|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 31
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die heidense dorp met die tempel van Mercurius
31 Daar staan egter nog baie volk op straat wat My nog `n keer wil sien en spreek; want die dienare van Zaggeüs het bekend gemaak wat Ek met sy seun gedoen het. Maar Ek laat My nie van wysie bring nie en loop sonder My te laat ophou vinnig tussen die menigte deur. Omdat enkele honderde mense My egter wil begelei, bly Ek staan en beduie aan diegene wat My agterna loop dat hulle moes omdraai en na huiswaarts moes keer, wat hulle dan ook doen.
[2] Maar terwyl Ek so deur die volk opgehou word, dring `n vrou deur die menigte na My toe, wat al verskeie jare aan bloedvloeiing ly en deur niemand gehelp kon word nie. Die vrou raak My mantel aan in die volle geloof dat dit haar sou help, en op dieselfde oomblik word sy dan ook genees.
[3] Om die leerlinge en die ander mense te beproef vra Ek: “Wie het My in geloof aangeraak? Want Ek word gewaar dat daar krag van My uitgaan.”
[4] Die leerlinge en verskillende ander mense sê: “Daardie opdringerige vrou het U aangeraak!”
[5] Toe val die vrou aan My voete en vra My om vergewing; want sy was bang dat sy daarvoor gestraf sou word.
[6] Maar Ek sê aan haar: “Staan op en gaan na jou huis; want jou geloof het jou gehelp! Maar sondig nie meer nie, as jy gesond wil bly!”
[7] Toe staan die vrou dadelik op en keer huiswaarts, onderwyl sy God se mag loof.
[8] Onmiddellik daarna stuur Ek die volk weg en gaan saam met die leerlinge weer vinnig verder.
[9] Baie gou kom Ons in `n woeste streek, waar die weg deurheen loop. Op daardie tydstip loop daar geen reisigers nie, en so kon Ons ongesiens die afstand, wat andersins ongeveer tien uur in beslag sou neem, op die reeds bekende manier in nog geen halfuur aflê nie en `n streek bereik, wat gedeeltelik deur Judeërs en gedeeltelik deur Grieke bewoon was, en waar Babiloniërs hulle gevestig het.
[10] Ons kom by `n dorpie wat aan die Grieke toebehoort. Midde in daardie dorpie is daar op `n heuwel `n tempel, wat aan die heidense god Mercurius gewy was. Vir die verdra van die heidense tempel in die Judese land moes die bewoners van daardie dorp egter jaarliks `n aansienlike skatting betaal aan die tempel in Jerusalem, waarna hulle van die tempel dan toestemming kry om hulle god Mercurius weer gedurende `n hele jaar offers te bring en bepaalde feeste ter ere van hom te hou. Vandag - vir die Romeine was dit `n dag van Mercurius, hoewel dit vir die Judeërs die dag na die Sabbat was - was dit egter juis `n feesdag van die bogenoemde heidense god, en die Grieke was druk besig met hulle afgod.
[11] Toe Ons op die plek arriveer, stop die Grieke Ons en verlang dat ook Ons volgens `n ou gebruik, dus uit `n soort beleefdheid, Ons knie vir die afgod moes buig.
[12] Maar Ek sê aan hulle: “Luister, julle blinde heidene moet julle knieë en harte liewer vir die enig ware God van die Judeërs dien te buig! Want hierdie dooie en magtelose afgod van julle is `n werk van mensehande, en dus baie minder as die kleinste, onaansienlikste mosplantjie; die een en enig ware God van die Judeërs het egter suiwer vanuit Homself hemel en aarde en alles wat hulle dra, geskape. Daarom moet alle mense alleen in die een, ware God glo, Hom alleen aanbid en geen ander, dooie afgode hê en dit met allerlei dwase en die menslike waardigheid onterende seremonies eer nie.”
[13] Een Griek sê: “As ons in Jerusalem kom weier ons nie om ons knieë te buig vir julle god nie, hoewel ons baie goed weet dat daar in die groot tempel van Salomo geen god in watter gedaante dan ook is nie. Die Judeërs het maar net `n kis, waaruit op bepaalde tye `n naftavlam oplaai, wat egter as so heilig beskou word, dat dit alleen deur die opperste en hoogste Judese priester enkele kere per jaar gesien en aanbid mag word. Maar ons weet ook dat die kis net soos hierdie god van ons deur mensehande gemaak is; hoe kom Jy dan daarby om te sê dat die god van die Judeërs die enig ware is en vanuit Homself hemel en aarde geskape het, waarom dan ook alle mense in Hom moet glo, Hom alleen moet aanbid en eer en geen afgode moet hê nie?
[14] Vriend, dit skyn my toe dat ons mekaar heeltemal niks te verwyt het nie, as dit gaan om die waarheid welke god die egte is! In ons gode, wat simbole is van die verskillende kragte van die natuur, eer ons maar net die deur ons min meer of bekende kragte van die groot natuur, en nie die deur mensehande gemaakte beeld en die tempel wat daarby behoort nie, en dit is tog seker wyser as julle Judeërs wat `n ou kis met die bybehorende tempel vir die enig ware God beskou en aanbid! Deur hier van julle te verlang dat julle in die verbygaan beleefdheidshalwe julle knieë moet buig vir ons Mercurius, wil ons julle egter nie afvallig maak van die Judeërdom en sodoende verlei tot `n sonde teen julle god nie!
[15] Maar as jy en al jou metgeselle ons `n feitelike bewys kan lewer dat slegs julle god die enig ware is, ondanks my verstandige argumente teen die deur julle beweerde waarheid, dan is ons nie so eiesinnig dat ons onsself nie baie vinnig en sonder enige moeite enkel en alleen tot julle God sal wend nie!”
[16] Ek sê: “Vriend, `n dergelike bewys kan Ons jou wel lewer, sonder om te verlang dat julle jul knieë voor Ons moet buig; maar Ek moet julle vooraf `n voorwaarde stel waaraan julle eers moet probeer voldoen, om te sien of dit julle geluk of nie. As dit julle geluk, dan sal ook Ons ons knieë buig vir julle Mercurius en daarna as Judeërs verder reis; as dit julle nie geluk om aan die voorwaarde te voldoen nie, dan sal Ek julle die feitelike bewys lewer dat die God van die Judeërs die enig ware is en sal julle jul van julle duur gode afkeer en uit eie vrye wil julle hart en knieë vir Ons God buig.
[17] Die voorwaarde is as volg: Julle het julle afgod gister en vandag al geëer en die offers in die tempel neergelê, en daarom moet die afgod goedgesind wees en `n bede wat tot hom gerig is, vinnig verhoor.
[18] Kyk, daar op die trap van die tempel sit `n blind gebore meisie van twaalf jaar oud! Sy is die liefling van haar welgestelde ouers, en hulle sou alles daarvoor gee as die gesigsvermoë aan haar gegee kon word! Wend julle dus almal tot julle god met die bede of hy die oë van daardie blinde meisie wil open! Want sulke blindes kan geen mens op die hele aarde genees nie; dit kan alleen `n almagtige God. As julle god die blinde meisie genees, dan sal Ons Onsself ook voor hom buig; maar as hy haar nie genees nie, netsoos wat verwag word, dan sal Ek haar genees met die krag van die Gees van Ons God, wat in My woon, maar nadat die meisie siende geword het, sal Ek vanaf die plek waar Ek nou staan ook die tempel met die afgodsbeeld in één oomblik sodanig vernietig, dat julle nie eers meer die plek sal herken waar die tempel met die afgodsbeeld nou staan nie. Gaan en vervul die voorwaarde wat aan julle gestel is!”
[19] Die Griek, wat ook die vader van die blinde meisie was, sê: “Vriend, ons sal die poging aanwend, netsoos ek al enkele kere gedoen het - helaas altyd sonder die minste resultaat! Maar wat kan ons van julle verlang, as jou enig ware God miskien ook Jou, Vriend, in die steek sal laat en Jou verlange nie verhoor nie? Want oor die onderwerp het ek al met baie Judeërs gespreek wat ook baie ernstig in hulle God glo, en elkeen van hulle het my eerlik toegegee dat dit met die direkte verhoor van die gebede wat julle tot Hom rig, ook gladnie so maklik gaan nie. Maar daarmee wil ek nie in twyfel trek wat Jy belowe het om te doen nie, omdat daar in Jou woorde `n baie sekere vertroue deurklink. Maar as die resultaat van jou God ten slotte tog soos dit van ons god lyk, wat dan?”
[20] Ek sê: “Dan sal Ons lewenslank julle slawe wees! Maar gaan nou na julle god en lê hom julle vraag voor!”
|
|
|
|
|