|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 209
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die gevaar van die seremoniële godsdiens en seremonieel bid
209 Ek sê: “Vriend jy het nou baie goed gespreek en My hart het haar verkwik aan die bedoeling van jou woorde! Dit is dus ook reg as die mens wat vir iets bid en dank, hom daarby so gedra soos wat jy nou uiteengesit het; maar dan sou die mens ook steeds volkome in jou gesindheid moet bly, en slegs aan die innerlike die ware, waarde van die lewe toeken en die uiterlike slegs in sekere sin as `n las met hom saamsleep en dit ondergeskik maak aan sy innerlike krag; die wat op die manier bid, dank en vereer sou, netsoos gesê, heel korrek en goed en My welgevallig wees.
[2] Maar die mense bly nie soos wat julle nou oor My voel nie. Hulle begin maar al te gou `n groter waarde te heg aan die uiterlike gebare as wat hulle, ooreenkomstig die waarheid, van die innerlike lewe sou moet doen, en hulle beskou die enig ware innerlike, wat nie vergesel gaan van die uiterlike, as onvoldoende en ten slotte selfs as waardeloos; en dan gebeur dit maklik, dat bepaalde sogenaamde ingewyde en deur God uitverkore en geroepte priesters die volk begin te mislei deur te sê dat dit vir `n gewone mens voldoende is om slegs die uiterlike, wat deur hulle voorgeskryf is, in ag te neem en hoog te vereer. Want volgens hulle is die eie innerlike woord, wat die mense self in biddende of dankende sin tot God rig, sonder enige waarde in God se oë en rig dit niks uit nie, omdat God nie net absoluut geen welbehae daarin het nie, maar slegs `n teregte misnoeë daaraan beleef, aangesien `n dergelike eiemagtige innerlik bid, vra en dank, deur God as `n brutaliteit en godslastering beskou word.
[3] En waar lei dit ten slotte heen? Kyk, die mense verwyder hulleself steeds meer van God, in plaas van Hom in hulle hart, in die liefde en in die ware, lewende geloof en vertroue steeds meer te benader! Die vertroulike, ware en suiwer liefde word verander in `n spookagtige vrees, en die lewende geloof in die waarheid, in `n duister heidense bygeloof, waarmee dit `n priesterkaste, wat traag en tot elke bedrog in staat is, in aardse opsig heel goed laat gaan. Daarby versmag die sogenaamde gewone mense gereeld radeloos in allerlei geestelike nood en vertwyfeling, duisternis, armoede en blindheid, waarmee dikwels ook hulle liggaam nie meer die voeding kan verskaf wat dit nodig het nie; want die sogenaamde, as enigste deur God geroepte priesters, wat hulle soos vlieë vermeerder en traag en werksku is, terwyl hulle die arme volk allerlei beloftes maak oor hemelse vreugde aan die anderkant en nog gereelder gruwelik bedreig met ewige helse straf, kwellings en pyne, en so werklik alles voor hulle mond wegroof en daarmee hulle buik vetmes, net soos wat jy dit nou, sowel by die fariseërs, asook by alle heidense priesters kan sien.
[4] En kyk, dit ontstaan alles so geleidelik aan uit die uiterlike gebare by die vra, dank en bid, wat aanvanklik natuurlik heel onskuldig en selfs sedelik passend blyk te wees; en dan moet God uiteindelik deur die mond van nuwe opgewekte profete weer tot die mense roep en skreeu: “Kyk, die volk eer My met die lippe en met ydele en sinnelose wêreldse seremonies - maar hulle hart is ver van My!”
[5] Onthou dus die volgende en maak dit tot `n bestendige leidraad vir julle lewe: God is in Homself een Gees, vol Liefde, Waarheid, Wysheid en Mag, onveranderlik sedert ewigheid, en kan dus ook maar net aanbid word in die gees en in die waarheid, wat inwendig in die mens is.
[6] As iemand dus `n versoek het, naamlik of God, die enig ware Skepper en Vader van alle mense en engele, hom by die een of ander wil help, dan moet hy met sy versoek nie na `n tempel of `n sinagoge en ook nie na `n priester gaan nie, maar hom afsonder in `n kamertjie - en veral daardie baie stille kamertjie van sy hart - en daar tot God bid en Hom, die mees liefdevolle Vader, om die regte hulp vra. Dan sal die Vader, wat alles selfs in die diepste verborgene hoor en sien, aan diegene wat alleen op dié manier op die regte manier en in die gees van die waarheid lewend bid, altyd graag gee waarvoor hy met reg gevra het, daarvan kan julle almal volledig verseker wees. Maar op `n gebed, wat openlik en in die teenwoordigheid van die mense ten toon gesprei word, waarmee die hart dikwels heel weinig voel, sal die Vader in die hemel nooit Sy almagtige “Amen” uitspreek nie.
[7] Begryp dit alles en onthou dit buitengewoon goed, en handel ook daarvolgens, as julle jul nakomelinge nie tot `n nog duisterder heidendom wil sien oorgaan as wat nou op hierdie aarde oral onder die mense die gewoonte is nie.
[8] Die bevallige maak van gebare kan vir ydele, blinde, trotse en eersugtige mense weliswaar iets van waarde lyk; maar by die Een wat die ewige liefde en waarheid Self is en altyd die diepste innerlike en waaragtige in die gees lewend deurskou, geld nie die gebaar nie, maar slegs die lewende, mees innerlike waarheid van die lewe.
[9] As julle die Vader vir iets vra, vra Hom dan nie soseer om die goedere van hierdie aarde nie, waarna die blinde en dwase heidene en ook die godvergete Judeërs en fariseërs strewe nie, maar vra Hom veeleer om die onverganklike skatte vir siel en gees, dan sal dit vir niemand weerhou word nie. Wat die goedere egter betref wat vir die tydelike lewensonderhoud noodsaaklik is, die sal daar sonder meer vry bygegee word aan elkeen wat sy strewe en vra en soek alleen rig op die ryk van God en die liefdevolle geregtigheid daarvan.
[10] Wie sterk in die gees en derhalwe in die ryk van God geword het, sal ook `n meester wees oor die dinge van die wêreld en sal nooit `n groot gebrek aan voedsel vir sy liggaam hoef te verduur nie; maar dit is beter - ook vir diegene wat in die gees gewek is - om te swelg in die goedere van die hemele van God en hom tewens `n klein gebrek aan goedere van hierdie aarde te laat welgeval. - Onthou dit ook en neem dit inderdaad in ag!”
|
|
|
|
|