|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 148
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Liefde, sagmoedigheid en geduld is beter as geregverdigde ywer
148 Na hierdie woorde maak die leier hom gereed, klim in die skip waar Ek Myself saam met My ou leerlinge en die ander drie vriende bevind, en vaar met Ons saam na Jesaïra. Ons kom vinnig en maklik in die genoemde dorp, waar `n goed bereide middagmaal al op Ons wag. Daar het slegs twee uur verstryk sedert die middag, en dus was dit nog op die gewone tyd toe Ons dié middag eet.
[2] Ons leier was verbaas oor die mooi koringbrood, en nog meer oor die goeie wyn en die uitstekend bereide edelvisse. Nadat Ons die maal tot Ons geneem het, begeef Ons Onsself weer na die reeds bekende terras, waar ook Ons leier die baie mooi uitsig nie genoeg kan prys nie.
[3] Toe hy na alle kante om hom heen gekyk het sê hy (die leier): “Dit is tog merkwaardig! Ons klein dorp lê hier nouliks twee uur vandaan aan dieselfde meer, maar wat `n verskil tussen hier en daar! Hier is die omgewing een en al lieflikheid en bekoorlike skoonheid, en by my sien dit daar eerder afskrikwekkend as lieftallig uit. Rondom ons dorpie sien dit nou deur U barmhartigheid, o Heer, weliswaar heel redelik daaruit - maar `n vergesig wat die gemoed verkwik, ontbreek heeltemal! Ons baai, wat tog nie bepaald klein genoem kan word nie, is by die ingang aan beide kante sodanig ingesluit deur die taamlike hoë en steil berge wat daarvoor lê, dat ons vanaf die dak van ons wonings en ook vanaf die berge agter ons, vir sover dit vanweë hulle steilheid slegs met die grootste moeite te beklim is, nie eers die golwende meer kan sien nie, laat staan iets anders, omdat die berge aan die regterkant hom in `n halwe sirkel verder in die groot meer uitstrek en die uitsig volkome vir ons belemmer.
[4] Maar in plaas daarvan het ons streek weer `n ander goeie eienskap teenoor van hierdie. Hier word mens beslis vinniger na die liefde vir die “wêreld getrek as in ons ware woestyn; en die liefde vir die wêreld is nie geskik om die goddelike gees in die mens te wek nie. As dit eenmaal gewek is, dan skaad ook die aanblik van so `n omgewing soos hierdie, die mens natuurlik nie meer nie!”
[5] Toe die leier van die klein gemeente aan die baai hom werklik heel sinvol oor hierdie streek uitgespreek het, vra hy wie die twintig eenvoudige manne was wat ook saam met Ons die baai besoek het, maar wat tot nou toe, nóg onder mekaar, nóg met iemand anders `n woord gewissel het nie. Ek vertel wie hulle was, waaroor hy baie verheug was.
[6] Daarop laat Ek die bootsman na Ons toe kom; hy spreek met hom en verbaas hom oor sy welsprekendheid en oor sy erns en groot moed.
[7] Toe staan hy op, steek die bootsman en ook al sy metgeselle vriendelik die hand toe en sê (die leier): “Met sulke manne in die verbond kan daar groot dinge vir die heil van die mense uitgevoer word. Werklik, wie die mense van hierdie wêreld nog vrees, is veral in hierdie tyd nie geskik om die ryk van God te verbreed nie, waar geweld teen geweld gebruik moet word om die poorte vir die waarheid te open en haar toegang te verskaf!
[8] Nou is die saak om nie langer in die verborgene te werk nie, maar om moedig met die lig uit die ewige hemele van God ook die konings en vorste van hierdie wêreld tegemoet te tree en hulle te toon dat hulle ook mense is, wat, netsoos hulle nou is, nie ewig sal lewe nie, maar in die groot wêreld aan die anderkant die oordeel en die ewige dood kan verwag. Ja, ja, jy het gelyk: Soos `n brandende vuur moet mens die wêreldse mense die waarheid in die gesig slinger en met `n vlammende swaard stry teen die priesters van die leuens, van duister bygeloof en bedrog, anders bly die aarde steeds `n tranedal en `n graf van die dood - nie net vir hulle liggame nie, maar ook vir hulle siele.”
[9] Nou sê Ek: “Julle het gelyk, en Ek prys julle ywer; maar onthou by julle ywer ook nog die volgende: In die wysheid van die menslike gees is steeds `n groter krag geleë as in sy vuis; en waar erns op homself weinig of niks uitrig nie, daar doen die liefde met haar geduld en sagmoedigheid wonders. Laat die volle erns in jou eie hart en die moed daarvan julleself beheers; maar laat julle wapen teenoor die mense steeds maar net uit liefde, sagmoedigheid en geduld bestaan, dan sal julle op hierdie weg, waarop Ekself die mense voorgaan, meer uitrig as met louter vurige ywer en die erns daarvan, wat so hard is soos diamant!
[10] Vrees hoef julle egter nie te hê vir die wêreldse mense nie, wat in hulle woede wel julle liggaam kan dood, maar julle siel verder niks meer kan aandoen nie; vrees alleen die Een wat sedert ewigheid `n ware Heer is oor lewe en dood!
[11] Maar as julle sien dat julle niks met liefde en die regte wysheid kan bereik by mense wat te sterk in duisternis verkeer nie, keer hulle dan die rug toe en gaan daar weg, en julle sal sekerlik weer mense vind met wie julle in My Naam goeie sake sal doen.
[12] Bely moet julle My teenoor alle mense, omdat Ek julle ook teenoor My Vader bely; maar julle moet My nie opdring aan die duister, wêreldse mense en hulle, wat wêreldse varke is, ook nie My pêrels toewerp nie! Want Ek sê vir julle: My Woord alleen is ware lewensbemesting vir die koring en My leer is ware bemesting vir die edele druiwe van die wingerd; maar vir die onkruid van die aarde het Ek geen lewensbemesting nie - want dit is daar net om vertrap en verbrand te word en die gewone aardbodem met die as daarvan te bemes.
[13] Wie op aarde is om te lewe, sal deur My Woord tot lewe gewek word; maar wie hier is vir die dood deur sy eie wil en starre eiesinnigheid, sal ook in die dood oorgaan. Wie uit die graf van sy materie wil opstaan ten lewe, mag opstaan; maar wie wil val, laat hy val!
[14] Om die evangelie vir duiwels te verkondig, sou beteken om olie op die vuur te giet; wees dus altyd slim soos die slange, maar daarby tog so sagmoedig soos die duiwe, dan sal julle op die manier baie kragtige arbeiders in My wingerd van die lewe word!”
[15] Toe Ek dit aan die vurige yweraars gesê het, vind daar `n verandering plaas in hulle gemoed, en hulle bedank My uit die diepste van hulle harte vir hierdie les.
|
|
|
|
|