|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 136
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die Heer en die arme visser
136 Die beklaenswaardige vissers merk Ons egter ook op, en een van hulle klim in `n boot, vaar na Ons toe en bekyk Ons, om te wete te kom wie Ons was. Toe hy die herbergier onder Ons ontdek, dink hy by homself dat die vir hom bekend was, stel daarom verder geen vrae nie en wou weer na die vissers terugvaar.
[2] Maar Ek sê aan hom: “Vriend, kom maar heeltemal by Ons aan land, dan sal Ek jou iets heel besonders sê!”
[3] Toe keer die bootsman weer om, stoot teen die vaste oewer, bind die boot met `n tou aan `n meerpaal vas, stap kordaat na My toe en vra My: “Goeie Man, hier is ek! Wat besonders het Jy my dan te vertel? Spreek, want ek het geen tyd om lank te wag nie, aangesien die dag al ten einde begin te loop en ons die hele dag nog maar weinig vis gevang het!”
[4] Ek sê: “As jy in My sou glo, sou Ek jou en jou metgeselle aan `n ryk vangs kan help! Maar dan sou jy môre na My toe moet kom en My volg!”
[5] Die visser sê: “Goeie Man, waarom sou ek nou in Jou moet glo, en wat moet ek van Jou glo? Ek kan my tog nie herinner dat ek Jou ooit êrens gesien het nie, en weet dus ook nie wie Jy is nie. Maak Jou eers aan my bekend, dan sal ek Jou glo. Maar of ek môre na Jou toe sal kom en jou dan sal volg waar Jy ookal heengaan, dit hang nie van my af nie, maar van diegene vir wie se lewensonderhoud ek moet sorg. Wat is dit, wat ek van jou moet glo?”
[6] Ek sê: “Het jy nog niks gehoor oor die man wat in Nasaret opgestaan het en nou alle mense die ewige Godsryk bring en dit uit eie mag ook gee aan almal wat in Hom glo en Sy leer as `n volkome suiwer, lewende Godswoord wil aanneem?”
[7] Die bootsman sê: “Beste Man, oor die groot Heiland Jesus van Nasaret het ek al baie gehoor en ek glo ook in Hom, hoewel ek Hom nog nooit êrens gesien het nie! As dit miskien Jy is, sê my dit dan, dan sal ek voor Jou kniel en Jou aanbid; want met die Heiland is JaHWeH God as te ware in één persoon sigbaar verenig, netsoos ek gehoor het van mense wat met Hom te make gehad en ook Sy leerlinge geword het.”
[8] Ek sê: “As jy dan in Jesus van Nasaret glo, en dat die volheid van God se Gees liggaamlik in Hom woon, keer dan nou rustig na jou vissers terug en werp julle net nog `n keer in die water; en as julle dan `n ryk vangs gemaak het, sal daar wel `n lig vir jou opgaan, waaruit jy maklik sal kan vasstel wie Ek is, en dan sal jy vandag nog na My toe kom en jou deur My met die gees van die waarheid en van die lewe laat doop. Maar vra nou nie verder nie, maar doen wat Ek jou aangeraai het!”
[9] Daarop buig die visser voor My, stap vinnig na sy boot, vaar behendig terug na sy makkers, wat al aanstaltes begin te maak om hulle nette in te trek, en vertel hulle wat Ek hom aangeraai het.
[10] Toe roep hulle almal luid, sodat Ons dit op die oewer kan hoor: “Heil die Een wat jou die raad gegee het! Hyself is die Een in wie ons glo! Wat hy jou aangeraai het, wil ons doen! Hosanna aan die hoë Seun van Dawid, wat tot ons redding gekom het in die Naam van JaHWeH! En nou baie sukses in Sy Naam - laat ons die nette uitgooi!”
[11] Toe gooi hulle hulle nette uit en binne enkele oomblikke word dit met soveel visse gevul, dat die nette hulle nouliks kon bevat, en die vissers, wat so `n man of twintig was, het meer as `n uur gewerk om alle visse uit die nette in die dravaatjies oor te bring.
[12] Toe hulle klaar was met die werk, begin hulle te juig en hulle prys God, wat Sy Naam in die Seun van Dawid so seer verheerlik het, en met hulle ryk vangs vaar hulle na hulle klein dorpie, wat vlakby die plek Jesaïra lê.
[13] Toe hulle met hulle ryk buit tuis aankom en hulle verwante sien met watter groot hoeveelheid visse hulle tuis gekom het, kom daar geen einde aan die verbasing nie. En die verwante sê: “Luister, soveel visse, en vir die merendeel slegs edele visse, het julle selfs in die mees gunstige tyd nog nooit gevang nie! Daar moes `n wonderwerk vir julle gedoen gewees het deur een of ander vroom en God baie welgevallige mens, netsoos daar nou verskillende skyn te wees, sedert die groot Heiland uit Nasaret rondtrek en met goddelike krag en stem die mense die waarheid leer!”
[14] Die vissers gee hulle verwante gelyk en vertel hulle hoe dit gegaan het; en die verwante begin toe ook vir God te loof en te prys, omdat Hy so `n mag aan `n mens gegee het.
[15] Maar die visser, wat tevore in `n boot by Ons aan land gekom het, sê: “Luister, hierdie mens Jesus van Nasaret is nie soos `n profeet wat maar net kan sê en doen wat hom deur God se Gees gegee en toegestaan word nie, maar Hy is iemand in wie die volheid van God se Gees, Krag en Mag liggaamlik woon; want Hy sê nie net netsoos die profete nie: “Die Heer het tot my gespreek: “Open jou mond en verkondig die volk My wil en spreek so tot diegene wat My vergeet het - en doen dit en dat nie!" Want ons Jesus sê: “Ek is die Heer en julle is almal broers, en niemand van julle moet hom bo die ander verhef nie!” En aan die siekes sê Hy: “Ek wil dit - wees genees!”, en dan word die sieke op dieselfde oomblik genees. Wie blind was, sien skerper as `n adelaar, en wie verlam was, spring soos `n hert. En as Hy aan `n dooie sê: “staan op en loop!”, dan rig die dooie hom vol nuwe lewe op en wandel opgewek en bly rond.
[16] Sien, dit en nog baie meer getuig duisende mense nou, wat dit met hulle eie oë gesien en met eie ore gehoor het, en daarom glo ek dat die volheid van God se gees liggaamlik in die mens Jesus uit Nasaret woon; maar vele, vele duisende steur hulle aan die feit dat Hy sigbaar mens is, en hulle noem Hom `n groot profeet uit die stam van Dawid, wat Hom in die gees tog self sy Heer noem!
[17] Maar as daar in die Skrif staan dat God die mens na Sy ewebeeld geskape het en dat Abraham God in die gestalte van `n man gesien het, netsoos Jakob-Israel, waarom sou iemand hom dan nou teen die volle manlike gestalte van die Heer Jesus uit Nasaret moet stoot en nie volkome glo dat in Hom dieselfde Heer woon wat Moses op die Sinai geroep en hom die wette vir Israel gegee het nie?!
[18] Maar omdat ek volkome sonder enige twyfel glo dat dit met Jesus uit Nasaret inderdaad so is, gaan ek nou onverwyld op pad om vinnig na Jesaïra te loop, waar Hy persoonlik verblyf by die herbergier wat julle almal goed ken vanweë sy opregtheid. Daar wil ek Hom vir die eerste keer persoonlik nog beter leer ken; en as ek terugkom, sal ek niks vir julle verborge hou nie.”
[19] Nog enkele vissers sê: “Ook ons wil Hom persoonlik leer ken - en omdat ons Hom vanaf die skip luid roepend ons woord gegee het om nog vanaand, in plaas van môre in alle vroegte na Hom toe te kom, gaan ook ons saam met jou na Jesaïra! Maar laat ons `n paar van die mooiste en beste edelvisse saamneem, wat die herbergier vir die Heer moet voorberei!”
[20] Dit geval elkeen, en twaalf vissers, elkeen van hulle belaai met drie visse, gaan dadelik, nadat die son heeltemal onder gegaan het, in die vallende skemering op weg en kom sonder moeite en vinnig by Ons in Jesaïra aan.
|
|
|
|
|