|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 152
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die leerlinge vra die Heer na die rede van Sy vreugde oor die natuur
152 In die môre, voor sonsopkoms, was Ons alweer buite, en wel aan die oewer van die meer, waar daar ook al enkele enigsins geneesde kuurgaste hulle bevind, wat die spel van die golwe op die uitgestrekte, helder wateroppervlak geniet.
[2] Enkele leerlinge vra aan My: “Majesteit en Heer, sedert ons by U is, merk ons dat U steeds ruim `n uur voor sonsopkoms na buite gaan, ook in die winters, en netsoos ons mense geniet van die verskynsels in die natuur. Maar omdat U tog al alles aanskoulik ken wat nie alleen op en binne hierdie aarde nie, maar ook in die hele oneindigheid is en gebeur, wat daar was en gebeur het en sal wees en sal gebeur, het ons al gereeld daaroor nagedink hoe dit moontlik is dat U tog nog welbehae kan hê in die dinge en verskynsels op `n maar heel klein plekkie op hierdie aarde!”
[3] Ek sê: “Dit was weereens so `n egte menslike, blinde vraag van julle! As Ek in die dinge en verskynsels ook in hierdie materiële natuur geen groter en inniger welbehae sou hê as julle nie, sou daar van hierdie hele aarde met alles wat daarop, daarin en daar bo is, baie gou geen puntjie meer aanwesig wees nie.
[4] Alles wat bestaan, is immers My ewige liefde, beliggaam vir julle oë; hoe sou Ek geen welbehae kan hê in My liefde nie, wat tog sedert ewigheid alles in alles is?
[5] Dat Ek egter in die môre vroeg al dikwels buite is, en ook gereeld tot laat in die aand, het `n dubbele rede. Want ten eerste moet julle daarvan leer dat ook in die siel van die mens die geestelike oggend, netsoos die van hierdie aarde, vroeg moet ontwaak en dat Ek op so `n vroeë oggend in die mens ook vroeër aanwesig sal wees as wanneer die son in hom, al volledig opgegaan het, en My oor die steeds ligter wordende lewensoggend netso sal verheug as Ek My, vir julle sigbaar en as `n egte voorbeeld vir julle, oor elke natuurlike oggend verheug het.
[6] Ten tweede moet julle uit My voortdurende vroeë oggendbesoek die werksaamheid en die regte ywer leer ken; julle moet ook daarin na My lyk en die mense, aan wie julle My evangelie sal verkondig, goed daaraan herinner. Want alleen deur die regte ywer en deur vroegtydige werksaamheid kan die mens tot die ware ryk van God in homself kom en dit dan ook vir ewig behou.
[7] Deurdat Ek ook die aande graag buite deurbring, toon Ek julle in die eerste plek dat die mens ook in die aand van sy aardse lewe werksaam moet wees, om sy innerlike lewenslig kragtiger te maak. Want wie te vroeg in traagheid gaan rus en hom in sy huis aan die sorgelose slaap oorgee, sal maklik meemaak dat daar diewe by hom inbreek en hom van sy skatte beroof; maar wie lank wakker bly, sal so `n onheil nie so maklik oorkom nie.
[8] Die ander en tweede rede waarom Ek graag die aande buite deurbring, is die volgende: Julle kan daaruit opmaak dat `n vrye rus in die aande eers tot egte saligheid word, as mens al die hele dag van die vroeë môre tot aand volop werksaam gewees het.
[9] As julle nou goed begryp wat Ek vir julle gesê het, bly dan in daardie lig, en vra voortaan nie meer so maklik na dinge wat vir julle nou tog vanself duidelik moet wees nie. As julle dit goed begryp het, handel dan ook daarvolgens; want met begrip alleen kan julle die ware ryk van God in julleself nie wakker roep nie!”
[10] Toe die leerlinge en ook alle ander dit gehoor het, bedank hulle My vir My geduld met hulle en vra My ook vir geduld in die komende tyd.
[11] Ek sê: “Elke mens wat baie liefde het, het ook baie geduld; Ek het egter die meeste, hoogste en suiwerste liefde vir julle, en dus het Ek ook seker die grootste geduld met julle. Wie in My bly deur sy liefde tot My, in hom bly Ek ook; want Ekself is immers sy liefde en geduld.”
[12] Nou kom daar twee kuuroordgaste na My toe en hulle vra vir Markus, wat naas die herbergier staan, wie Ek was; want hulle het My wys hoor praat en beskou My as `n filosoof. Dit was twee Grieke wat die leer van Pythagoras aangehang het.
[13] Markus sê aan hulle: “Hier is onuitspreeklik baie meer as die Griekse wysgeer Pythagoras! Pythagoras kan geen blindes siende maak en dowes laat hoor nie; maar Hy kan dit vanuit Sy hoogs eie mag, en selfs `n dooie kan Hy tot lewe wek! En dit is seker eindeloos baie meer as Pythagoras.”
[14] Toe wil die twee `n gesprek met My begin; maar daar kom `n dienaar wat Ons vir die oggendmaal uitnooi. Beide Grieke volg Ons egter tot by die huis en wag totdat Ek weer uit die huis sou kom; want hulle wou My tot elke prys van naderby leer ken.
[15] Hierdie keer bly Ons meer as `n uur aan die oggendmaal, en vir Ons twee Grieke begin dit te lank duur. Hulle durf die huis egter nie binnegaan nie, aangesien hulle dit as welopgevoede mense, as onvanpas beskou; maar hulle vra nou eers aan die een en dan weer aan `n ander dienaar of die My dalk beter ken.
[16] Die dienare het egter van Markus opdrag gekry om My nie voortydig bekend te maak nie, want as dit nodig was, sou Ek die tyd daarvoor Self bepaal; en so kan die twee Grieke, selfs toe hulle een van die dienare `n ryk fooi aanbied, niks naders oor My te wete kom as wat Markus hulle so pas gesê het nie.
[17] Uiteindelik was Ons klaar met Ons maaltyd, wat hierdie keer ietwat langer geduur het, omdat Ons Maria verskeie voorvalle uit haar en ook My jeug vertel het, wat ook deur Matthéüs in `n spesiale boek opgeskryf word.
|
|
|
|
|