|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 81
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die twee tempeldienare soek die Heer
81 Toe die twee uit die huis na buite kom, sien hulle die plek waar die groot brand gewoed het, en hoe hulle metgeselle besig was om hulle skatte wat nog nie deur die vuur vernietig was nie, bymekaar te bring en na `n goeie bewaarplek te neem.
[2] Eén van hulle roep die skrifgeleerde toe (`n tempeldienaar): “Maak jy jou gladnie besorg oor dit wat van jou is nie?”
[3] Die skrifgeleerde sê: “Wat uiteindelik van my is, sal ek nog vroeg genoeg kry; en as daar van myne niks meer te vinde is nie, dan sal ek ook nie daaroor treur nie. Gaan julle maar aan om vir die dood te werk; ek gaan nou werk vir die lewe soek!”
[4] Met die woorde loop die twee verder.
[5] Die ander fariseërs sê onder mekaar: “Het die Galileër ons enigste skrifgeleerde dalk ook al gek gemaak?”
[6] Maar die let nie op hulle nie en gaan met die geheel bekeerde fariseër na die herberg om daar met My te kan spreek. Maar Ek was nog buite met My leerlinge, en dus nie in die herberg nie.
[7] Toe die twee sien dat Ek nie daar was nie, vra hulle aan die herbergier, wat besig was om die groot eettafel gereed te kry, waar Ek was en of Ek die dorp dalk al verlaat het.
[8] Die herbergier sê: “Die Heer van die lewe het nog nie weggegaan nie! Hy is êrens buite met Sy leerlinge; maar waar, dit kan ek julle nie sê nie, omdat Hy al hierdie saal verlaat het, voordat ek wakker geword het. Maar enkele van Sy leerlinge het reistasse by hulle, wat ek nog in bewaring het, en dit is `n teken dat die Heer hierdie plek nog nie verlaat het nie; en ek dink dat Hy gou sal terugkom, aangesien die oggendmaal weldra heeltemal gereed sal staan - wat Hy sekerlik weet. Maar gaan na buite om Hom op te soek; want dit loon wel die moeite om die Heer van die lewe op te soek! Ek sal dit self doen, sodra ek hierdie tafel gereed het. My geneesde opperkneg het alreeds gegaan.”
[9] Die fariseër sê: “Wat doen die tien geneesdes eintlik? Is hulle nog hier, of het hulle al verder gereis?”
[10] Die herbergier sê: “O, hulle het by die aanbreek van die dag al verder gereis! Waarheen, dit sal die Heer ook wel die beste weet!”
[11] Na hierdie woorde verlaat die twee meteens die saal en gaan op weg in die hoop om My êrens te vind. Hulle loop deur die markplek en vra nou eers die een en dan weer `n ander of hulle My dalk gesien het; maar geeneen kan vir hulle iets sê nie.
[12] Aan die einde van die markplek kom hulle `n arm vaderlose kind teë. Aan daardie kind vra hulle ook of sy My dalk êrens gesien het, in geselskap van verskeie manne.
[13] Die kind sê: “O, ja! Daar op die heuwel, in die rigting van Kana, sit die onbekende manne - en Een van hulle moet iets hoogs wees, want Hy het my oë skielik genees! Julle weet immers dat ek vanaf my geboorte heeltemal blind was en hoe my moeder my elke dag voor die poort van die markplek gesit het, om `n aalmoes van die mense te bedel!”
[14] Die twee gee die kind ryklik geld en laat haar nou vol blydskap na haar moeder gaan, wat die kind baie gou sien, haar heel verbaas tegemoet hardloop en alles wil weet.
[15] Die twee loop egter vinnig na die heuwel en bereik Ons juis op die oomblik dat Ons van die grond af opstaan om na die herberg terug te keer.
[16] Toe hulle by Ons aankom, begroet hulle My baie vriendelik en vra My of hulle in My nabyheid mag kom.
[17] Ek sê: “As julle dit wil, bly dan! Ons sal Ons nou langs `n ander weg na die herberg begewe en nie deur die markplek gaan nie. Want Ek het die blinde meisie siende gemaak; sy sal dit nou saam met haar moeder aan elkeen vertel, en as Ons nou deur die plek sou gaan, sou die volk hulle om Ons verdring om My te sien en te prys, wat Ek nou wil voorkom. Laat ons dus gaan!”
[18] Na hierdie woorde van My verlaat Ons vinnig die heuwel en begeef Ons langs `n klein omweg so vinnig moontlik na die herberg.
[19] Toe Ons die saal binnekom, wil die herbergier juis ook na My op soek gaan, aangesien hy gereed was met die dek van die tafel. Omdat Ons net voor hom daar aankom, vra hy My om vergewing vir die feit dat hy so traag was. Maar Ek stel hom gerus en sê dat hy nou die oggendmaal op die tafel moes laat plaas, wat dan ook onmiddellik gebeur. Ons gaan aan tafel en neem die goed toebereide maal welgemoed tot Ons.
[20] Tydens die maaltyd word daar ook oor die genesing van die blinde meisie gespreek, waaroor die herbergier hom baie verbaas en iemand dadelik na die arm meisie en haar moeder wou stuur. Maar Ek raai hom aan om dit voorlopig agterweë te laat, vanweë die opsien wat dit sou baar; maar as Ek uit die dorp uit sou weg wees, sou daar nog tyd genoeg wees om aan die armes te dink. En dit doen die herbergier.
|
|
|
|
|