|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 154
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die geestelike soeke van die Grieke
154 Ek sê: “Luister, My beste vriende, julle wens is weliswaar baie prysenswaardig, maar tog enigsins selfsugtig; want toe julle nog jong, gesonde en kragtige mense was en nie, netsoos nou op julle leeftyd, aan `n bittere dood dink nie, was die wêreld met haar skatte alles vir julle, en julle het dan ook maar net na die verganklike aardse goedere gestreef, wat julle deur allerlei handel en wandel in groot hoeveelhede vergaar het. Bowendien het julle ook nie allerlei wêreldse vermaak versmaai nie en het julle aan alles meegedoen en geniet wat die wêreld maar aan genoeglik en verleidelik kon bied. In die tyd het julle weinig aan een of ander God gedink of een of ander filosoof en netso min aan `n woord wat julle hart sou versterk en verlig.
[2] Toe julle egter aan die vyftig raak en die lewenskragte van julle liggaam swak begin te word, en julle menige goeie vriend en bekende uit die lewe sien verdwyn, en menigeen onder baie bittere pyn en kwelling, raak julle ernstiger gestem en julle vra julleself af: “Hoe lank kan dit nog met ons duur? Is daar na die lewe wel `n ander lewe, netsoos ons priesters sê, beter of slegter, of is dit daar heeltemal nie? Wie ter wêreld kan ons `n afdoende en versekerde bewys daarvoor lewer?
[3] Ander mense, wat die lewe nie uit so `n ernstige hoek bekyk nie en hulle ook minder oor die ellendige sterwe bekommer as julle, sê aan julle: “Lees Plato, Aristoteles, Pythagoras, dan sal dit vir julle goed duidelik word hoe dit met die lewe aan die anderkant gestel is!”
[4] Dit het julle met groot ywer gedoen, maar tog wou dit nie vir julle duidelik word nie. Julle het julle tot die orakels gewend, wat julle nog minder bevredig het. Daarby kom julle te wete dat die ware wysheid in daardie opsig by die Essene en in die geskrifte en boeke van die ou ortodokse Judeërs te vinde was. Daarom het julle na Essea gereis en tref daar die gesogte geskrifte en boeke ook nie so aan soos wat julle gehoop het nie. Daarop verskaf julle jul die geskrifte van die Judeërs, lees dit van a tot z, maar kan tog nie daaruit wys word nie, omdat julle hulle nie kan begryp nie; die enigste wat julle daarby gewen het, is dat julle van julle veelgodery afgestap het en in die moontlikheid van die bestaan van één God begin glo het.
[5] By daardie soeke van julle, wat nou al byna twintig jaar duur, aangesien julle al byna sewentig is, word julle swak en vermoeid en kry julle allerlei fisiese en liggaamlike kwale, het allerlei kuuroorde besoek en ook hier, waaroor julle baie lofwaardigs gehoor het, om daar die gesondheid van julle liggaam weer in soverre te verkry dat julle met `n helder gees die wese van die lewe kan naspeur.
[6] Op My aandrang het julle nou met Ons hierdie berg beklim en voel nou self, netsoos julleself toegee, dat dit met julle baie beter gaan as voorheen benede in die laagte. En omdat julle jul beter gaan voel, wil julle uit My mond hoor wat julle in jul steeds toenemende gekweldheid ondanks al julle inspanning gedurende twintig volle jare nie in sy volle helderheid te wete gekom het nie.
[7] Ja, wie op hoë leeftyd met alle erns soek wat hy in sy jeug met baie minder moeite maklik kon gevind het, as die wêreld met haar sinnelike genot en ligsinnigheid hom dit nie verhinder het nie, sal dit ook nog vind - maar eers wanneer hy sy siel van alle materiële slakke en vlekke gereinig het!
[8] As die mens ook tot op baie hoë leeftyd voortdurend so jeugdig fris, lewendig en opgewek sou voel, dan sou hy al twintig jaar gelede begin het om te soek, instede van netso onverskillig is en bly, as wat julle in jul jong jare was; maar die steeds moeisamer wordende leeftyd en die steeds naby daarby kom van die einde van die lewe dwing die siel, wat die lewe liefhet, om haar te gaan bekommer oor die verdere wese van die lewe en so nou en dan te gaan vra hoe dit sit met die blinde volksgeloof.
[9] Die duistere en twyfelagtige antwoord wat sy by haar soeke kry, reinig haar deur die in haar gewekte angs vir die dood van die liggaam, wat veroorsaak word deur die liefde vir die wêreld, wat haar gevange hou en blind en doof maak; sy begin die goedere van hierdie wêreld, wat vir haar eers so goed gesmaak het, te verag en te ontvlug en reinig haarself sodoende van dit wat haar gevange gehou het in die oordeel en die dood van die materie.
[10] Maar as die siel die verganklike materie van haar liggaam ook op hoë leeftyd deur een of ander geheime geneesmiddel weer jonk sou kon maak, sou sy andermaal heel genoeglik in haar wandelende graf bly rus en sou sy haar nie oor haar eie lewe bekommer nie. Maar God het vanuit Sy ewige liefde die aardse lewe, wat dien vir die beproewing van die vrye wil, juis só ingerig dat die mens ouer, swakker en vermoeid moet word, en veral diegene wat in sy jeug te veel aan die materie van hierdie tydelike wêreld gehang het, sodat sy siel ook uiteindelik, wat so lank deur die dood gevange gehou was, haarself kan oprig na die sekere, ewige lewe.
[11] As die siel haar met die hulp van haar verborge Skepper en Heer uit die oordeel van die materie losgemaak en haarself deur haar aktiewe strewe in haar innerlike lewenslig gevind het, dan het sy ook meester geword oor haar materie en die dood daarvan, wat sy nie meer so vrees soos voorheen nie, en bekommer haar nie soveel meer oor die leeftyd en swakte van haar liggaam nie; want sy het immers self gesond, kragtig en in haarself vol troos geword.
[12] Dit is ook wat julle gesoek en ook hier gevind het! Want wie ernstig soek, sal die gesoekte ook vind. Wie aan die deur klop, vir hom word op die regte tyd oopgemaak, en aan wie vra, sal die gevraagde ook gegee word.
[13] Maar hoe julle dit wat julle so lank en bang gesoek en nou eindelik eers hier gevind het, sal vir julle eers later helder en duidelik word. Nou is dit egter nogmaals julle beurt om hier openlik teenoor Ons te kenne te gee hoe julle dit wat Ek aan julle gesê het, opvat? Want mens kan `n nuwe huis wat gebou moet word, nie vroeër voltooi as nadat die grond, wat die huis moet dra, sy volle stewigheid verkry het nie. As julle wil, kan julle nou spreek!”
[14] Hieroor was die twee ou Grieke so verbaas, dat hulle gladnie geweet het hoe hulle moes begin praat nie.
|
|
|
|
|