|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 175
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die arts kan geen verklaring vind vir die wese van RafaEl nie
175 Hierop loop die arts nader aan RafaEl en voel aan sy hande. Toe hy daarmee klaar was, sê hy: “Ja, pragtige en stellig ook salige vriend, jou uiterlike is werklik onmiskenbaar van geestelike aard; want die onbeskryflike sagtheid en blankheid van die vel van jou liggaam en die eteriese van jou geplooide gewaad verkondig hardop dat so-iets nog nooit by `n mens aangetref en gesien is nie. Maar die stewige krag van jou arms het ek nou gevoel, wat niks van geestelike aard in het nie en toon dat jy jou, afgesien van jou geestelike mag en krag, ook vanweë jou natuurlike spierkrag en stewigheid met menige worstelaar sou kan meet - en tog het jy `n volkome suiwer gees! Hoe moet ek dit begryp?”
[2] RafaEl sê: “Wees nog net so `n bietjie geduldig, dan sal jy dit weldra beter begryp! Voel nou nog eers `n keer aan my en oortuig jou daarvan of ek nou ook nog iets liggaamlik aan my het, en oordeel dan met die helderheid van jou insig en met die krag van jou verstand!”
[3] Hierop voel die arts nogmaals aan die hande van RafaEl. Toe hy hulle egter met sy vingers met manlike krag vaspak, voel hy maar net lug; want sy vingers kom ongehinderd teen sy eie handpalm en voel niks liggaamlik daartussen nie; en tog sien die arts RafaEl net so voor hom soos voorheen, maar natuurlik meer met die oë van sy siel as met die van sy liggaam. Toe hy ook dit ervaar het, raak hy in verleentheid en wis hy nie wat hy daarvan moes sê nie.
[4] Eers na `n rukkie van diepe nadenke sê hy, nie soseer aan RafaEl nie, maar meer aan homself (die arts): “Dit lyk soos bestaan en non-bestaan! So pas nog `n heel stewige liggaam en nou - weliswaar nog dieselfde gestalte, maar sonder ook maar die minste voelbare wese! Hoe kan die menslike insig dit begryp en selfs die skerpste menslike verstand dit beoordeel? Hierby staan my insig en verstand stil! O hoogs heerlike en salige vriend, dit moet jy vir my uitlê, anders sal dit vir ons Grieke nog moeiliker wees as voorheen om helderder en beter te begryp wat die ryk van God inhou.
[5] Jy is daar, want ek sien jou en hoor jou helder stem, en tog is jy nie heeltemal daar vir die gevoel van my hande nie! Maar ook al sien ek jou nou meer met die oë van my siel, as met die van my liggaam, het ek die tweede keer tog net so met my vleeslike hande aan jou gevoel soos die eerste keer, waarmee ek jou liggaam baie goed waargeneem het. Hoe kan dit? Of het ek dalk net met die hande van my siel aan jou gevoel, soos in `n droom, wat vir die liggaamlike miskien net so onwerklik is as die fisiese of geestelike vir die liggaamlike? Maar as dit so is, word dit moeilik vir die menslike insig om sowel in die materiële wêreld van die liggame, asook in die van die geeste iets wat werklik bestaan, te ontdek; want die eerste het vir die tweede so goed as geen waarde nie, en omgekeerd net so - en tog staan hulle vir die gesigsvermoë en die gehoor as iets wat bestaan teenoor mekaar!
[6] Hoe is dit dan, wie kan dit begryp? Jy is iets wat bestaan - maar tegelyk bestaan jy nie heeltemal vir my tassin nie; en dieselfde moet ek ten opsigte van jou wees, en so is ons albei sigbaar en hoorbaar iets wat bestaan - en wat die eintlike lewensgevoel aangaan, tog heeltemal niks nie! Wat is dit - `n bestaan sonder bestaan, en ook `n non-bestaan sonder non-bestaan?! Vriend, geen mens kan dit met sy insig vat nie, en sy verstand word daarby `n ysterpilaar, waaraan die wilde storms van die tyd net so lank lek totdat hy uiteindelik, ondanks sy hardheid, tog volledig ten gronde gaan!
[7] Wie en wat is die storms? Geen menslike oog het hulle eintlike wese ooit aanskou nie; slegs die tassin voel hulle vlugtige gang. Maar die pilaar is magtig, en staan daar, vir alle sintuie van die mens waarneembaar. Hoe kan die ontketende storms mettertyd die vernietiging daarvan bewerkstellig - en waarom bewerkstellig die pilaar, wat vir alle lewenssintuie van die mens bestaan, nie die vernietiging van die storms nie? Wat is die verstand van die mens, wat die pilare uitvind en hulle ondanks alle storms neersit? Die werk lewe langer as die verstand self, wat die skepper daarvan is, en die dooie verstand kan die lugtige storms nooit meer beveel om sy stewige werke te ontsien nie.
[8] O my hemelse vriend, met die ervaring wat ek nou met jou opgedoen het, het dit vir ons mense nie bepaald makliker geword om die wese van die ryk van God te begryp nie, tensy jy hierdie saak self nader en duideliker vir ons ophelder! Ek sou tot die einde van alle tye daaroor kan dink - as dit moontlik sou wees - en tog voortdurend op dieselfde plek staan waar ek nou staan. Is jy iets, of is jy niks, of is ek niks, ondanks my gevoel dat ek nou bestaan?”
|
|
|
|
|