|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 75
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die nagtelike onweer
75 Na `n uur word dit egter onrustig op straat; want daar steek `n harde wind op, wat met onstuimige geweld deur die deure en vensters van die huis loei. Daardeur raak die fariseërs so erg ontsteld, dat twee van hulle na Ons toe kom en die herbergier angstig vra hoe dit sou afloop.
[2] Maar die herbergier, wat self bang geword het vanweë die storm wat so skielik opgesteek het, sê: “Hoe kan julle, dienare van God, dit aan my vra? Anders weet julle tog altyd alles en sê dat God sonder julle, wat Sy enigste plaasvervangers en Sy dienare en knegte is, niks op hierdie wêreld kan doen nie. Dan sal julle nou ook wel die beste weet waarom God hierdie geweldige storm so skielik laat ontstaan het en hoe dit sal afloop. Wat moet ek, wie nog steeds deur julle as `n halwe Samaritaan beskou word, dan weet, as julle, wat so naby aan God staan, self vol vrees en angs vrae begin stel?”
[3] Eén van die fariseërs sê: “Nou toe nou, blaas maar nie dadelik so hoog van die toring nie, omdat jy `n burger van Rome is! Miskien kan die wonderbaarlike Nasarener, wat sekerlik goed ingewy is in alle geheime van die natuur, ons iets vertel? Want so-iets het ons werklik nog nooit meegemaak nie! `n Storm, soos wat nou steeds erger begin te woed, begin tog altyd met `n taamlike sagte wind, wat steeds hewiger word, en net so lank, totdat hy in `n orkaan oorgaan. Hierdie storm het egter nie die minste suggie voorafgegaan nie, maar hy kom volkome skielik, soos `n magtige vloed, en loei en raas nou met almaar toenemende hewigheid voort; in daardie geval mag mens tog wel vra hoe dit moet afloop?”
[4] Terwyl die fariseër nog so wou verder praat, ontlaai `n heftige bliksem buite, waarop onmiddellik `n geweldig dreunende donder volg. Toe hardloop die twee fariseërs van skrik en angs na Ons toe om by Ons beskerming en troos te soek. Maar dit duur nie lank nie, of `n tweede bliksem ontlaai hom met `n nog groter hewigheid, wat ook die orige fariseërs en die skrifgeleerde na Ons toe bring. Elkeen in die hele huis was vervul met vrees en hewige angs en dring Ons saal binne, en die fariseërs kruip weg onder die tafel waaraan hulle vroeër gesit het.
[5] Toe vra die herbergier aan My: “Majesteit en Heer, dit is moeilik om in die nag die tyd te bepaal, wanneer jy geen sterre sien nie; maar volgens my gevoel te oordeel sou dit intussen wel byna middernag kan wees. Die meeste mense het hulle, moeg van hulle daaglikse werk, seker al twee uur gelede ter ruste begewe en sou `n nag se rus moet hê; maar hierdie storm sal sekerlik aan niemand rus gun nie, aangesien die geraas daarvan so hewig is dat selfs `n halfdooie wakker moet word en heeltemal van angs en vrees vervul moet raak. Waarom het hierdie storm nou so skielik ontstaan? Kyk, ek is tog nie iemand wat so gou bang word nie; maar ek beken eerlik dat ek nou, ondanks U almagtige teenwoordigheid, behoorlik besorg raak deur die geraas en gewoed van hierdie storm, wat absoluut nie wil bedaar nie. Kan of wil U hierdie storm nie gebied om te bedaar nie? Want die nag is tog `n tyd van rus vir die hele natuur en nie `n tyd van geweldige onrus nie. Waarom moet seker vele duisende mense en diere deur so `n nagtelike storm eintlik die grootste angs en vrees voel?”
[6] Ek sê: “Sien jy dalk ook by My vrees en angs? Laat die uiterlike storm maar woed en raas; want geen enkele regverdige mens sal `n haar daardeur gekrenk word nie!
[7] Veel erger is die innerlike storm van `n groot sondaar, wanneer sy einde nader en hy die ewige dood voor hom sien en vrees dat God se toorn oor sy hoof sal kom. Sal hy nog wel kan hoop om by God barmhartigheid en ontferming te verkry, terwyl hy nooit aan `n arme ook maar die kleinste barmhartigheid bewys het nie, maar wel baie mense in die grootste ellende en die swaarste nood gedryf het? Kyk, vriend, so `n sielestorm is onuitspreeklik baie verskrikliker as so `n natuurlike storm, waardeur die aarde `n groot weldaad ontvang en daar, behalwe hier en daar, maar `n baie klein bietjie skade berokken word. Daarom laat Ons hierdie natuurlike storm dus maar `n rukkie woed en raas, waarmee Ons vol vertroue en goeie moed kan wees!”
[8] Toe Ek die herbergier daarmee getroos en gerus gestel het, ontlaai daar weer `n paar geweldige bliksems waarop so `n magtig dreunende donder volg, dat die stewige huis van die herbergier heeltemal daarvan tril.
[9] Toe die fariseërs, wat onder `n tafel bymekaar gekruip was, voel dat die hele huis skud, begin hulle met trillende stem hardop te roep: “JaHWeH, God van Abraham, Isak en Jakob, ontferm U oor ons en laat ons nie ten gronde gaan vanweë hierdie towerende en misdadig brutale Essene nie, wat ons Judeërs noem, maar met Samaritane, heidene, tollenaars en ander sondaars omgaan en hulle bo ons, U egte dienare, verhef en ons oral by die mense in `n kwade daglig stel, U Naam ydel gebruik en, netsoos ons weet, ook herhaaldelik die Sabbat skend!”
[10] Die fariseërs het dit nog maar nouliks gesê, of opnuut ontlaai daar `n paar hewige bliksems met `n luide geknetter, en één bliksem het selfs ingeslaan in die sinagoge wat teenoor die huis van die herbergier gestaan het en het die houtwerk, die dak en die banke, tafels en kaste aan die brand laat slaan.
[11] Die herbergier sien dit dadelik deur die venster van die saal en sê aan die fariseërs: “Staan op en gaan blus; want die laaste bliksem het in julle sinagoge ingeslaan en het die houtwerk aan die brand laat slaan! Kortom, die sinagoge staan in ligte laaie; gaan dus daarheen en probeer julle skatte en heiligdomme te red!”
[12] Toe die fariseërs dit hoor, spring hulle dadelik op, maak `n groot spektakel in die huis en wil My en My leerlinge daartoe bring om die vuur te blus.
[13] Maar Ek sê ernstig: “Wat het Ek met julle brand en julle sinagoge te maak! Julle het julle God tog al aangeroep. Waarom verhoor Hy julle gebede dan nie? Werklik, as Ek, van wie julle blinde fariseërs dink dat Ek `n Esseen is, die God van Abraham, Isak en Jakob sou vra om die storm te gebied om op te hou, sou die storm ook onmiddellik gaan lê! Maar dit sal Ek nou nie doen nie; want julle beskou My as `n ketter en sondaar teen julle God, in wie julle in julle hart nog nooit self geglo het nie. Wend julle nou dus maar tot julle god, en kyk of Hy julle sal verhoor en help!”
[14] Hierop dring die fariseërs nog sterker aan en smeek Ons om hulle te help, as daar by die reeds groot uitgeslaande brand nog hulp moontlik sou wees.
[15] Ook die herbergier vra aan My: “O Majesteit en Heer, as U hierdie blinde fariseërs nie wil verhoor nie, wil dan tog vir my verhoor! Want sien, my huis is maar sewentig treë verwyder van die brandende sinagoge; as die hewige wind sou draai, sou my huis ook die gevaar loop om aan die brand te slaan, en dit kan des te makliker, omdat die storm nie met reën gepaard gaan nie!”
[16] Ek sê: “Ek het jou al `n keer die versekering gegee dat van die regverdige geen haar gekrenk sal word nie, en al sou die wind tien keer draai, dan sal jy en jou huis daardeur nog geen onheil oorkom nie. Maar dergelike winde draai nie so maklik nie, wat Ek goed weet, daarom het jy dus niks te vrees nie.
[17] Maar in die sinagoge lê `n hele hoop onregmatig verkreë skatte waar arme weduwees en wese ronddwalend in den vreemde oor kerm en weeklaag, terwyl hierdie blinde fariseërs, wat hulle deur die Judeërs as dienare van God laat eer, hulle hier totaal onbesorg vetmes, sonder om hulle te bekommer oor die ware heil van die mense. Daarom is dit ook nie jammer van die skatte nie, waarin God ewiglik nooit `n welbehae sal kan hê nie. Maar hierdie hier, wat nou tereg skade ly, sal in die toekoms nog net so `n goeie lewe lei as wat hulle tot nou toe gedoen het!”
|
|
|
|
|