|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 134
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die Heer vertel oor Sy versoeking in die woestyn
(Mattheüs 4:1-11)
134 Nou vra die wyse Philopold My: “Majesteit en Heer vol Liefde, Wysheid en Krag! Ons het uit U waaragtig goddelike mond soveel gehoor oor wat U gedoen het, maar oor U eerste dade, toe U U aardse ouerhuis verlaat het, weet ons heeltemal niks nie. Ek het met Maria, die moeder van U liggaam, en ook met Joël en U ander liggaamlike aardse broers oor U hele jeug gespreek, en wat ek gehoor het - vanaf U wonderbaarlike koms op hierdie aarde, in die liggaam van Maria tot aan U dertigste aardse lewensjaar - het ek getrou in die Griekse taal in `n gedenkboek opgeskryf, sonder om ook maar iets toe te voeg of weg te laat.
[2] So het ek ook - natuurlik as louter brokstukke - alles daaraan toegevoeg wat ekself eers hier aan U sy meegemaak het en wat ek van betroubare oog- en oorgetuies van vele ander kante en plekke verneem het, en dit in `n heilige boek opgeskryf. Maar tot iets meer as drie maande na U dertigste jaar en die dag van U vertrek uit Nasaret, kon ek van niemand hoor waar U in die allereerste tyd was en wat U gedoen het nie.
[3] Vanaf die oomblik dat U U deur Johannes in die rivier die Jordaan met water laat doop het, weet ek die een en ander wel, netsoos oor die roeping van U eerste leerlinge; maar, netsoos gesê, oor die so pas genoemde allereerste tyd het ek, ondanks al my inspannings, geen letter oor U verblyf en U dade te wete gekom nie.
[4] As stille beskrywer van U hele aardse lewe en werk is daar vir my buitengewoon baie aan geleë, dat iets ook aan my bekend gemaak word oor U lewe en U werk in die eerste tyd van U amp as leraar, waaroor ook U oudste leerlinge niks kon vertel het nie; en dit kan eintlik niemand anders doen nie as alleen U, o Majesteit en Heer. As U my `n aantal dinge daaroor sou wil vertel, sou dit vir my `n groot en uiters waardevolle genadegawe van U wees!”
[5] Ek sê: “Ek ken jou goeie ywer vir My en prys jou as `n egte vriend van My hart; maar oor die eerste tyd, waarin Ek deur die gees van die Vader in My na `n woestyn by die Jordaan gelei is, daar veertig dae gevas en My noodgedwonge met wortels en wilde heuning gevoed het, en waar Ek, toe My liggaam na veertig dae so gevas het, baie honger begin te word, deur `n bose gees, `n duiwel van die eerste orde, drie keer versoek is, vertel Ek egter nie graag meer as wat Ek nou al gedoen het nie. En dit sou geen haarbreedte verskil maak aan die heil van hulle siele as die mense meer daaroor sou weet nie.”
[6] Philopold sê: “Maar, Majesteit en Heer, hoe kan U Uself deur `n aartsduiwel laat versoek, en hoe kon hy U ook maar enigsins benader? Want tussen U en `n duiwel bestaan deur U wysheid en mag immers so `n groot kloof, dat daar ewig nooit `n bose gees daaroor sou kan kom nie? Wie was die meer as vermetele bose gees eintlik? O Majesteit en Heer, noudat U my al soveel vertel het, vra ek U om my tog `n bietjie meer en presieser daaroor te vertel!”
[7] Ek sê: “Daar bestaan weliswaar geen oergeskape aartsduiwels soos wat julle dit vir julleself voorstel nie - maar tog is alles in die materiële wêreld in sy oerelement soveel as `n oergeskape aartsduiwel, en daarom is dit dieselfde of mens nou sê dat mens deur die wêreld of die materiële luste van die vlees versoek word, of deur hierdie of anderkantse aartsduiwel; en wie hom deur die wêreld en sy vlees te sterk gevange laat neem, sy siel is dan ook `n persoonlike duiwel en leef na die dood van sy liggaam verder in `n konstante verbinding met die slegte, nog ongegiste materiële geeste, en haar strewe bly dan netsoos haar liefde, boosaardig, en hulle trag om haar boosaardige liefde voortdurend te bevredig.
[8] Daardie soort duiwels kan natuurlik nie oor die onmeetlike kloof tussen My en hulle heenkom nie; maar omdat Ek nou Self in hierdie wêreld gekom het, wat op sigself vol oordeel en derhalwe vol duiwels is, het Ek deur `n vleeslike liggaam aan te neem vanuit die diepste diepte van My erbarming vir `n bepaalde tyd `n brug oor die genoemde kloof gebou, sonder welke brug geen mens van hierdie aarde ooit die ware en volle saligheid sou kon bereik nie. Dit spreek dan ook vanself dat `n duiwel netsoos `n mens, al is hy hoe sleg, My oor hierdie brug kan benader en My in sy volslae blindheid ook kan versoek en op die vreeslikste manier kan vervolg, alhoewel hulle niks kan uitrig teen My mag nie, maar net self meer en meer ten gronde gaan. Dit sal jy seker goed begryp?
[9] En sien, vriend, so was dit dan ook vir `n duiwel moontlik om My te versoek in die tyd waaroor jy dit het!
[10] Maar sodat jy nog iets meer te wete kom oor hierdie gebeurtenis, wat vir jou natuurlik bietjie wonderbaarlik in die ore klink, sal Ek jou nog in kort vertel hoe Ek versoek was, - luister dus!
[11] Toe Ek eenmaal ongeveer drie weke in die woestyn gevas het, om My geheel en al van alles en elkeen af te wend en My liggaam in alles meer in ooreenstemming met Myself te bring as wat moontlik was in die tyd toe Ek as timmerman baie saam was met My pleegvader Josef en sy seuns uit sy eerste huwelik, en toe Ek, slegs van wortels en wilde heuning uit die woestyn lewend, baie honger begin te raak en Ek in My liggaam `n sterk behoefte gevoel het om brood te eet, kom die versoeker in die gedaante van `n ernstige en wêreldwyse magiër voor My staan en sê: “Majesteit en Heer, ek ken U, en weet dat U, wat U liggaam betref, God se Seun is! Waarom kwel U Uself met honger in hierdie ellendige woestyn, terwyl alle skatte van alle wêrelde en hemele U ten dienste staan?! Maar as U dit nie wil gebruik nie, omdat U terwille van die armsalige mense ook `n mens wil word, om `n ligtende voorbeeld van uiterste onthouding en nugterheid vir hulle te wees om hulle sodoende meer gelyk aan U te kan maak, dan kan U van die vele klippe hier tog brood maak - dit kan U tog, en niemand kan U hier sien nie - en eet dan eers `n keer goed, totdat U heeltemal genoeg het!”
[12] Maar Ek sê baie ernstig: “Luister eers, jy wat dit waag om My, jou Heer van ewigheid, te versoek! My liggaam is nou ook `n mens, behep met die behoeftes van elkeen mens in hierdie wêreld; maar weet en begryp dat die mens nie soseer van die brood van hierdie aarde leef nie, maar veeleer van elke Woord wat uit God se mond kom! Ook vir jou sou die oorbrugging na die ewige lewe nou moontlik gemaak word; maar jy sou jou nou eerder self moet verdeemoedig en My om vergewing van jou sondes vra, dan sal jy gehelp wees!”
[13] Na hierdie woorde van My verlaat die verleier My vir `n paar dae, asof hy die vermaning ter harte wou neem en hom ten slotte daarvolgens wou rig. Maar dit was nie so nie; baie gou kom hy nogmaals na My toe en sê: “Majesteit en Heer, U weet dat ek vol hoogmoed en vol heerssug is; maar ek wil van U, noudat U Uself in hierdie woestyn verdeemoedig het, die korrekte deemoed leer. Laat U dus nou - wat vir Ons maklik is - op die hoogste toring van die tempel plaas, dan sal ek daar verder met U praat!”
[14] Ek sê: “Deur jou onmag sal Ek My nie daar laat neersit nie; maar Ekself wil dit nou so - en Ons bevind Ons al ter plaatse! Nou kan jy verder praat!”
[15] Toe Ek dit aan die versoeker sê, sê hy aan My: “Majesteit en Heer, as U wat U liggaam betref werklik God se Seun is, laat U dan vanaf hierdie hoogte na benede val, dan sal God Sy engele seker gebied om U op hulle magtige hande te dra, sodat U met geen enkele liggaamsdeel teen `n klip stoot nie!”
[16] Toe sê Ek aan die versoeker: ”Jy moet jou wel voor My, jou God en Heer, verdeemoedig, maar nie Ek vir jou nie, deur `n sprong in hierdie diepte! Daarmee bereik jy ewig geen deemoed en verbetering nie. Hierdie poging van jou het vir jou werklik niks opgelewer nie, gaan daarom weg!”
[17] Daarop verlaat die versoeker My en, gedra deur My mag, bevind Ek My oombliklik weer in My woestyn, waar dit ewenwel nie so aangenaam was om te verblyf nie.
[18] Na `n paar dae verskyn die verleier nog `n keer voor My, en Ek vra hom: “Wat wil jy, onverbeterlike duiwel, nou vir die derde keer van My hê?”
[19] Die verleier sê: “Majesteit en Heer! Gaan nou met my saam na `n hoë berg! Daar wil ek die deemoed van U leer en my lewe verbeter!”
[20] Ek gaan met hom saam `n hoë berg op en sê: “Wat wil jy nou hier van My hê?”
[21] Die versoeker sê: “Majesteit en Heer, verdeemoedig U eers Self voor My, dan sal ek my daarna voor U verdeemoedig! Kyk, al die mooi en ryk lande sal ek U gee, as U eers voor my op die knieë val en my aanbid!”
[22] Toe sê Ek: “Nou het Ek genoeg van jou! Wyk nou van My, Satan! Want daar staan geskryf: “Jy sal alleen JaHWeH God, aanbid en Hom dien en Hom nie versoek nie!”
[23] Daarop wyk die versoeker vir altyd van My; en in plek daarvan kom daar vele legioene engele uit die hemele na My toe en hulle dien My.
[24] Daarmee neem Ek dan ook afskeid van die woestyn, neem ook al enkele leerlinge by My en laat My toe ook deur Johannes doop in die Jordaanrivier. Vanaf daardie oomblik neem Ek die ander leerlinge op, wat merendeels vissers was, en reis met hulle van die een plek na die ander.
[25] Nou het jy, vriend Philopold, dit wat jou nog ontbreek. As My ou leerlinge dit ook wil opskrywe, kan hulle dit doen.”
[26] My Mattheüs het dit ook nog in Kis opgeskryf, omdat hy vaardiger was in die skryf as die ander leerlinge, wat kan skryf.
|
|
|
|
|