Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 129

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

God vrees en God liefhê

129 Toe staan Ek op van My stoel af en begewe My na die tafel van die Samaritane, wat ook haastig van hulle stoele opstaan en met diepe eerbied aan My sê (die Samaritane): “O Heer, Heer! Ons is sondaars en nie waardig dat Uself na ons tafel toe kom nie, maar spreek slegs één woord oor ons uit, sodat ons kan sterk word in U lig!”

[2] Ek sê: “Laat die al te groot eerbied vir My agterweë, en groei in plaas daarvan in die regte en ware liefde vir My! Want om JaHWeH God bo alles lief te hê, is baie meer en geld as baie groter as om God bo alles te vrees. `n Oordrewe vrees vir God verwyder die mens steeds meer van God en is uiteindelik die slegte saad, waaruit die heidendom mettertyd opgroei met die hele afgodedom, bygeloof en ten slotte die volledige ongeloof.

[3] Met die volle liefde nader die mens God egter steeds meer, hy word vertroulik met Hom en verlang na Hom, en word sodoende steeds meer vervul van die gees van God; want die voortdurend toenemende en vertrouliker wordende liefde vir God is die ware en lewende Gees van God in die mens en die gees van die ewige lewe in die siel. Daarom is `n sondaar wat hom uit liefde tot God bekeer, God dan ook meer naby en liewer vir Hom as nege en negentig baie godvresende mense, wat nog nooit teen `n wet gesondig het nie en as regverdiges sodoende nooit boete hoef te doen nie.

[4] Kyk net na `n kind, wat `n groot vrees vir sy ouers koester, omdat hulle die vanweë sy kinderlike stoutheid, miskien `n paar keer te streng gestraf het! So `n kind sal sy ouers dan wel gehoorsaam, maar nie so seer uit liefde as veeleer uit vrees vir die straf wat hom te wagte staan as hy nog `n keer teen die wil van die ouers sou sondig. Die nabyheid van sy ouers gaan so `n kind mettertyd ook teenstaan, en hy probeer hom uit die toestand, wat vir hom onaangenaam is, te bevry deur die ouerhuis te verlaat en in verre vreemde streke sy geluk, sy rus en sy behaaglikheid te soek - en daarna keer hy eers met angs en bewing berouvol na die ouers terug, as hy in den vreemde die teendeel aangetref het van wat hy gedink het om te vind. 

[5] Dieselfde ouers het egter nog `n kind, wat minder bang is vir hulle, maar hulle in plaas daarvan steeds meer liefhet, hom nie soveel aantrek van enkele teregwysings nie en sy foute dus nie uit `n steeds toenemende angs vir die strengheid van sy ouers nie, maar uit sy eie steeds groeiende liefde vir hulle aflê en hulle wil doen.

[6] Welke van die twee kinders sal die grootste liefling van die ouers wees, dink julle?”

[7] Die woordvoerder sê: “Natuurlik die kind wat minder vrees vir sy ouers koester, maar in plaas daarvan meer liefde en `n kinderlike vertroue in hulle het!”

[8] Ek sê: “Jy het goed geoordeel en My die regte antwoord gegee; so moet ook julle soos die kind wees wat sy ouers meer liefhet as vrees, en het God dus lief as die ewige Vader van alle mense, meer as dat julle Hom vrees as `n onverbiddelike regter, dan sal julle ook nie meer so `n groot vrees of skroom hê vir My aanwesigheid by julle as wat dit tot nou toe die geval was nie!

[9] Neem maar van My aan, dat God ook die baie vreesagtige kinders liefhet; maar wat die kinderlike, onbevange vertroue teenoor Hom betref, moet daar dikwels baie krom weë bewandel word; sonder daardie vertroue kan `n siel nooit volledig aan God gelyk en selfstandig vry in God salig word nie, en langs die genoemde krom weë kan `n siel dit ook maar met moeite bereik. Alleen groot nood kan sulke kinders op die regte weg terug na die huis van die liefde van sy ouers bring.

[10] Omdat kinders deur die van bo komende tugtigings in plaas van beter, maar net slegter gemaak word, kom die tugtigings ook maar selde voor en alleen dan, wanneer alle liefdevolle pogings stukkend geloop is op die blinde eiesinnigheid van die mense; daarom het God altyd so `n buitengewone groot geduld met die eiedunk van die mense, om hulle nie deur voortdurend te straf, nog meer van Hom te vervreem as wat hulleself alreeds doen nie.

[11] Maar as God die mense eenmaal met die tugroede in Sy hand moet besoek, dan bied Hy hulle in Sy ander hand, al is dit ook `n bietjie verhul, Sy hart aan, sodat hulle insien dat God die Vader, selfs al het Hy die tugroede in Sy hand, hulle tog met alle liefde tegemoet kom, netsoos dit nou ook vir julle oë die geval is.

[12] Maar Ek voeg nog iets daaraan toe en onthou julle dit almal goed! Wie by `n bepaalde werk te bang is dat hy stellig `n fout sal begaan, waardeur die werk nadelig berokken word ten aansien van die doel wat bereik moet word, sal ook nie selde growwe foute maak nie. Maar wie met plesier en liefde werk, sonder `n al te angstige vrees om moontlik foute te maak, vir diegene sal die werk goed afgaan, en mens sal waarskynlik geen foute van betekenis daarin ontdek nie; want die korrekte liefde met die korrekte vertroue is nie blind, netsoos die heidense wêreldse geleerdes dink nie, maar dit sien baie skerper as die skerpste wêreldse verstand met sy al te angstige gewete.

[13] Al het die liefde hier en daar ook `n fout gemaak, dan maak sy dit deur haarself vinnig en maklik weer goed; maar as die verstand met sy angs `n fout begaan het, dan verloor dit alle vertroue in homself en vind dikwels baie lank geen middel waarmee die fout weer heeltemal goedgemaak sou kan word nie. 

[14] Daarmee wil Ek julle egter nie vertel dat `n mens sy verstand en sy gewete daarom heeltemal eenkant moet sit nie - ver daarvan; maar hom heeltemal deur die verstand en `n oordrewe angstige vrees vir die maak van foute te laat beheers en reëlreg te twyfel aan die baie beter werking van die liefde en die vertroue daarvan, dit is tog seker in hoë mate blind en onnosel.

[15] As julle dit nou goed begryp het, sal julle My aanwesigheid ook maklik kan verdra en dan sal julle nie meer in julleself die wens hê om uit louter vrees en skroom vir My so vinnig moontlik weer hiervandaan te gaan nie!”

[16] Na hierdie vriendelike les van My verander die Samaritane heeltemal, hulle bedank My vir die onderrig en word baie vertroulik.

[17] En die vernaamste spreker sê: “O Majesteit en Heer van alle dinge en al die lewe! Slegs `n groot liefde vir U het ons hier gebring, omdat ons gehoor het dat hier of in Nasaret betroubare inligting te verkry was oor waar U verblyf, en so het ons in goeie vertroue hierheen gereis. Wel nou, in plaas van die inligting wat ons verwag het, naamlik waar U sou verblyf, het ons tot ons groot verrassing Uself dadelik ontmoet, en die verrassing het ons vervul van `n baie groot vrees vir U eindelose heerlikheid. Maar nou het U ons sekerlik nie onredelike en ook nie onteregte vrees op één slag in `n vertroulike liefde verander, en daarom sal ook ons hier bly solank U hier bly, en U volg - as U dit wil - waar U ook maar heengaan; want ook ons sou baie graag U leerlinge en uitdraers van U lewende Woord wil word.” 

[18] Ek sê: “Daarom het Ek ook gewil dat julle My moes gaan soek; want Ek ken julle baie goed en ook julle gees. Maar eet en drink nou verder; daarna sal Ons verder met mekaar praat!”

[19] Daarmee was almal tevrede en eet en drink nou sonder skroom verder, en Ek gaan weer na My plek.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205