Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 210

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die oordeel van die hardvogtiges aan die anderkant

210 (Die Heer:) “Vergaar dus altyd skatte wat nie deur motte stukkend geknaag en nie deur roes en ontbinding vernietig kan word nie.

[2] Behoed julle vir die goedere en skatte van hierdie wêreld; want daarin rus die slegte gees van verleiding tot alle sondes!

[3] As julle tot God bid en in julle hart sê: “Vader in die hemel, lei ons nie in versoeking nie!”, sê, dink en wens dan dat Hy julle nie ruim voorsien van baie aardse goedere en skatte nie, maar vra Hom alleen om die daaglikse brood, dan sal Hy julle dit nie weerhou nie, aangesien Hy die beste weet wat julle nodig het.

[4] As julle volgens My leer God bo alles sal liefhê en sodoende ook mekaar net soos wat elkeen hulleself liefhet en in alle opsigte vir sy eie welsyn sorg, sal julle julleself nooit onder mekaar oor een of ander nood hoef te bekla nie; want nood en armoede onder die mense op hierdie aarde ontstaan enkel en alleen deur hulle wedersydse liefdeloosheid - en dit is steeds die gevolg van ongeloof of duister bygeloof. Want wie nie die geloof in die een, ewig enig ware God het nie - hoe sou hy Hom dan moet eer en bo alles liefhê en vanuit die liefde sy naaste soos homself? 

[5] Iemand wat ruimskoots van aardse skatte voorsien is, sien sy arm naaste wel; maar omdat hyself geen gebrek hoef te ly nie, sê hy: “Ek is versorg, wat gaan die ander my aan! Laat elkeen vir homself sorg, dan sal hy geen gebrek hoef te ly nie!”

[6] Maar aan so iemand sal Ek later sê: “Waarom het jy so oormatig alleen vir jouself gesorg en daardeur aan ander onttrek wat hulle van My uit moes toegekom het? Daarom sal jy nou, in My ryk, verlate wees en jou alle armoede en gebrek moet laat welgeval!”

[7] En as hy hom dan sal verontskuldig met die opmerking dat hy nie in My geglo het nie, omdat niemand hom op die regte manier van My op die hoogte gebring het nie, sal Ek aan hom sê: “Wie het jou dan op die hoogte gebring van `n reg, waarvolgens jy, omdat jy sterker is, die goedere van die aarde onttrek het van jou medemense, wat dieselfde reg het op `n besit wat vir hulle noodsaaklik is, en dit nie vir hulleself opgehoop het nie? Moes jy nie handel volgens die regte insig en die reg, wat deur die inrigting van die aarde en haar natuur vir elkeen se oë en ore hardop verkondig word nie, aangesien jy tog duidelik moet waarneem dat die aarde, met haar goedere, nie vir jou alleen nie, maar ook vir alle ander mense daar is en moet wees?!  

[8] Omdat jy geen ag geslaan het op wat jou insig jou moes ingegee het nie, sal daar hier in My ryk ook geen ag geslaan word op jou sielenood en armoede nie!

[9] As jy egter sê dat jy nie in `n enkele ware God kon geglo het nie, omdat niemand jou op die regte manier op hoogte gebring het nie, dan sal Ek jou sê: “Kyk net wat `n verskriklike leuenaar jy tog is! Dink jy dalk dat die mense wat werklik van God se Gees vervul en verlig is, netsoos die aan jou gelyke wêreldse brassers oorloop van alle skatte en goedere van hierdie aarde? O, dan vergis jy jou tog wel baie!

[10] Hulle het as arme en behoeftige mense na die deur van jou huis gekom en wou jou berig bring van die een, enig ware God, maar jy het hulle nie by jou laat inkom nie, uit die begerige vrees dat jy hulle iets daarvoor moes gee of uiteindelik vrywillig sou gee, as jy moontlikerwys deur hulle bekeer sou word tot die onwrikbare geloof in die een, enige ware God.

[11] Maar om te sorg dat jy jou nie deur `n uiteindelike bekering gedwing sou kon voel om hulle iets te gee nie, het jy jou ook liewer gladnie laat bekeer nie en wou jy, vanweë jou gierigheid, geen ware berig oor die een, enig ware God ontvang het, deur middel van `n mens wat deur God se Gees verlig was nie.

[12] As dit nou so is en nie anders nie - hoe kan jy jou nou teenoor My verontskuldig deur te sê dat jy geen ag kan slaan op jou arme medemense nie, omdat jy in jou onwetendheid oor God geen verpligtings teenoor hulle opgemerk het nie! Op hierdie manier het jy in die eerste geval die reg van die natuur, waarna selfs alle beter heidene hulle rig, deur jou gierigheid met die voete vertrap, maar in die tweede geval, waarin jy jou verontskuldig het teenoor My, is jy `n leuenaar. Hier sal jy dus die loon van die gierigheid en dit van `n leuenaar ontvang, en voortaan sal daar deur My uitverkorenes net so aan jou gedink word soos wat jy in die materiële wêreld aan `n enige ware God gedink het, en net soos wat jy alles bo God liefgehad het, asook jou medemense!”

[13] Die saad vir die ware kennis van God en die lewende geloof in Hom is in die eerste plek die liefde vir die naaste, en daarin ook die suiwer liefde vir God.

[14] As iemand egter al so hardvogtig is dat hy sy arme naaste, wat hy goed kan sien, nie met liefde tegemoet kan tree nie - hoe sal hy in sy verstokte sielsblindheid God dan kan liefhê, wat hy onmoontlik kan en wil sien en gewaar word?

[15] Kyk, so sal geen enkele onboetvaardige sondaar hom later teenoor My kan verontskuldig nie, aangesien dit aan elke mens van My uitgegee is om die waarheid en die goeie daarvan te leer ken - vir die heiden deur die kennis van die voor die hand liggende dinge en omstandighede in die groot ryk van die natuur, en vir die Judeër langs die weg van buitengewone openbaring!

[16] Daarom sê Ek julle nog eens: As julle die Vader in My Naam iets vra, vra Hom dan veral net vir die onverganklike skatte van die ryk van God, dan sal julle dit ontvang, en saam daarmee ook dit wat julle nodig het om op hierdie aarde te lewe!

[17] Laat diegene wat baie aardse goedere ontvang het, dit volgens die liefdeswil van die Vader beheer, dan sal hy, deur reeds op hierdie wêreld `n troue beheerder oor klein dinge te wees, in My ryk oor groot dinge aangestel word!”

[18] Na die taamlike lang betoog van My tot die mense uit Joppe bedank hulle My heel innig, maar nie meer so erg met behulp van uiterlike gebare nie, en in alle liefde en deemoed vra die visser My of hulle, noudat hulle weer volkome gesonde en kragtige mense was, miskien vandag al die tuisreis moes aanvaar. 

[19] Ek sê: “Wat My betref sal julle nie gedwing word om huistoe te reis of om langer hier te bly nie; maar as daar na die oggendmaal `n geleentheid hom voordoen om huiswaarts te reis, kan julle dit goed benut!”

[20] Toe die visser dit hoor, word hy bly; want hy brand al van verlange om alles tuis te vertel wat hy en sy metgeselle alles hier meegemaak het. 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205