|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 167
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die weemoed van die Romein by die mooi uitsig
167 Toe Ons op die berg aankom, bewonder die Grieke en die Romein die mooi omgewing.
[2] Die Romein sê: “Werklik, so `n heerlike landskap na alle kante toe het ek nog nooit gesien nie! As mens op hierdie aarde altyd jonk, kragtig en gesond sou bly en van die nodige voorsien sou wees, sou mens aan so `n omgewing ook `n ewige vreugde kan belewe.
[3] Maar die menslike gemoed word gereeld vervul met groot weemoed by die aanskoue van so `n pragtige landskap, as mens daarby steeds moet dink: Nog maar `n kort tyd is hierdie vreugde jou gegun, en dan sal jy op pynlike wyse vir ewig daarvan afstand moet doen. Maar wat kan die swak mens anders daaraan doen as sug, omdat hy `n lewe, wat dikwels ook op hierdie aarde baie mooi en aangenaam is, al so vinnig moet verlaat en die bekoorlikhede en skoonhede van sulke wonderlik pragtige streke van hierdie aarde nie meer kan aanskou en daarvan geniet nie? U wil dit nou eenmaal so, o Majesteit en Heer, en die arme, magtelose mens moet hom voeg volgens die almag van U wil.”
[4] Ek sê: “Vriend, nou het die ou, blinde Romein en heiden weer uit jou gespreek, en ondanks jou voorbeeldige sterk en lewende geloof in My, het jy laat blyk dat jy nog gladnie ingewy is in die geheime van die ware, innerlike sielelewe nie!
[5] Dink jy dalk dat die siel, sonder hulp van haar materiële liggaam, nie in staat sal wees om die streke van hierdie aarde te aanskou nie, vooropgestel dat sy, volgens My duidelik aan julle getoonde orde, voleindig is en haar swaar liggaam so verlaat?
[6] Wie sien dan nou die landskap, hoewel onvolmaak, deur die twee klein venstertjies onder jou voorhoof? Tog alleen jy as enige lewende siel? Die liggaam is haar immers maar vir `n korte tyd as instrument gegee om haarself, met `n korrekte gebruik daarvan, vir ewig die volle lewensvryheid en selfstandigheid te verwerf en seker te stel. Wat daar in die liggaam voel, hoor, sien, ruik, proe, dink en wil, dit is tog die onsterflike wese van die siel en nie die op sigself dooie liggaam nie, welke se skynlewe immers nie moontlik sou gewees het sonder die ware lewe van die siel nie.
[7] As jou siel nou, met alle beperkings van haar lewe, deur jou liggaam die mooi landskappe van hierdie aarde sien en reeds by die aanblik van die mees uiterlike vorm egte vreugde daaroor voel, sal sy `n nog groter vreugde en heerlikheid voel as sy met haar meer helder gesigsvermoë nie net die buitenste bas van die wesens en dinge nie, maar die hele innerlike in sy wonderbaarlike verbinding, werking en betekenis daarvan sal kan aanskou, beoordeel en begryp.
[8] Ja, wie nog so diep in sy vlees begrawe sit, dat sy siel hom by die vasstaande dood van sy liggaam ook meegetrek voel in die dood - wat `n gevolg is van haar te groot liefde vir die wêreld en die vlees - dan moet die mens natuurlik so beklaenswaardig praat soos jy, My vriend, nou gedoen het; maar die mens, in wie die siel eenmaal volgens My leer en My wil vry geword het van aardse slakke en daardeur meer volmaak en voleindig is, sal by die aanblik van so `n omgewing en landskap baie ander en hoër woorde in die mond neem.
[9] Dat `n natuurlike mens, soos wat jy nou nog een is - hoewel jy nou die Majesteit en Heer van al die bestaan en lewe met jou oë kan aanskou en met jou ore kan hoor - by die aanblik van `n pragtige omgewing weemoedig gestem raak, omdat die gevoel van sy verganklikheid ontwaak, is maar net baie heilsaam vir sy siel; want daardie gevoel is die onsterflike gees uit My in die siel van elke mens, waarsonder hulle geen lewe sou besit nie. Die gees roep die siel toe: “Wees nie vir die wêreld lief terwille van haar uiterlike bekoorlikhede nie; want hulle is almal onderworpe aan die dood en die verganklikheid! Vermaan jou, en wend jou begerige oog af van dit wat op sigself niks is nie. Keer jou in plek daarvan na binne, in jou diepste innerlike, in My, jou ware bestaan en ewige lewe, dan sal jy nie net die dooie, buitenste bas van die dinge en wesens aanskou en herken nie, maar by uitstek dit wat daar in hulle is en werksaam is, en hoe en waarom, en met welke einddoel!”
[10] Sê My nou, vriend, as dit nou so en eg nie anders is nie: Het `n mens, wat insig verkry het in sy wese en bestaan, eintlik wel rede om by die aanblik van `n bekoorlike uiterlike vorm in homself weemoedig te word, omdat hy eenmaal sy verganklike liggaam sal aflê?”
|
|
|
|
|