|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 116
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die vreugdemaal by Kisjona
116 Daarop sê Ek aan Kisjona: “Vriend, nou sal Ons na Maria gaan! Laat diegene wat Ek vroeër genoem het, meegaan!”
[2] Ons staan op en gaan na Maria.
[3] Toe Ons by haar aankom, was sy baie bly; sy kon net nie anders as om eers haar nood by My te bekla oor die vele lyding en die dikwels groot sorg, wat sy terwille van My moes verduur nie.
[4] Ek troos haar en sê aan haar: “As jy al sedert My ontvangenis geweet het waarom Ek deur jou liggaam in hierdie wêreld in die vlees gekom het, hoe kan jy jou dan nog so besorg maak as wanneer Ek die wil doen van die Vader, wat in die hemel is? Maar gaan nou saam met Ons, met almal wat by jou is; na die huis van Ons vriend en jy sal baie te hore kry oor wat Ek onder die mense gedoen het!”
[5] Toe staan Maria op met haar vriendinne en Joël en volg My, vergesel van Jakobus en Johannes, aan wie hulle onderweg allerlei dinge vra en wat haar die mees troostende inligting verskaf.
[6] Ons kom nou in die huis van Kisjona aan, waar die groot eetsaal en daarin `n groot tafel intussen baie koninklik versier was, en staan heeltemal verbaas dat die personeel van Kisjona dit alles in so `n kort tyd kon verrig het.
[7] Dit geval Maria besonder goed en sy vra aan My: “Seun, hoe geval die aandag van ons beste vriend Kisjona Jou?”
[8] Ek sê: “Ek beleef slegs groot vreugde aan sy hart, wat rein, goed en edel is - maar die glans van goud, silwer en edelstene het vir My geen waarde nie; maar omdat dit My vriend baie plesier doen om My so te eer, moet sy vreugde nie van hom afgeneem word nie!”
[9] Met hierdie woorde van My was Maria dit heeltemal eens, en omdat die spyse en die wyn al op tafel op Ons gewag het, sit Ons Onsself in goeie orde aan tafel en begin te eet en te drink.
[10] Maria sit aan My Regterhand en Joël aan My linker. Dadelik regs van Maria sit Kisjona, Philopold, Jakobus en Johannes, en links van My sit die vier Indo-Judeërs, na hulle die vriende van Kisjona en die vriendinne van Maria; daarna kom al My leerlinge, en so was, netsoos reeds gesê, die groot tafel in `n uitstekende orde beset.
[11] As eerste was daar goed toebereide edelvisse uit die meer van Galilea, waarvan Ek daar enkele eet, netsoos Maria, wat self `n ervare visbereidster was en buitengewoon lowend was oor die bereiding van die visse. Maar daar staan ook nog gebraaide hoenders, twee vet lammers en `n hele kalf goed voorberei op tafel en vrugte van die allerbeste soort, waar die leerlinge en ook die ander gaste hulle te goed aan doen. Ek hou dit egter by die visse, hoewel Maria vind dat Ek tog iets van alles moes proe.
[12] Maar Ek sê: “Elkeen moet eet na gelang die behoefte van sy maag; Ek het My versadig met die visse, en meer het My liggaam op hierdie wêreld nie nodig nie. Maar let nie op My nie, en eet volgens julle smaak!”
[13] Daarop neem Maria saam met My nog `n vis en eet dit met brood en bietjie wyn. Die vier vreemdelinge eet egter van alles, netsoos My leerlinge; slegs die leerlinge van Johannes wat met My saamtrek, doen netsoos Ek.
[14] Ten slotte sê Kisjona self aan My: “Majesteit en Heer, waarom neem U nie ook nie iets van die ander spyse tot U nie? U weet tog dat alles by my vars, rein en uitstekend voorberei is!”
[15] Ek sê: “My beste vriend, maak jou maar nie oor My besorg nie; dit is voldoende dat Ek vir julle almal sorg en waak! Wees nou bly, aangesien Ek nog sigbaar te midde van julle wandel; weldra sal die tyd kom dat Ek slegs in die gees van geloof en liefde in julle midde sal wees, - en dan sal julle nie meer so vrolik en opgewek op hierdie aarde wees nie en terwille van My Naam baie te verduur kry. Nou is die hele Godsryk in My by julle; maar dan sal julle dit in julleself moet soek, vind en behou. Wees nou dus vrolik en opgewek! Ek eet nou maar net visse, omdat dit, wat hulle bewussyn aanbetref, die meeste na die huidige mensdom lyk; hulle moet in My tot lewe, tot geestelike lewe en die lig daarvan kom!”
[16] Eén van die vriende van Kisjona sê: “Maar Majesteit en Heer, hoe kan mens visse met mense vergelyk? `n Vis is en bly tog die domste van alle diere; `n wurm, wat op aarde rondkruip, blyk al meer verstand te hê as die mees edele vis!”
[17] Ek sê: “Daarin het jy weliswaar nie heeltemal ongelyk nie; maar tog is die mense nou vir die allergrootste deel nog dommer as die visse in die water.
[18] As jy `n ryk visvangs wil maak, dan vang jy in die nag by die lig van fakkels; daaruit kan jy - altans in natuurlike opsig - aflei, dat visse sekerlik nie ligsku is nie, aangesien hulle hulleself in groot aantalle versamel op die plek waar hulle `n lig gewaar word.
[19] Ek is die lig van al die lig en is die lewe van al die lewe! Maar kyk nou net na die mense, dan sal jy jou verbaas oor die klein aantal van diegene wat gelowig en liefhebbend in hulle hart op My toeswem in die water van hulle wêreldse gesindheid en hulle deur My vir die ryk van God laat vang! Daarom vergelyk Ek net die paar mense met visse - wat My lieflingkos is, - wat My, as die ware lig van die wêreld en as die son van die hemel herken, op My toeswem en hulle deur My vir die ewige lewe laat vang. - Begryp jy dié beeld?”
[20] Die vriend sê: “Ja, Majesteit en Heer, nou begryp ek dit goed, en U doen alles volgens U onveranderlike orde, wat vir elkeen, wat meer as ons die geleentheid het om U gade te slaan, ook `n evangelie is; maar tog is daar wel `n sterk gewekte gees voor nodig om so `n evangelie te begryp!”
[21] Ek sê: “Alles is maklik en seker vir mekaar te kry, as mens maar die regte hulpmiddel daarvoor het en dit dan ook op die regte manier gebruik. So kan `n mens ook vinnig en maklik die gees in homself volledig wek, as hy die regte middel daarvoor het en dit ook op die regte wyse toepas. Daardie regte middel nou is die ware, reine en daadwerklike liefde vir God en derhalwe ook vir die naaste.
[22] Maar wie God wil liefhê, moet eers glo dat daar `n God bestaan, wat, aangesien Hyself geheel liefde is, die ewige oergrond van alle dinge in die hele oneindigheid is.
[23] Hoe kan `n mens tot so `n geloof kom? Die sekerste deur die openbaring, deur na God se Woord te luister en die wil van die ewige liefde te ken.
[24] As `n mens die wil leer ken het, moet hy sy wil heeltemal ondergeskik maak aan die wil van die ewige liefde en hoogste wysheid in God en hom netsoos hierdie visse deur God se wil as `n goed voorbereide gereg laat verteer, dan sal hy daardeur heeltemal van God se Gees deurdring word en daaruit as `n nuwe skepsel vir die ewige lewe te voorskyn kom.
[25] Wie dit aan homself bewerkstellig, het langs die regte weg en met behulp van die regte middel die gees van die lewe en die wysheid in homself gewek en sal daarna ook in die natuur van die aarde en van alle wesens daarop, netsoos in die maan, die son en die sterre `n goed te verstaanbare evangelie ontdek.
[26] As jy, vriend, geheel in die gees gewek wil word, volg dan My raad op, dan sal alles weldra vir jou duidelik word, wat vir jou nou nog bedenklik en hier en daar twyfelagtig voorkom!”
[27] Daarop sê Maria: “My seun, wat `n heerlike leer het Jy die mense al in die vreemde gegee - maar ons hier het Jy nog maar weinig bedink !”
[28] Ek sê: “Maria, was Ek nie van My kinderjare tot My dertigste jaar onder julle gewees nie? Het Ek julle nie heel gereeld oor Myself onderrig en My woorde ook met allerlei tekens bevestig nie? Het Ek nie ook naderhand na Nasaret gekom, en het Ek nie daar onderrig en tekens gedoen nie? Maar wat het die blinde mense daar in en om Nasaret gesê?
[29] Kyk, hulle het gesê: “Waar kry hy die wysheid vandaan? Dit is tog die seun van die timmerman, wat ons ken; hoe sou daar uit hom `n profeet kan opstaan?”
[30] En sien, omdat die mense hier so oor My dink, oordeel en My ook nie glo nie, het Ek dan ook nie hier gebly nie, maar na ander streke toe gegaan. Want Ek het dit toe gesê en sê dit nou nog eens: `n Profeet word nêrens minder gewaardeer as in sy vaderland nie en die minste in die plek wat hom vanaf sy kinderjare tot woonplek gedien het.
[31] Diegene van die mense hier wat in My geglo het, is nog steeds by My en sal ook oral by My bly. Maar in Nasaret sal Ekself nie meer onderrig en tekens doen nie; dit sal My leerlinge later in My Naam wel doen.
[32] Vir jou het Ek egter al gesorg vir die tyd en vir die ewigheid. As Ek weer sal terugkeer na waar Ek vandaan gekom het, sal Ek ook vir julle almal `n woning berei, waar julle ewig nie meer gekwel sal word deur kommer of onnodige sorge nie; want waar Ek sal wees, sal julle ook by My wees, as julle jul nie deur hierdie wêreld laat vang het nie.”
[33] Op hierdie woorde van My sê Maria niks meer nie, maar sy bewaar hulle in haar hart.
|
|
|
|
|