|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 153
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die Heer en die twee Grieke
153 Nou begeef Ons Onsself weer na buite, en Ek het nog maar nouliks `n voet oor die drempel van die deur gesit, of die twee Grieke buig dadelik diep voor My en vra My, of Ek hulle tog nie iets meer oor Myself wou meedeel nie.
[2] Maar Ek sê aan hulle: “Waarom sou Ek iets aan julle oor Myself sê? Want aan die woord alleen heg julle, as rotsvaste aanhangers van Pythagoras en vir `n deel ook van Aristoteles, geen geloof nie; en as Ek voor julle oë `n teken doen, sal julle sê: “Ag, hy is een daar uit die skool van die Essene! “Julle kan dus self goed begryp dat `n getuienis van My oor Myself geen groot en vir julle bruikbare waarde sou hê nie, en daarom sal dit voorlopig baie verstandiger wees om teenoor julle te swyg as te spreek.”
[3] Die twee Grieke sê: “Heer, U het korrek en volgens waarheid gespreek, en ons het nou al, deurdat U ons met `n paar woorde haarskerp gekarakteriseer het, baie duidelik gesien dat U `n buitengewoon helder blik kan werp in die innerlike van die mens, en selfs vir die mees wêreldwyse filosowe sou dit baie moeilik word om ook maar enigsins teenoor U te veins. Maar aangesien ons dit al uit die weinige woorde opgemaak het en daarom geen rede het om nie U woorde te vertrou nie, kan U, as U dit wil, ons wel meer oor Uself meedeel; want `n woord uit die mond van `n werklik groot wyse is van meer belang vir die lewe van vele duisend maal duisend mense as alle skatte van die aarde, wat hulle aan die einde van hulle dae nie kan versterk en troos nie.
[4] Die woord van `n wyse word `n blywende besit van die menslike hart, en as dit daarin begin te skemer en die egte lewensaand begin te word, en die mens in die dae kom wat nie meer aangenaam vir hom is nie, word daardie woord tot `n lig vol troos en ware, innerlike lewenskrag, en derhalwe tot die mees waaragtige en innigste vriend van elke mens. Daarom wil ons dan ook graag uit U mond enkele woorde oor Uself hoor; want ons is by voorbaat al die volle oortuiging toegedaan dat ons harte in U woorde `n groot troos en `n goeie, ware versterking sal vind.”
[5] Ek sê: “As julle dit glo, kom dan met Ons saam na die terras op die berg, dan sal Ons daar verder met mekaar spreek!”
[6] Die twee Grieke sê: “Heer, hierdie rotsagtige berg is weliswaar nie hoog nie, maar hy is baie steil, en daarvoor is goeie longe en taamlik gesonde voete nodig om sonder forse inspanning die terras op die berg te bereik. Ons is - die God van die Judeërs sy alle lof! - in hierdie inrigting wel reeds op pad na beterskap, maar met ons bors en met ons voete wil dit nog nie goed slaag nie, daarom sal dit vir ons uiteindelik tog `n bietjie moeilik word om die terras daar bo-op die berg te bereik. Kan U nie hier, waar dit vlak is, slegs `n kort tyd aan ons bestee nie, waarvoor ons U sekerlik volgens ons vermoëns dankbaar sou wees?”
[7] Ek sê: “Beste vriende, Ek alleen weet wel die beste waarom Ek alleen met julle op die berg wil praat, en dan sal julle dit ook weet. Wees dus nie bang vir hierdie heuwel nie; want julle klein moeite sal in `n egte vertroosting verander word!”
[8] Na hierdie woorde van My besluit die twee Grieke om tog met Ons die berg op te gaan, en toe Ons bo by die terras aangekom het, verwonder die twee hulle daaroor dat hulle die hoogte met nouliks voelbare moeite en inspanning en heel maklik asemhalend bereik het, en hulle dink dat hierdie berg, netsoos die geneeskragtige bronne wat in die binneste daarvan ontspring, in sy uitwaseming `n baie heilsame invloed op die liggaam van die mense het. By hulle sou aan sulke berge `n soort goddelike eer bewys word, en die toppe daarvan sou versier word met een of ook wel verskeie afgodstempels; want die mense dink en glo ook dat sulke berge met hulle geneeskragtige bronne meerdere male spesiaal deur die onsterflike gode besoek en geseën was om die lydende, sterflike mensdom in haar nood tot heil te dien.
[9] Die een Griek sê verder: “Dit sal verseker wel anders inmekaar steek; maar die grootste deel van die mense wat in die wêreld gewerp is, sonder om ooit deur iemand onderrig te gewees het oor die rede van hulle bestaan, oordeel anders. Die aanblik van die hemel met die son, die maan, die ontelbare sterre en die aanblik van die hele natuur van die aarde het hulle via hulle eie, steeds lewendige fantasie tot allerlei bonatuurlike vermoedens gebring, waar ook vele van die baie lewendige drome van bepaalde mense beslis daartoe bygedra het, wat natuurlik ook maar net `n gevolg van `n baie lewendige fantasie kan wees; en so het daar uit vermoedens en drome, leringe oor hoër, bonatuurlike wesens ontstaan, wat later deur geesryke digters tot allerlei persoonlikhede gemaak was en deur kundige beeldhouers aanskoulik aan die mense getoon word.
[10] Daarna kom daar handige redenaars en magiërs by, waaruit die huidige, bykans onoorwinlike priesterdom met sy tempels en orakels voortgekom het, wat nou nie meer terwille van die gode, waarin geen priester meer glo nie, maar alleen terwille van die konings en vorste die gewone volk in `n blinde geloof aan die magtige gode hou, sodat die nie teen sy kwellers opstaan en hulle ten gronde rig nie.
[11] Maar hoe dit ookal sy met hierdie gode, ek is van mening dat selfs die mees blinde geloof in een of meerder hoër wesens altyd nog beter is as glad geen geloof nie, en `n versierde berg of heuwel met `n afgodstempel verhef die menslike gemoed altyd meer as `n woeste vlakte, wat aan die fantasie van die mens weinig voeding gee.
[12] Daarmee wil ek die afgodedom nie tot realiteit verhef teenoor `n uiters wyse man soos U nie, hoë Heer; maar ek verag dit nie, omdat dit vir tallose mense, tydens hulle bittere lewe op hierdie aarde, in alle lyding en uiteindelik selfs in die steeds pynlike oomblik van hulle dood, nie die verlangde troos bied nie. En op daardie punt het ek dit met die wyse Aristoteles heeltemal eens, sonder om van die baie verhewener godsdiens ( naamlik die van die Judeërs) ook maar in die minste iets af te breek nie.
[13] En so het ek en my vriend nou heeltemal teenoor U laat sien wie ons is, en ek glo dat ook U, hoë Heer, nou teenoor ons bietjie meer kan laat sien wie U is. Maar laat U eie wil U lei, netsoos dit ons lei!
[14] Kyk, ek wil nog één ding uit ons ou Griekse wysheid toevoeg aan wat daar al gesê is: Ons is op ons manier waaragtige wyses, omdat ons steeds in gedagte hou dat ons weldra sal sterf. Ons probeer op hierdie aarde net nog die geluk te bereik dat die dood vir ons geen verskrikking nie, maar `n troosryke, ware lafenis vir die hart sal word. Daarom is die woord uit die mond van `n groot wyse vir ons meer werd as alle skatte van die aarde; want dit kan ons ook `n troostende lig in ons hart word, wanneer ons oog gedoof sal word vir die lig van die wêreld.
[15] Wees dus so goed, baie wyse Heer, om so `n woord aan ons twee te skenk, dan sal Uself gelukkiger wees in die besef, dat U twee ongelukkige mense gelukkig gemaak het!”
|
|
|
|
|