Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 67

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die Fariseërs en skrifgeleerdes versoek die Heer

(Lukas 17:20-21)

67 Teen die aand was ook alle fariseërs, rabbi’s en `n skrifgeleerde, wat in hierdie markplek `n amp beklee het, egter in hierdie herberg en die herbergier stel hulle op die hoogte daarvan, in die veronderstelling dat hy My daarmee `n aangename geselskap sou besorg, omdat Ek, wat vroeër die tien op baie wonderbaarlike wyse van hulle kwaadaardige melaatsheid gereinig het, nou ook sy gas was en My met enkele metgeselle in die groot eetsaal bevind het.

[2] Toe die fariseërs, die skrifgeleerde en die rabbi`s dit van die herbergier gehoor het, staan hulle dadelik op van hulle tafel en sê onder mekaar: “Goed so, ons sal Hom hier aan die tand voel om te sien of dit inderdaad so met Hom gestel is, soos wat nou wyd en syd en selfs onder die heidene bekend geword het. Mense sê dat Hy die beloofde Messias van die Judeërs is en die ryk van God op aarde sal stig. Ons sal sien hoe Hy Hom teenoor ons sal staande hou.” 

[3] Met daardie voorneme kom hulle dan ook, begelei deur die herbergier, by Ons in die groot eetsaal aan, laat dadelik `n tafel vir hulle dek en laat die beste wyn en die beste brood en goed bereide visse en nog ander spyse opsit. Toe die tafel ryklik en tot groot genoeë van hulle dik buike voorsien was, gaan hulle sit en laat deur hulle woorde en gebare merk dat hulle die seggenskap in hierdie plek gehad het.

[4] Ons was egter heel onverskillig teenoor hulle, asof Ons nouliks gemerk het dat hulle in Ons eetsaal plaasgeneem het; Ons eet en drink en praat oor baie onbelangrike dinge. Ook na Ons tafel toe word die visse nou gebring en Ons begin te eet.

[5] Die fariseërs merk dat Ons die baie kosbare edelvisse eet en ook die beste wyn daarby drink. Toe wend `n fariseër hom tot die herbergier en sê: “Waarom het jy nie vir ons ook sulke visse laat voorberei nie? Is ons dalk minder as hierdie Galileërs, waar ons van hulle goed ken?” 

[6] Die herbergier sê: “Minder of nie minder, dit maak nie vir my saak nie; wat iemand bestel, dit kry hy ook! Wat julle bestel het, staan ook op julle tafel; maar as julle ook edelvisse wil hê, daar is nog tyd om dit ook vir julle te laat voorberei, soveel julle wil!”

[7] Die fariseërs het egter geweet dat dergelike visse baie duur was en dat die herbergier Ons vir dergelike spyse steeds goed sal laat betaal, en daarom bestel hulle geen edelvisse nie. Maar een van die fariseërs sê, om hulle gierigheid goed te praat: “As ons nie sulke visse as eerstes kan kry nie, dan wil ons hulle ook nie as tweedes hê nie!”

[8] Die herbergier sê: “Julle kan nou sê wat julle wil, dit bring my nie in die minste van wysie af nie! Wie kan my verplig om iemand wat maar net iets te ete gevra het, sonder om te bepaal waaruit die voedsel moet bestaan, te gee wat ek wil, en wie kan my beveel om iemand in plaas van dit wat hy duidelik verlang het, iets anders op die tafel te sit? Kortom, by my geld die aloue grondreël: Elkeen kry syne!”

[9] Die fariseër sê: “Daarin het jy wel gelyk, en ons kan niks daarteen inbring nie; maar tog is dit eienaardig van jou, omdat jy nou nie bepaald die naam het dat jy `n vrygewige man is nie, dat jy juis ten aansien van hierdie Galileërs so welwillend is, terwyl geeneen van hulle hiervandaan kom nie, en dit is ook steeds die vraag, of hulle die duur vis ook aan jou sal kan betaal!” 

[10] Die herbergier sê: “Ook dit gaan julle alweer niks aan nie! Mense soos julle is egter niks uitsonderlik by my nie; maar mense soos julle bekende Heiland Jesus van Nasaret, wat deur die werklike wonderbaarlike mag van Sy Woord en wil tien, met baie kwaadaardige melaatsheid aangedane manne, aan wie julle nog geen uur gelede die skriftelike verklaring gegee het, in één oomblik kon gereinig het en volledig gesond kon maak, is wel buitengewoon seldsaam en was eintlik nog nooit daar gewees nie - en daarom sal elkeen goed kan begryp dat mens Hulle uit vrye wil die aandag betoon wat Hulle toekom.” 

[11] Teen hierdie uitstekende teenopmerking wis die fariseërs niks meer te antwoord nie en hulle lag soos `n boer wat kiespyn het, hoewel hulle innerlike vol boosheid gesit het. Hulle eet en drink nou baie deeglik, en Ons doen dieselfde en bekommer Ons nie oor wat die misnoegde fariseërs doen en watter woorde hulle onder mekaar wissel nie.

[12] Maar toe die wyn die fariseërs aansienlik verhit het en hulle `n woordewisseling met My probeer begin, staan die skrifgeleerde op, kom baie brutaal voor My staan en sê: “Heer, sê ons tog vanuit welke mag U U kennelike wonders verrig?”

[13] Ek sê: “Dit sal Ek wel vir julle sê - maar eers moet julle `n vraag van My beantwoord! Sê My: was die prediking en die doop van Johannes deur God verorden, of was dit suiwer mensewerk?”

[14] Nou wis die skrifgeleerde nie wat hy My moes antwoord nie. Want hy dink: “As ek sê: “Dit was deur God verorden”, dan sal Hy aan my sê: “Waarom het julle hom dan nie geglo nie?”, en as ek sê: “dit was suiwer mensewerk!”, dan het ons nou dadelik die herbergier en môre die hele markplek teen ons; want hulle beskou Johannes almal as `n deur God geroepe profeet!”

[15] Eers na `n rukkie sê hy (die skrifgeleerde): “Heer, daarvan weet ons werklik niks van nie, en ek kan U dus geen ja en geen nee antwoord nie!”

[16] Ek sê: “Dan kan Ek jou ook nie sê vanuit welke mag Ek My wonders doen nie, en dan is Ons weer netso ver as `n rukkie gelede!”

[17] Maar daar kom nou ook `n fariseër na My toe die sê: “Heer, ons het al baie verskillende dinge oor U gehoor, en onder andere ook dat die ryk van God op aarde deur U gestig word! Deur U dade getuig U van Uself dat U diegene is wat alle Judeërs op grond van die aloue belofte verwag. - Kyk, ook ons wil in U glo; maar sê ons tog hoe en wanneer die ryk van God onder die mense op hierdie aarde sal kom!” 

[18] Ek sê: “Baie verseker nie op die manier soos wat julle dit vir julleself voorstel nie!”

[19] Nou sê die skrifgeleerde: “Maar hoe dan wel?”

[20] Ek sê: “Die ryk van God sal sonder enige uiterlike prag en praal kom, en mense sal nie sê: “Kyk, hier is dit, of daar!” nie; want die ryk van God is geen materiële nie, maar `n geestelike ryk, omdat God Self in Homself die oerewige en suiwerste Gees is en Sy ryk daarom ook nie vir die liggaam gegee en op hierdie aarde opgerig sal word nie maar vir die siel en die gees van die liggaam. Die siel en die gees is egter binne-in die mens en nie buite hom nie; en daarom is die ryk van God ook maar net binne-in die mens, en as dit na die mense toe sal kom, sal hulle dit slegs in hulleself gewaarword en nie buite hulleself nie.”

[21] Op die antwoord van My wis die fariseërs niks meer te antwoord nie en hulle gaan weer na hulle tafel toe.

[22] Die herbergier was heimlik bly dat Ek die fariseërs die mond gesnoer het, en laat nuwe, prima wyn op Ons tafel sit en sê aan My: “Eet en drink soveel julle wil; want hierdie keer is die rekening vir my!”

[23] En Ons eet en drink heel welgemoed.

[24] Toe die fariseërs dit sien, vererg hulle hulleself nog meer en sê hardop vir mekaar: “En dit moet die Messias wees wat deur God in hierdie wêreld gestuur is? Hoe is Hy en Sy leerlinge tog nie vreetsakke en suipers nie! En bowendien weet ons ook nog dat Hy met tollenaars, heidene en ander sondaars omgaan en Sy brood met ongewaste hande eet, en dan kan Hy maar nog hoeveel wonders doen, `n egte skrifgeleerde en fariseër sal nie in Hom glo nie!”

[25] Hierop sê die herbergier: “Daaraan sal Hom vas en seker weinig geleë wees! As Hy die Heer is - wat ek nou ook glo- sal Hy, wat in Homself die mees volmaakte Gees uit God is, dit wel nie nodig hê om Hom volgens ons wêreldse instellings te rig, maar ons sou dit moet doen volgens dit wat Hy ons sal gee!”

[26] Die fariseërs sê: “Wat jy ons sê erger ons nie, omdat ons goed weet dat jy meer `n Samaritaan as `n Judeër is; ons erger ons alleen oor die feit dat Hy deur Sy onderrig en dade vele Judeërs verlei en ons uitgee vir iets wat Hy nie kan wees nie, omdat Hy Hom in baie opsigte nie aan die wet van Moses hou nie!”

[27] Hierop staan Ek met `n ernstige gesig op en sê: “Met wie moet Ek die ontaarde soort mense vergelyk? Johannes het bykans niks anders geëet en gedrink as sprinkane en wilde heuning nie en het `n streng boetvaardige lewe gelei; toe sê hulle: “Hoe is die man tog nie `n huigelaar en skynheilig nie!” Maar dit het hulle gesê omdat Johannes hulle hulle goddeloosheid en ontelbare sondes voorgehou het, en om die rede het hulle daarvoor gesorg dat hulle Herodus sover gekry het dat hy hom in die gevangenis laat gooi het en onthoof het.

[28] Ek eet en drink, gedra My nie soos `n kweselaar (oordrewe vroom) en kniesoor (iemand wat gedurig kla) nie en tree elkeen vriendelik tegemoet; Ek help elkeen wat na My toe kom, My glo en My om hulp vra, en dan sê hulle: “Hoe is die man tog nie `n suiper en vreetsak en `n vriend van sondaars, tollenaars en heidene nie, en Hy hou Hom nie aan die gebooie van Moses nie!”

[29] Maar wat moet ons dink van dit wat hulle leer: “As jy offer, is dit nuttiger vir jou as wanneer jy self jou vader en moeder eer!” Hef hulle God se gebooie dan nie daarmee op nie en kwel hulle die mense nie daardeur met reëls nie, wat hulle tot heil van hulle buik uitgevind het nie? Daarom sal hulle later ook des te meer verdoem word! Hulle lê die mense ondraaglike laste op, maar raak dit self met geen vinger aan nie! Voor die groot offers belowe hulle om lang gebede te hou en laat dit voor die oë van die bedriegde en blinde mense weersinwekkend gevoelloos en sinloos deur hulle ondergeskikte dienare opdreun. Is hulle dan nie dieselfde as mense wat muggies grootmaak nie, terwyl hulle in ruil daarvoor kamele verslind nie?

[30] Ja, ja, hulle eet hulle brood wel met gewasde hande, maar hulle hart is vol drek en vuil. Daarom lyk hulle ook soos keurig en sierlik witgekalkte grafte, wat van binne vol verrotting en stank is. Om brood met ongewasde hande te eet verontreinig die mens nie en wel die minste as mens geen geleentheid het om sy hande te was nie, wat gereeld voorkom; maar leuens, bedrog, afguns, gierigheid, vraatsug en swelgery, trots, haat, woede, ontug, hoerery, egbreuk en die ontkenning van God in die mens, verontreinig hom en maak hom tot `n kind van die hel!” 

[31] Toe die fariseërs dit van My gehoor het, word hulle baie boos, staan op van hulle tafel af en verlaat die saal, wat vir Ons almal baie aangenaam was.

[32] Die herbergier kom na My toe en bedank My uitvoerig dat Ek die fariseërs die waarheid so reg in hulle gesig gesê het, en ook al My leerlinge prys My.

[33] Ten slotte sê die herbergier: “O Majesteit en Heer, hierdie woorde van U sal die een of ander fariseër tog wel tot beter gedagtes oor U bring?” 

[34] Ek sê: “Jy sou nog eerder tien More wit kan was as dat een van hierdie huigelaars hulle sal bekeer en boete doen! Wanneer gierigheid, afguns en heerssug te diep gewortel geraak het in `n mens, is daar bykans geen sprake meer van egte verbetering nie! Maar laat hulle maar broei onder mekaar; more is daar weer `n dag, waarop daar iets te doen sal wees!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205