|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 114
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die Heer in Kis aan die Meer van Galilea
Die ontmoeting van die Heer met Philopold
114 Toe Ons Kana verlaat, was dit nog anderhalf uur voor die middag, en deur af en toe op Ons snelle manier te reis, bereik Ons juis op die middaguur die Meer van Galilea, nie al te ver van die groot tolhuis nie, waar Ons Matthéüs vroeër as skrywer in diens van die Romeine was. Van daar was dit ook nie meer ver na Kis nie waar, netsoos bekend, ook `n groot tolhuis gestaan het.
[2] Toe Ons by die meer kom, gaan Ons sit, rus `n uur uit en kyk na die flink bewegende golwe; en die leerlinge kry sin om te gaan visvang.
[3] Petrus sê: “Jammer dat Ons nou geen nette by Ons het nie! Ons sou andersins vinnig `n goeie vangs kon maak!”
[4] Ek sê: “Dink jy vandag dan nie aan die Sabbat nie? Wie honger het, mag ook op `n Sabbat visvang, as hy hom die dag vóór die Sabbat geen voorraad kon verskaf het nie; maar as dit nie nodig is nie, moet elke Judeër hom by die ou wet hou, sodat die kleine hom nie aan hom sal vererg nie!
[5] Om goed te doen, ook op `n Sabbat, is My leer en My wil; maar om sonder noodsaak op `n Sabbat vis in die meer te vang, is nóg volgens die wet, nóg volgens My leer korrek. Laat julle sin om vis te vang dus verbygaan! Ek het julle tot vissers van mense gemaak, en as julle tyd binnekort kom, sal julle ook op Sabbatte kan werk.”
[6] Terwyl Ek so spreek, kom daar verskeie Grieke aan wat van enige afstand na Ons kyk. Onder mekaar gis hulle wie Ons was.
[7] Sommiges sê: “Dit is Judese vissers, wat vandag hulle Sabbat vier!”
[8] Maar ander sê: “Dit kan ook Grieke wees; want ons sien immers ook Grieke onder hulle, wat die Sabbat van die Judeërs nie hoef te vier nie, as hulle dit self nie wil nie.”
[9] Hierop skep hulle moed en kom na Ons toe.
[10] Toe hulle vlak by Ons was, vra een van hulle Ons meteens: “Wat doen julle eintlik hier op `n Sabbat, waarop die meeste Judeërs tog gewoonlik in een of ander sinagoge bymekaarkom? Of is julle dalk Grieke? Waarom dra sommiges van julle dan Judese klere?”
[11] Ek sê: “Dit gaan julle almal niks aan nie; want julle is nog nie ryp om van My woorde van lewe te hoor nie, en Ek sal dan ook nie baie met julle praat nie!”
[12] “Julle is dienare van Kisjona in Kis; gaan daarom voor ons uit na Kis, en sê aan Kisjona dat die Heer met Sy leerlinge na hom toe sal kom! Kisjona sal julle dan wel vertel wie Ons is. En gaan nou en steur Ons nie langer in Ons rus en bespiegelings nie!”
[13] Daarop word die Grieke deur vrees bevang, en hulle gaan vinnig by Ons weg en haas hulle verder.
[14] Toe Ons hulle uit die oog verloor, staan Ons ook op en loop verder langs die oewer. Na ongeveer twee uur kom Ons in die omgewing van die dorp Kis. Nou verlaat Ons die oewer en gaan op die breë weg loop, waarop `n man enige afstand voor Ons langsaam wandel, wat diep in gedagtes versonke was. Hy merk gladnie dat Ons hom genader het nie en loop gewoon verder. Eers toe Ek baie naby hom kom, kyk hy om en skrik gewoonweg, toe hy merk dat Ons, wat nie baie was nie, so naby aan hom was.
[15] Ek spreek hom aan en sê: “Philopold! Herken jy My dan nie - en jy het nog wel sedert vanmôre vroeg in jou hart aan niks anders as net aan My gedink nie!”
[16] Nou kyk Philopold My heel verras aan en val My van blydskap om die hals. Aanvanklik kan hy nouliks spreek; maar My liefde en vriendelikheid gee hom weldra die nodige moed, en Ons spreek `n uur lank met mekaar oor baie dinge; die leerlinge verheug hulle baie daaroor, en toe die nou heeltemal gelukkige Philopold navraag by hulle doen oor die dinge wat Ek hom vertel het, gee hulle hom `n getroue getuienis.
[17] Ons bly wel meer as `n uur op die plek staan waar Ek Philopold uit sy droom gewek het, en Ons Philopold kom met steeds nuwe vrae by My, waarop Ek hom graag antwoord gee; en Ons sou nog langer op die plek bly staan het, as vriend Kisjona, wat van die Grieke berig ontvang het van My koms, My nie met `n paar van sy vriende met ope arms tegemoet gesnel het nie.
[18] Dit spreek vanself wat `n groot vreugde Ek Kisjona besorg het deur die onverwagte besoek, en dit is dus nie nodig om nou `n uitvoerige beskrywing daarvan te gee nie. Kortom, Ons verlaat die plek en trek heel opgewek en gelukkig na die groot woonhuis van Ons vriend, terwyl dit nog ruim `n uur voor sonsondergang was, en Kisjona gee sy bediendes onmiddellik opdrag om vir `n uitstekende aandete te sorg.
[19] In die tyd woon egter ook die moeder van My liggaam in Kis, saam met Joël, `n seun van Josef, in `n huis wat Kisjona vir haar ingerig het; en Kisjona vra My of hy haar van My aanwesigheid op hoogte moes stel.
[20] Maar Ek sê aan hom: “Laat dit nog maar netso; want Ek sal vanaand Self saam met jou, Johannes en Jakobus na haar toe gaan en haar saam met haar vriendinne hierheen bring vir die aandete. Maar gee Ons nou voorlopig `n bietjie brood en wyn, omdat My leerlinge al honger en dors het!”
[21] Dit gebeur onmiddellik, en Ons laaf Ons, terwyl Ek baie oor My reis en die resultate daarvan vertel.
[22] Kisjona en sy vriende en ook sy kinders verbaas hulle bowemate oor dit wat My reis teweeggebring het.
[23] Ons Philopold sê steeds maar: “Ja, groot is die Heer, die Leeu van Juda, en vol heerlikheid is Sy Naam! Alleen die Heer kan sulke dinge doen! Die waarheid van die hemele, uit U mond aan die mense verkondig en bewys met dade wat alleen vir God moontlik is, moet selfs die klip wel bekeer en siende maak!”
[24] Almal prys die uitspraak van Philopold, en Kisjona sê aan My leerlinge, wat Philopold se woorde ook baie prys: “Ja, beste vriende, Philopold is die leraar van ons almal! Hy het ons baie duidelik gemaak wat vir ons na `n raaisel lyk, ondanks alles wat onsself gehoor en gesien het; daarom is hy ook ons aller mees geliefde en hoog geagte vriend en sal dit ook altyd bly.”
[25] Ek sê: “Daarom het Ek hom ook aan julle gegee en hom verlig, en julle doen goed daaraan om hierdie wyse uit Kana in Samaria in My Naam by julle te hou; in die toekoms sal hy nog groter dinge kan verrig as tot nou toe.”
[26] In die loop van hierdie gesprekke sê Petrus aan My: “Heer, toe ons Kana vandag verlaat het, het U eers die Perse geseën en ook die herbergier en sy hele huis in Woord en daad; maar die vier Indo-Judeërs skyn U, uiterlik gesien tenminste, tog te vergeet het! Hulle het tog terwille van U so `n ver reis gemaak!”
[27] Ek sê: “Wat gaan dit jou aan? Toe Ons vertrek het, was hulle nie daar by nie, aangesien hulle die sinagoge gaan bekyk het. Maar tog het Ek uitstekend vir hulle gesorg. Hulle het vandag na die middagmaal tog nog uit Kana vertrek en sal oor `n uur hier aankom, en dan sal dit deur jou veronderstelde nalatigheid tog nog wel goedgemaak kan word, daarom kan jy heeltemal gerus wees. Bowendien is hulle deur die herbergier en deur die Perse meer as voldoende van alles voorsien met betrekking tot hulle terugreis, en dit alles deur My verborge sorg, en dit is meer werd as `n uiterlike afskeidsgroet!”
[28] Daarmee was Petrus tevrede, en almal verheug hulle daaroor om hierdie familie ook in Kis te sien, te spreek en goed te versorg.
[29] Kisjona wil hulle selfs dadelik bodes tegemoet stuur en vra My om aan hom te beskryf hoe hulle daar uitsien. Dit vertel Ek hom ook, met die opmerking daarby dat hulle op vier muile sou kom, wat aan hulle deur die herbergier geskenk was om hulle terugreis na hulle huis te vergemaklik.
[30] Met hierdie beskrywing stuur Kisjona hulle langs die weg, wat Ek hom gee, twee bodes tegemoet, met die opdrag dat hulle hulleself deur die familie geen tolgeld moes laat betaal nie. Die bodes gaan die vier dadelik op die aangeduide weg tegemoet wat na `n uur behoue en wel by Ons in Kis aankom, waar Kisjona, Philopold, My leerlinge en ook alle ander vriende van Kisjona baie bly oor was.
|
|
|
|
|