie. Mens glo wel, om vele steekhoudende verstandelike redes, dat die siele van besonder groot en deugsame mense ewig voortlewe in `n salige geestesryk en dat heel vrome mense ook vele male met sulke salige geeste omgegaan het - net het ek, en seker ook jy en verskeie van jou metgeselle, geen ervaring daarmee opgedoen nie, en ons moet ons in hierdie saak net met die geloof tevrede stel.
[4] As jou nuwe God uiteindelik, wat Sy liggaam betref, tog sou sterf - op `n gewelddadige manier onder die wraaklustige hande van Sy vele vyande of, netsoos elke ander mens, op `n natuurlike wyse - sou jy ook dan nog by jou bewering bly?”
[5] Die arts sê: “Nog sterker en ernstiger as nou; want Sy liggaam is immers nie Sy magtigste werksame wese nie, maar dit is alleen Sy as te ware oral aanwesige werksame Gees, wat ewig moet lewe! Want as Hy nie ewig in dieselfde mag en krag sou lewe nie, wie sou dan `n geskikte liggaam vir Hom geskape het, waardeur Hy nou sigbaar vir ons blinde mense net so kan werk soos wat Hy as suiwer gees sedert ewigheid gewerk het?
[6] Dat nie Sy liggaam, wat vir ons sigbaar is nie, maar alleen Sy Gees, egter werksaam is, word vanself duidelik deur die omstandigheid dat Hy my vanaf `n afstand gehelp het, sonder dat Sy liggaam aanwesig was. Sy werksame krag en mag gaan dus verseker nie vanuit van Sy liggaam nie, maar vanuit Sy ewige en oral volkome aanwesige Gees.
[7] Die Gees het, vir Sy eintlike werksaamheid, nie die liggaam nodig nie; maar as Hy Hom tog met `n sigbare liggaam beklee het, het Hy dit verseker maar net gedoen om Homself sigbaar, begrypliker en toegankliker te maak vir ons mense, wat in die sfere van die gees volslae blind is, en om ons Sy ewige wil en die eindelose krag en mag daarvan op `n meer verstaanbare manier te openbaar.
[8] As Hy Sy doel met ons, bereken volgens Sy eindelose wysheid, bereik het, ongetwyfeld uit suiwer liefde vir ons mense, sal Hy die liggaam wat nou vir ons sigbaar is, nie meer nodig hê nie en sal Hy Hom daarvan ontdoen op die manier wat Hy goedvind.
[9] Of Hy ook sal toelaat dat Sy meer as blinde en verstokte vyande hulle hande aan Sy liggaam slaan, of dat Hy op `n ander manier Sy liggaam sal aflê, dit sal aan my woorde niks verander nie. Want eenmaal sal Hy weer onsigbaar word vir ons mense, maar tog ewig voortgaan om te werk netsoos Hy vóór die aanneem van `n liggaam sedert ewigheid gewerk het; want sonder om aan te neem dat Hy vroeër bestaan het, sou daar ook geen ander bestaan denkbaar wees nie.
[10] Dat Hy verseker `n Majesteit en Heer oor alle bestaan en lewe is, konstateer ek uit die feit dat Hy die gesonde en ook siek inrigting van ons liggaam tot in die kleinste vesels deur en deur en grondig moet ken, om vervolgens met die mag van Sy wil juis dit weer in `n gesonde, en vir die natuurlike lewe, bruikbare toestand te bring, wat in ons mettertyd beskadig, siek en onbruikbaar geword het, wat ek as ou en sekerlik baie ervare arts goed moet insien. Want hoe sou mens ooit `n sieke `n passende middel kan gee om sy verlore gesondheid weer te herstel, as mens nie eers sou weet wat hom makeer nie, en waar?
[11] Ons sig, waarneming en beoordeling is en bly egter, ondanks al ons ervaring, tog maar uiters grof en onsamehangende stukwerk, omdat ons die innerlike samehang van ons fisieke lewensmasjien in haar tallose uiters klein deeltjies onmoontlik kan sien en beoordeel, en daarom met al ons goeie kennis en wil nooit in staat is om `n ernstige siekte selfs met die kragtigste en mees effektiewe geneesmiddels te verhelp nie; want ons sien immers nie die eintlike, miskien wel baie klein siek plek in die buitengewoon kunstige lewensmasjien nie. Die Skepper en ewige Heer van die masjien sien egter alles met één oogopslag en weet derhalwe baie presies waar die fout sit, en ken as gevolg van Sy ewige alwysheid die korrekte middel, wat in Sy Gees aanwesig is en moet wees, om daarmee die beskadigde deel weer oombliklik in die korrekte orde terug te bring en te aktiveer.
[12] As jy, beste vriend, dit goed oordink het, sal jy ook insien dat ek geen haarbreedte kan en sal afwyk van my oorspronklike bewering nie, al sou die liggaam van my God ook duisend keer sterf; want meer as van my nou baie gesonde bestaan is ek nou daarvan oortuig dat Sy liggaam nie Homself uitmaak nie, maar slegs `n middel is om Hom nader aan ons mense te kan openbaar as wat op `n suiwer geestelike manier moontlik is. As Hy my byvoorbeeld met Sy hande sou aangeraak het en ek daarna eers volkome gesond geword het, dan sou ek jou besorgdheid miskien wel gedeel het; maar aangesien ek van `n afstand - netsoos ek jou al vroeër gesê het - enkel en alleen deur Sy Gees genees is, bly Hy ook sonder liggaam die Een wat Hy sedert ewigheid was.
[13] Neem my opvatting as `n volle waarheid diep in jou gemoed op en gaan oor tot `n vaste vertroue in die almag van Sy wil; vra Hom ook om jou liggaam te genees, dan sal jy ontvang wat ek op so wonderbaarlike wyse ontvang het!”
[14] Die regter, heeltemal verbaas oor die diepgaande insig van die arts, sê: “Ek dank jou, beste vriend, vir dié onderrig van jou! Jy het my gemoed totaal verander en ek deel jou opvatting nou heeltemal. O, as jou en nou ook my enig ware God ook my sou wil help netsoos Hy aan jou gedoen het, sou ek my hele lewe alleen Sy Naam prys en Sy eer hardop teenoor elkeen verkondig! O Heer, en nou ook my enig ware, almagtige en lewende God, help ook my van my reeds lank durende ernstige kwaal af! Laat U heilige wil my genees!”
|
|
|
|
|