|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 123
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Samaritane soek die Heer
123 Toe Ons ongeveer `n uur lank op Ons heuwel met mekaar gespreek het, kom daar enkele Samaritane na die dorp Kis, wat by verskeie mense inligting vra of hulle ook wis waar Ek My bevind.
[2] Eén van die dienare van Kisjona sê, dat Ek My met My leerlinge sedert gisteraand in die dorp bevind en waarskynlik in die groot hoofgebou verblyf.
[3] Dit maak die Samaritane buitengewoon bly en opgewek, want hulle het al baie gehoor wat oor My vertel is, en ook dat Ek nog maar enkele dae gelede deur Samaria getrek het. Maar hulle het tog nie die geluk gehad om My êrens te sien of te spreek nie. Hulle laat hulle dadelik deur die dienaar na die huis bring en brand van verlange om My uiteindelik eens te sien, te spreek en te hoor.
[4] Toe hulle die groot saal binnekom, begroet hulle alle aanwesiges en vra dadelik aan die eerste die beste waar Ek was, of wie van hulle die groot Heer in alle volheid van goddelike mag en krag was.
[5] Thomas, aan wie dit gevra word, sê: “Vriende, liggaamlik bevind die Majesteit en Heer Hom op dié oomblik nie onder ons nie, maar wel in die gees! Wat wil julle dat Hy vir julle moet doen?”
[6] Die Samaritane sê: “Vriende, ons het Sy leer, en lewe en handel streng daarvolgens, en sommiges van ons het al die alles tot lewe wekkende krag van hierdie leer in hulleself gevind en loof en prys God, omdat Hy Hom nou so onmiskenbaar oor Sy volkere ontferm het! Maar dan is daar vele onder ons wat, netsoos ons, die groot Heer persoonlik sou wil sien en hoor, solank Hy nog op hierdie aarde rondwandel; maar hulle het nie die geleentheid en ook nie die middele om Hom agterna te reis nie. Daarom het hulle ons afgevaardig om Hom uit aller naam te gaan soek en Hom die passende dank oor te bring en die alleen aan Hom toekomende eer te gee. Daarom het ons hierheen gekom, en ons sal dié dorp nie verlaat voordat ons in Homself die Majesteit en Heer van alle meesters sal begroet het nie!”
[7] Thomas sê: “Wees dan geduldig; dit sal nie so lank duur voordat Hy kom nie!”
[8] Daarop gaan hulle aan tafel sit, laat hulle bietjie brood en wyn gee en luister na die gesprekke wat ons RafaEl met die sewe tempeldienare en ook met die vier Indo-Judeërs voer, en hulle verbaas hulle oor die groot wysheid van die sogenaamde jong man.
[9] GabriEl en Johannes spreek egter weer in stilte met die leerlinge. Ondanks hulle steeds baie matige leefwyse, smaak die brood en die wyn vir die Samaritane baie goed; hulle laat hulle daarom meer brood en wyn gee, eet en drink en word heel opgewek daarby.
[10] Daarby sien hulle dat RafaEl aansluitend met die verklarings oor verskillende dinge, wat hy die sewe tempeldienare en die vier Indo-Judeërs gee, ook menige wonders doen, netsoos hy al eens vroeër in Jerusalem in die teenwoordigheid van Judeërs en heidene op die Olyfberg gedoen het, alhoewel nou nie in die groot mate nie, en hulle begin mekaar oor en weer te vra wie die jong man tog wel was, wat daar so wys spreek soos Salomo en wonders doen soos Moses. Sommige dink dat hy familie van My is, ander egter dat hy `n baie goeie leerling van My was. Met hierdie verdeelde mening neem hulle voorlopig genoeë.
[11] RafaEl begin sy eerdergenoemde toehoorders egter die hele aarde, die maan, die son, die ander planete, verder nog die komete, die vaste sterre met hulle planete, die wese van die sentraalsonne en ten slotte ook dit van hulssfere, die tallose aantalle daarvan in die eindelose skeppingsruimte en die wese van die Groot Skeppingsmens in slegs enkele, maklik begryplike woorde te verklaar, en hy maak sy verklarings aanskoulik met beelde wat hy onmiddellik in die ruimte van die saal laat verskyn, wat natuurlik baie daartoe bydra dat die toehoorders die verklarings des te makliker en vinniger kan begryp.
[12] Dit was vir ons Samaritane egter tog te veel vir iemand van wie hulle gedink het dat hy maar net `n baie goeie leerling van My was, en een van hulle staan op van die tafel, loop na Thomas en vra hom: “Vriend, vergeef my dat ek so vry is om jou te vra hoe dit met hierdie jong man is! Wie, wat is hy eintlik, en waar kom hy vandaan? Die woorde van sy mond is wyser as die van Salomo, en bowendien doen hy wonders netsoos Moses vroeër in Egipte en in die woestyn gedoen het!”
[13] Daarop sê Thomas: “Vriend, wees maar geduldig totdat die Heer Self kom, dan sal nie alleen alles oor hierdie jong man vir julle duidelik word nie, maar sal julle nog baie groter dinge te wete kom! Maar julle kan julle wel voorstel, dat daar rondom die Heer allerlei belangrike hemelse magte en kragte versamel en ons mense op `n onderwysende en lewewekkende manier beïnvloed. Want die Heer is immers die sentrum van al wat is en lewe, van alle mag en krag, asook van alle liefde, waarheid en wysheid!
[14] As julle in die Heer glo, sal julle ook insien dat dergelike wesens voortdurend en altyd om Hom heen is - van tyd tot tyd sigbaar, vir liggaamlik ingestelde mense egter miskien nie altyd sigbaar nie, maar dan tog voelbaar - en aan Sy wil gehoorsaam; want hulle is self Sy altyd en ewig werkende wil.
[15] Bowendien staan daar geskryf: “In die tyd sal julle die magte van die hemele na die aarde sien neerdaal; die sal Hom en die mense wat van goeie wil is, dien. Die son, die maan en alle sterre sal hulle buig voor Sy heerlikheid! “Ja, vriend, as hierdie hemelse wesens ons blinde mense nie die oë sou open oor die tallose wonders van God se hemele nie - wie anders sou dit dan vir ons kan doen?
[16] Wie God werklik lief wil hê, moet ook weet hoe wonderbaar Hy ook in Sy werke is. Ons mense staan wel te midde van louter wonders van God, en onsself is nog die grootste wonder daarvan; as ons na onsself kyk, hoe ons gebore word, dan sien ons dat ons swak is, hulpeloos, geen taal het en sonder enige gedagte is. As `n kind nie gedurende `n lang tyd sorgsaam versorg sou word nie, sou dit baie slegter met hom voorstaan as selfs met die mees beklaenswaardige dier. Eers deur die liefdevolle sorg van die ouers word `n kind mens.
[17] En gaan nou eers terug na die eerste mens! Hoe sou hy ooit verstandig, vervul van insig en ook ander en hoër kennis kon geword het, as God hom nie deur hoër, hemelse wesens opgevoed en Homself aan hom geopenbaar het nie? As JaHWeH God ons nou nie in alle dinge Self sou onderrig en ons nie sou laat sien hoever ons onsself al van die waarheid verwyder is nie, sou die mense dermate verwilder gewees het, dat hulle ver benede die diere te staan sou kom
[18] Kyk na die tempeljode, die fariseërs en skrifgeleerdes! Hoe was hulle in die tyd van die eerste rigters en ook nog in die tyd van die eerste konings - en hoe is hulle in hierdie tyd? Hulle is in alle dinge blind, dom en bowendien vol hoogmoed en alle moontlike boosheid, en hulle haat diegene wat vanuit die hemele die lig van die ware lewe terugbring, en geeneen van hulle glo in die Heer nie, maar haat en vervolg Hom maar net waar en hoe hulle maar wil en kan.
[19] En kyk, dit is tog al `n hoë graad van slegte ontaarding en verwildering van die mense! Maar as die leraars van die volk nou op so `n lae trap van verwildering staan, waar moet die volk dan `n hoër wysheid vandaan kry, as die Heer Hom nie Self oor die volk sou ontferm nie en wat nou alle dinge deur onderrig en tekens verlig?
[20] So sien julle dan nou ook hierdie jong man deur woorde en wonderbaarlike tekens, wat hy in Naam van die Heer baie maklik kan doen, die sterrehemel verklaar vir die blinde mense, sodat die duistere en kwade bygeloof uit hulle harte verdwyn en die lig van die waarheid hulle verlig! As jy nou eers goed daaroor nadink, sal die wese van die jong man ook weldra vir jou duidelik word!”
|
|
|
|
|