|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 206
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die oorleg met die soldate van Herodus
206 Na hierdie woorde van die owerste skep die tien moed en belowe onder `n plegtige eed dat hulle sy advies baie nougeset sou opvolg, alhoewel hulle self nie bewus was van sondes nie, netsoos die honderd-en-dertig dit begaan het nie; hulle het Herodus naamlik nie op daardie terrein gedien nie, aangesien hulle steeds maar net as kasteel- en paleiswagte gebruik was, wat die owerste, die kommandant en ook hulle ander hoofde goed sou weet.
[2] Die owerste sê: “Dit weet ons goed; maar elke mens wat eenmaal iemand soos Herodus gedien het, is netsoos ek, `n groot sondaar. As hy die barmhartigheid van die Allerhoogste, Alwetende en Almagtige deelagtig wil word, moet hy hom volkome reinig van sy vele sondes, ten eerste deur hulle as sondes aan die goddelike wil te erken, ten tweede deur hulle werklik te verafsku en te betreur en ten derde deur hulle nooit weer te begaan nie en die ernstige wil en die voorneme hê om die onreg wat teen die mense bedryf was, soveel moontlik weer goed te maak.
[3] Ekself sal dit sekerlik doen, en ek versoek en raai elkeen van ons aan om dit goed ter harte te neem en te doen; want die groot Majesteit en Heer het ons hier `n meer as groot barmhartigheid en erbarming bewys, ten eerste alleen al deur die feit dat Hy ons nie, netsoos die ander, in die rasende golwe van die meer laat verdrink het nie en ten tweede deurdat Hy ons hier nie deur die streng Romeine gevange laat neem het en voor `n regbank op lewe en dood laat bring het nie, maar ons buitengewone vriendelikheid betoon het en dit ook in die toekoms nie van ons sal weerhou nie, as ons alles doen wat ek julle nou volgens my mening aangeraai het.”
[4] Na hierdie tweede goeie toespraak van die owerste hef almal hulle hande op en sweer dat hulle sy woorde goed ter harte sou neem en daarvolgens sou handel. En daarmee was die owerste tevrede.
[5] Daarop maak die kommandant egter tog nog die volgende opmerking: “Vriend, gedurende die verloop van jou goeie en waarheidsgetroue toespraak tot die tien soldate het jy ook die opmerking gemaak dat elkeen wat Herodus dien, as sodanig al `n sondaar is! En dit is ook volkome waar; want hy wil alleen maar net aldeur doen wat in die oë van God en die mense onregverdig is. Wie hom dus deur sy troue diens, wat hy met `n eed bekragtig het, help om sy onregverdigheid by die arme mense ten uitvoer te bring, sondig elke keer as hy die wil van die gewetenlose wellusteling ten uitvoer bring. As ons nog langer in diens van Herodus bly, sal dit baie moeilik wees om nie te sondig nie.
[6] My mening is daarom as volg: As ons Herodus eenmaal op die bespreekte wyse sag gemaak het en gesorg het dat hy swaar vergoedings betaal het, laat ons onsself ook skadeloos stel en dan uit sy diens tree; want soos wat gesê is; om hom nog verder te dien, sou dieselfde beteken as om nog verder te wil sondig. - Het ek gelyk of nie?”
[7] Die owerste sê: “Daarin het jy volkome gelyk, en as ons dit by hom bereik het, sal ons dit ook onmiddellik ten uitvoer bring! Maar daaroor sal ons môre van die Heer sekerlik nog nadere aanwysings kry; en nou is ek van mening, noudat dit al middernag is en ons baie moeg geword het, dat ons nou in Naam van die Majesteit en Heer, wat ons soveel barmhartigheid bewys het, ons liggaam die nodige rus moet gun!”
[8] Daarmee was almal dit eens en in die besonder die soldate, wat tydens die storm hulle kragte behoorlik uitgeput het.
[9] Daarop sê die kommandant nog aan die owerste, en sodoende ook aan alle aanwesiges: “Luister, voordat ons onsself aan `n volledige liggaamlike rus oorgee - hier en oral waar ons onsself ook bevind is die gewoonte dat ons in ons hart ons opregte dank uitspreek aan Hom, wat ons as die Majesteit en Heer herken het, vir die meer as groot barmhartigheid en ontferming wat Hy ons hier in plaas van `n teregte straf in ryklike mate geskenk het. Laat ons dus sê: O Majesteit en Heer, wat vervul is van die volheid van die goddelike liefde, wysheid, krag en mag! Ons dank U vir U groot goedgunstigheid en barmhartigheid, wat U ons groot sondaars hier, in plaas van die verdiende straf geskenk het, en ons vra U vir die hele verdere toekoms dat U ons nie met U barmhartigheid, liefde en erbarming sal verlaat nie; want van nou af aan wil ook ons heeltemal aan U toebehoort! O, beste, groot Majesteit en Heer, aan wie alle geeste, kragte en elemente gehoorsaam is, neem ook vir ons op as onderdane van die ryk wat U nou vir ewig op hierdie aarde onder die blinde mense vestig, en laat in die vervolg ook geen al te groot versoekings oor ons kom nie, maar versterk ons met U barmhartigheid en erbarming! U alleen sy al ons liefde, eer en alle lof! Laat alles wat bestaan, leef en asemhaal U prys! U Naam sy gewyd in ons!”
[10] Toe die kommandant die dankgebed uitgespreek het, prys die owerste hom baie daaroor en ook alle ander, en toe gee hulle hulleself oor aan die nagrus. Ons in die herehuis doen dieselfde en slaap goed tot dit vol oggend was.
|
|
|
|
|