Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 137

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Aand oorwegings

137 Toe hulle by Ons aankom, was Ons nog buite, waar Ons intussen oor verskillende dinge met mekaar gespreek het.

[2] Die bootsman loop dan eerste na My toe, buig diep en sê: “O Majesteit en Heer, vergeef my my groot blindheid, dat ek U nie dadelik herken het nie, toe ek wou omkeer en U my barmhartig toeroep om na die oewer te kom! En vergeef my ook dat ek met enkele van my metgeselle reeds vanaand en nie eers môre vroeg gekom het nie, netsoos U my gesê het! En neem dit ons arme vissers bowendien nie kwalik nie, dat ons die drang van ons hart gevolg het en die vrymoedigheid geneem het om vir U `n, weliswaar maar klein, offer saam te bring van die groot seën wat U ons met die ryk visvangs sigbaar geskenk het. Sien hier die kosbaarste visse van die meer!”

[3] Ek sê: “Ek het weliswaar `n baie groter welbehae aan julle harte as aan die visse wat julle hier as offer vir My saamgebring het; maar daar waar die hart verenig is met die offer, is die offer vir My ook aangenaam - laat Ons hierdie visse dus vanaand saam eet. Gee hulle aan die herbergier, dan sal hy goed weet hoe hulle voorberei moet word!

[4] Hierop roep die herbergier dadelik `n paar van sy bediendes en laat die visse na die kombuis bring, waaroor die vrou van die herbergier haar buitengewoon verbaas. Die ses-en-dertig visse was ook baie welkom vir haar, omdat hulle nie sulke groot en edel visse in haar visvywers gehad het nie. Ook Maria, wat eweneens in die kombuis aan die werk was, het baie vreugde aan hierdie heel onverwagte gawe.

[5] Ons het nou ook van die grasveld af opgestaan en begeef Ons na `n mooi, ruim terras, wat hom op `n klein heuwel by die meer bevind, en vanwaar `n mens werklik `n pragtige uitsig oor die meer en ook oor die omliggende landskap gehad het.

[6] Dit was nou al wel ietwat laat in die aand, maar dit pla nie; want omdat die maan al driekwart vol was en daar ook nog lig was van die laat skemering, was die rusgewende uitsig nog altyd pragtig te noem, en almal prys die goeie gedagte van die herbergier, wat op Ons klein heuwel so `n mooi, ruim terras laat bou het.

[7] Op die terras kyk almal `n rukkie na die steeds rustiger wordende natuur, en die bootsman maak die volgende baie goeie opmerking daaroor: “As by die mens, wanneer hy die jare van sy lewe bereik het, waarvan hy sê dat hulle hom nie geval nie, die aand van sy siel soos hierdie natuurlike aand sou lyk, dan sou hy sekerlik genoeë daaraan belewe. Maar dit is byna nooit die geval nie; want die mens bring sy oudag deur in allerlei kommer, sorg, swakhede, siektes en in steeds toenemende vrees vir die sekere dood van sy liggaam - en aan die vrees bied sy swak geloof en sy nog swakker hoop op `n voortlewe van die siel êrens aan die anderkant, wat niemand tot nou toe nog werklik ken nie, hom maar baie weinig sekerheid - of `n mens, wat dit deur sy vermoëns kan veroorloof, stort hom op sy oudag egter eers met alle begeerte op allerlei wêreldse genietinge, om die vrees en angs vir die dood, wat vir hom bo alles hinderlik is, maar te verjaag. En as siektes, waarteen geen genesende krui opgewasse is nie, hom tog in hulle greep kry en hy sy naderende einde oorduidelik voor hom sien, dan storm dit des te geweldiger in sy siel; en so is die sielsaand van `n ou mens wel baie selde, en in ons tyd al byna heeltemal nie, te vergelyk met hierdie werklik meer as pragtige natuurlike aand nie. O dierbare Majesteit en Heer, sê ons tog of dit steeds so by die mense sal bly!” 

[8] Ek sê: “Om die mense `n rustige sielsaand te verskaf, het Ekself as Heer oor lewe en dood in hierdie wêreld gekom. Diegene wat in My glo en altyd volgens My leer sal leef en handel en sodoende die ryk van God in homself soek, waar hy dit ook ongetwyfeld sal vind, sy siel sal op hierdie aarde `n nog baie rustiger en pragtiger lewensaand hê as wat Ons hierdie natuurlike aand hier voor Ons kan sien en voel.

[9] Waarom het die sielsaand by die mense so dikwels uiters stormagtig en ellendig geword? Omdat die mense hulle van God, die oerbron van al die bestaan en lewe en van al die lig en alle waarheid, byna volledig verwyder en in plek daarvan al hulle sinne geplaas het op die wêreld en haar materie wat in die oordeel en die dood gehou word.

[10] As die mense hulle netsoos julle weer volledig van die wêreld sal afwend en weer in volle geloof en in alle liefde na My toe terugkeer, sal hulle in My die rustige en salige sielsaand vind; maar daarsonder sal die sielsaand by die mense in die toekoms nog stormagtiger en verskrikliker word as wat iemand dit tot nou toe meegemaak en gevoel het. Want van nou af aan sal die mense nie meer kan sê: “Wie het God ooit gesien en met Hom gespreek, en wie waarborg hom die volle waarheid van wat daar in die Skrif geskryf staan?” nie; want Ek spreek nou vir elkeen goed herkenbaar en sigbaar Self as die Heer tot die mense en toon hulle die waarheid van die lewe, wat die fundamentele waarheid van alle waarheid is. Wie dit in hom opgeneem het, sal egter geen angs meer hê vir die dood van sy liggaam nie; want hy sal die dood nóg sien nóg voel, ook al sou hy, wat sy liggaam betref, honderd keer moet sterf.”

[11] Die werklik wyse bootsman sê: “O dierbare Majesteit en Heer, ons dank U uit die diepste grond van ons lewe vir hierdie les, wat ons harte buitengewoon troos! In U glo ons, op U hoop ons, en U wil en sal ons ook bo alles liefhê. Maar noudat ek tog aan die praat is: staan my barmhartiglik toe, o Majesteit en Heer, dat ek U met nog `n vraag lastig val!”

[12] Ek sê: “Vriend, Ek weet goed wat jy My nou nog wil vra; maar stel terwille van die ander tog jou vraag aan My, maar hardop, openlik en vry uit, sodat ook hulle kan hoor en begryp waaroor dit gaan!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205