|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 200
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die planne van die owerste
200 Toe die soldate van Herodus die gevoel kry dat hulle heeltemal alleen was, sê die owerste baie saggies aan sy ondergeskiktes: “Luister! Laat niemand môre ook maar met `n spier van sy gesig verraai waarom ons die ware ongeluks- en gekkereis eintlik hierheen onderneem het nie, maar laat elkeen van ons `n siekte voorgee! Ons maak dan van my rekening, wat Herodus duur te staan sal kom, `n paar dae gebruik van die kuuroord en neem dan as volledig geneesdes op die derde dag weer afskeid. Ja, as ons die vier skepe met die honderd-en-dertig dapper soldate nie in die heillose storm op die meer kwytgeraak het nie, sou ons aan die dienaar, wat vas en seker ook die vernaamste beheerder van hierdie inrigting is, wel in `n ander taal gespreek het; maar so is ons hier as skipbreukelinge sonder enige mag of glorie, en dit is dus noodsaaklik dat ons swyg soos die graf oor die eintlike doel waarvoor ons hierheen gekom het - want die geringste onthulling daarvan sou ons hier in dié suiwer Romeinse nes die grootste onaangenaamhede besorg!
[2] Die skippers uit Tiberias, wat heel wyslik op die oewer aan die oorkant gebly het, het ons die suiwer waarheid gesê; hulle het vergaan soos wat hulle gesê het. En nou sweer ek `n heilige eed op my dood en my lewe, dat ek my nooit meer sal laat gebruik om die geheimsinnige Nasarener op te spoor nie, al sou daar vir my as beloning ook `n baie, groot koninkryk daarvoor aangebied word!
[3] Dit is maklik om te veg teen vyande wat mens sien en wie se sterkte `n mens kan skat; maar teen `n onsigbare vyand, wie se mag, krag en sterkte niemand kan skat nie, moet ons blinde en dom Herodus maar self veg! Ons sal nie meer vir hom die dwase uithang nie.
[4] Die Nasarener mag Homself, wat ons aanbetref, opwerp tot `n twaalfvoudige koning oor alle Judeërs, en ons sal nooit meer teen Hom optree nie! Hy is sekerlik wyser, beter en magtiger as ons totaal met goud en edelstene behangde Herodus en sy handlangers in die tempel. Die volk loof Hom oral en het hier en daar natuurlik wel bietjie te groot verwagtings van Hom; maar hoe dit ookal sy - van nou af aan sal ons nooit meer Sy vyande wees en dit ook nooit word nie!
[5] Dit is natuurlik ewiglik jammer van die honderd-en-dertig soldate, wat hulle lewe verloor het as smadelike offer vir die domheid van Herodus; maar alles met alles is dit miskien tog maar goed dat dit so gegaan het. Want as ons hier met hulle aan land gegaan en geweld gebruik het op hierdie suiwer Romeinse bodem, wie weet hoe dit dan met ons sou gegaan het! In geen geval baie goed nie; want dit is nie aan my onbekend dat die Nasarener selfs by buitengewoon hoë Romeine in die geheim heel hoog aangeskrewe staan nie. Kortom, ons weet nou hoe ons onsself hier moet gedra om te sorg dat ons by niemand enige verdenking wek nie!
[6] As ons eenmaal weer in Jerusalem is, sal ek Herodus wel `n rekening aanbied, waaroor hy hom seker tien jaar lank agter sy ore sal krap! En as hy weier om my te betaal, dan tree ek onmiddellik toe tot `n Romeinse legioen en sal hom dan as Romein eers gaan vertel, aanvanklik onder vier oë, wat dit beteken om sonder toestemming van Rome met sy soldate `n Romeinse gebied met `n wetlike opdrag binne te val. Dan sal die ou jakkals liewer ons rekening betaal as om hom deur ons aan die onverbiddelike Romeine te laat verraai! Want ek weet dat hy, veral by die opperstadhouer Cyrenius, nie in so `n goeie lig staan nie
[7] Maar nou sal dit `n goeie idee wees as iemand, voordat ons onsself heeltemal ter ruste begewe, buite gaan kontroleer of ons stellig bewaak word, hoe dit met ons skip gestel is en of die storm nog voortwoed!”
[8] Eén van die ander, wat kommandant was, sê: “Dit is alles mooi en goed; maar as een of ander wag dan vra wat ons buite wil, wat moet ons hom dan as antwoord gee?”
[9] Die owerste sê: “Dit is tog maklik! Jy moet die waarheid spreek, en jy kan hom desnoods ook nog duidelik maak dat jy bepaalde natuurlike behoeftes van `n mens nie fatsoenlik in `n skoon slaaphut kan doen nie, en dan sal die wag niks daarteen kan inbring nie!”
|
|
|
|
|