Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 9

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die beloning van die sanger

9 Toe die sanger die Psalm vir die tweede keer gesing het, steek daar onder die vreemdelinge `n reëlregte storm van lofuitinge en byval op; hulle skenk hom vele goudstukke en nooi hom uit om by hulle aan tafel te kom sit en met hulle te eet en te drink.

[2] Maar hy (die sanger) sê: “Ek dank julle vir die eer wat julle my bewys het en die aalmoese wat julle my so ryklik geskenk het; maar ek is nog `n streng gelowige Judeër - ook al is ek maar dertig jaar oud - en mag julle spyse nie eet nie. Bowendien het alleen hierdie meneer hier my toestemming gegee om op te tree, en daarom sal ek ook slegs doen wat Hy my sal gebied!”

[3] Toe prys die vreemdelinge die trou van die kunstenaar, en Ek versoek hom om aan Ons tafel te kom sit en met Ons te eet en te drink - wat hy ook dadelik onder baie dankbetuigings doen.

[4] Ons herbergier en Kado gaan egter weg en bring die harpspeler `n koninklike aalmoes, wat hy byna nie wil aanneem nie, omdat hy deur die ander tafels al so ryklik bedeel was. 

[5] Maar Ek sê aan hom: “Neem maar aan wat mense jou met vreugde gee; want jy het self `n goeie hart en deel ook die weinige wat jy moeisaam met jou kuns verdien, graag met die armes! En as jy van nou af aan meer verdien, sal jy jou goeie hart ook `n groter werkterrein kan verskaf. Goed doen aan die armes is God welgevallig, en werk en vergaar vir die armes is heerlik in God se oë en word reeds in die lewe en nog meer in die ander lewe altyd beloon.”

[6] Die harpspeler sê: “Ja, baie welwillende Heer, so is dit, en ek het dit ook altyd geglo, alhoewel dit vir `n lang tyd aan aardse beloning nie baie vir my opgelewer het nie, terwyl ek in hierdie sin tog al byna vyftien jaar trou my swak kuns beoefen het. Maar hierdie keer het ek `n ryk oes ontvang en daarvoor is vir altyd alle lof en eer en al my dank aan JaHWeH God, wat my hierdie keer in my armoede gesien het! Maar nou sou ek U, goeie Majesteit, tog ook iets wil vra, as U my dit barmhartig wil toestaan.”

[7] Ek sê: “O, heel graag! Vra maar; Ek sal jou die antwoord nie skuldig bly nie!”

[8] Toe vra die harpspeler aan My: “O goeie Heer, aan wie ek naas God my groot geluk te danke het, hoe ken U al my lewensomstandighede so presies - terwyl ek my tog nie kan herinner dat ek U ooit êrens gesien het nie?” 

[9] Ek sê: “Dit is ook gladnie nodig nie; dit is voldoende as Ek jou al heel dikwels gehoor en gesien het. Kyk, jy het nou hier opgetree en Ons het almal goed na jou gekyk! Ons sal jou dan ook maklik oral weer herken, waar Ons mekaar ookal sal teëkom; maar jy sal Ons almal beslis nie so maklik herken nie, en wel om die eenvoudige, natuurlike rede dat selfs vele duisende mense één mens, wat op `n besondere manier van Ons gepraat het, hom makliker herinner en hom heeltemal kon waarneem, as dat één Mens vele duisende kan onthou voor wie Hy opgetree het. Kyk, dit is die heel natuurlike rede waarom Ek jou moontlik beter kan ken as jy vir My.

[10] Daar kan ook nog wel ander redes wees, wat jy nou egter nie goed sou begryp nie, ook al sou Ek dit vir jou vertel; daarom is dit vanweë die vreemdelinge beter om daaroor te swyg. Maar jy het so pas self gesê dat Ek miskien wel `n Profeet kon wees, omdat jy in My nabyheid baie beter harp gespeel en gesing het as ooit tevore. As Ek vir jou moontlikerwys `n profeet is, dan kan Ek as sodanig vanuit die Gees van God waarskynlik ook goed weet wat jou lewensomstandighede is. So het jy nou `n natuurlike en `n bonatuurlike rede waarom Ek jou altyd beter kan ken as jy vir My of iemand anders van ons. - Is dit nou vir jou duidelik?” 

[11] Die harpspeler sê: “Ja, goeie en werklik ook baie wyse Heer, ek noem U nie verniet wys nie! Want tydens my omswerwinge op God se goeie aardbodem het ek herhaaldelik ervaar dat werklik goeie mense ook steeds wyse mense was. Maar dat die goeie mense, wat hulle aardse geluk betref, agter gestel is by die harde en slegte mense, is nie die skuld van die skranderheid wat hulle uit hulle wysheid put nie, asof dit minder sou wees as die sluheid van die harde en slegte mense, maar dit kom deur die goedheid van hulle hart, die daaruit voortvloeiende geduld en die liefde vir die waarheid, vir God en selfs vir hulle vyande, wat ten slotte tog ook nog mense is, ook al is hulle blind en doof; en uit dit alles kom eers die egte en ware wysheid voort, wat die verganklike goedere van hierdie wêreld nooit hoër aanslaan as alle groot en waaragtig wyses altyd gedoen het nie. Kyk, waaragtig goeie Heer, ek noem U dan ook `n wyse, omdat ek soveel goedheid in U aantref!”

[12] Ek sê: “Maar dan is jy uiteindelik ook `n wyse, omdat jy, vir sover Ek weet, ook `n goeie mens is?”

[13] Die harpspeler sê heel beskeie: “Goeie Heer, daarop sal ek my nooit beroem nie, laat die wyses dit maar beoordeel! Maar oor myself kan ek wel toegee dat ek mense, wat hulleself as heel wys en hooggeleerd beskou, al baie dommer dinge sien doen het, as wat ek ooit gedoen het. Ek is van mening dat dit onteenseglik wyser is om onder alle lewensomstandighede, al is dit hoe ongunstig, sonder enige twyfel te glo in die een, enig ware God en uit egte ontsag vir God en uit liefde Sy heilige gebooie te hou, as swak te word in die geloof, God die rug toe te keer en hom as `n hooggeëerd geleerde mens in alle denkbare genietinge van die wêreld te stort en so te lewe en te handel asof die ander mense heeltemal geen reg op hierdie aarde sou hê nie, terwyl hulle tog ook deur God daarop geplaas is om hulle daarop te beweeg en vir hulleself die noodsaaklike voedsel en orige lewensonderhoud te soek! O goeie, wyse Heer, het ek reg of verkeerd hierin geoordeel?”

[14] Ek sê: “In alle opsigte korrek en daarom ook egter heel wys! Maar eet en drink nou maar na behoefte!”

[15] Toe eet en drink die harpspeler na hartelus, omdat hy erg honger en dors was; maar daar was geen vraatsug en nog minder dranksug aan hom te merk nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205