Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 42

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

Die weduwee en haar uit die dood opgewekte seun getuig teenoor die volk 

42 Toe die weduwee hoor dat Ek vroeg in die oggend met My leerlinge sou vertrek, sorg sy daarvoor dat daar `n toereikende oggendmaal betyds voorberei sou word. Toe Ons in die vroeë oggend die gastekamer uit Ons slaapvertrek binnekom, staan die oggendmaal dan ook al klaar, en die weduwee kom met haar seun na My toe en vra of Ek vóór My vertrek met My leerlinge die oggendmaal sou wil gebruik. 

[2] Ek sien egter dat die tafels van die Grieke nog nie gedek was nie en sê aan die weduwee: “Kyk, ook die Grieke, wat in My gaan glo, moet nie met `n leë maag huiswaarts terugkeer nie! Dek ook vir hulle die tafel, sodat hulle sien dat Ek nie net die Judeërs nie, maar ook die heidene die brood van die lewe gee!”

[3] Toe die weduwee dit hoor, haas sy haar na die kombuis om ook vir die Grieke `n oggendmaal klaar te maak.

[4] Maar toe hulle in die kombuis kom, tref sy reeds `n toereikende oggendmaal aan, heeltemal voorberei, en heel verbaas vra sy haar kombuismeisies wie die tweede oggendmaal vir die Grieke in so kort tyd voorberei het.

[5] Die diensmeisies sê: “Dit weet ons nie en behalwe ons het ons ook niemand in die kombuis gesien nie; maar ons was netso verbaas soos jy toe ons dit sien, en ons was deur vrees oorval! Die groot en magtige Profeet, wat jou seun gister tot lewe gewek het, sal dit wel deur die mag van Sy wil gedoen het! Ja, ja, daar het onder die Judeërs `n groot profeet opgestaan en in Hom het Elohim Sy volk, wat Hom sterk begin te vergeet, weereens besoek - en as die mense hulle nie vinnig sal bekeer en boete doen nie, sal daar op dié besoek seker `n groot oordeel volg wat alle boosdoeners sal verdelg.”  

[6] Die weduwee sê: “Ja seker, ja seker, daarin sou julle wel heeltemal gelyk kon hê! Maar aangesien die oggendmaal vir die Grieke nou ook op baie wonderbaarlike wyse voorberei is, moet julle dit maar dadelik na die gastekamer bring en dit op die tafel sit, waar die Grieke sit; want so wil die groot, van alle goddelike geeskrag vervulde Profeet dit!”

[7] Na hierdie woorde van die weduwee word die op wonderbaarlike wyse bereide oggendmaal onmiddellik na die tafel van die Grieke gebring, en dadelik daarna begin Ons die goed bereide oggendmaal tot Ons te neem en was heel vrolik daarby.

[8] Die weduwee staan op die punt om vir die Grieke, wat hulle baie verbaas het oor die snelle bereiding van die oggendmaal wat Ek vir hulle bestel het, te vertel hoe dit voorberei was. 

[9] Maar Ek sê aan haar: “Vrou, vir wat jy wil gaan sê sal daar nog voldoende tyd wees nadat Ek vertrek het; maar nou eet en drink Ons wat daar op die tafel gesit is!”

[10] Na hierdie vermaning van My swyg die weduwee en eet en drink met Ons saam.

[11] Na `n halfuur het Ons almal Ons oggendmaal genuttig; Ek staan op, saam met My leerlinge, en Ons maak Ons gereed vir die vertrek.

[12] Maar juis toe Ons by wyse van spreuke Ons voete in beweging wil sit, kom daar `n groot aantal mense uit die stad voor die deur van die herberg staan, wat wil verneem of die uit die dood opgewekte seun van die weduwee nog leef, en of die opwekking eg of miskien maar net skynbaar gewees het. Want die gerug gaan dat ook groot towenaars, wat dikwels uit die verre môrelande na Judea gekom het, al voorheen dooie mense lewend gemaak het; maar daardie lewe was maar van korte duur gewees, omdat dit maar `n skynlewe en geen egte lewe was nie, en daarom sou hulle nou graag dadelik wil verneem of die seun nog leef of dat hy die lewe weer begin te verloor, netsoos dit na alle wederopwekkings deur towenaars steeds onvermydelik die geval was.

[13] Toe vra die weduwee My wat sy die opdringerige vraestellers moes antwoord.

[14] Ek sê aan haar: “Stuur jou seun na buite na hulle toe! As hulle sal sien dat hy heeltemal gesond en wel is, sal hyself die beste antwoord op al hulle dom vrae wees. Die rabbi van die dorp het hulle so bepraat, geërger soos hy was, omdat die Grieke hom gister laat sien het dat hulle die profeet Jesaja beter begryp as hy as ou skrifgeleerde. Die rabbi het die vraestellers die dinge dus vertel oor die towenaars, wat hyself maar net van hoorsê ken, maar waarvan hy maar nooit een gesien het nie, sodat die mense nou twyfel; maar as hulle jou seun sal sien, sal hulle twyfel verdwyn.

[15] Wees egter op jou hoede vir die rabbi en die fariseërs; want om die geloof in hulle bewerings en hulle triomf by die volk in stand te hou, sal hulle, as hulle jou seun nog steeds gesond in die lewe sien, hom wil doodmaak en sal probeer om hom op een of ander manier te vergiftig! Nooi hulle daarom nie uit nie en laat julle ook nooit deur hulle uitnooi nie, en neem ook geen ander dinge van hulle aan nie, dan sal hulle julle niks kan doen nie! Neem dit in ag, dan sal Ek julle teen alle ander gevare beskerm! Gaan nou met jou seun na buite, sodat hulle daardeur die mees eenvoudige en beste antwoord op hulle vele vrae kan kry!” 

[16] Hierop gaan die weduwee saam met haar seun na die vele vraers buite en sê aan hulle, terwyl sy na haar seun wys: “Kyk, twyfelaars, hierdie seun van my leef en is gesond en wel! Hy is dus deur die groot, van Elohim se Gees vervulde Profeet nie skynbaar nie, maar werklik uit die dood tot lewe gewek. Gaan sê dit ook aan die rabbi, wat julle so dwaas onderrig het!” 

[17] Hierop sê ook die seun, wat deur almal soos `n wêreldwonder aangestaar word: “Ja, ja, ek leef en is heel opgewek, gesond en wel, en ek sal ook verder lewe, netsoos die Een wat my uit die dood tot lewe gewek het, my belowe het; en as ek voortaan Sy wil sal doen en volledig sal uitvoer, sal ek ook bly lewe en die dood nooit meer sien, voel of smaak nie. Gaan dit ook maar aan die rabbi sê, sodat hy miskien ook gaan glo en salig word!”

[18] Toe die vraers die seun, wat hulle goed ken, so gesien en hoor spreek het, val elke twyfel by hulle weg, en sommiges begin ontstemd te raak teenoor die rabbi, omdat hy hulle heeltemal verkeerd oor hierdie saak ingelig het.

[19] Toe die weduwee en haar seun weer die kamer binnekom, bedank hulle My vir die goeie raad en was baie bly dat hulle so vinnig en maklik van die vele lastige vraers ontslae was.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205