|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 203
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die versoek van die kommandant en die vervulling daarvan
203 Toe hulle almal bietjie geesdriftiger geword het van die wyn en allerlei vele goeie woorde oor My gespreek het en kwade woorde oor Herodus, wat hulle steeds die slegte en dom Antipas noem, sê die owerste: “Ons is nou almal hier as vriende en broers, die paar soldate nie uitgesonder nie, omdat ook hulle ewe goeie mense is soos ons en die werklik bittere lot op die meer met ons gedeel het en deur hulle inspanning baie tot ons redding bygedra het.
[2] Weliswaar is ons nou - JaHWeH, God, sy alle lof en alle eer! - heel opgewek en vol goeie moed, en ek is ook van mening dat ons teenoor `n Romeinse regter van hierdie plek baie goed daarvan kan afkom - maar dit blyk nou nog nie die tyd te wees om ons te veel goeie hoop in beslag te laat neem nie.
[3] Dit sou derhalwe tog raadsaam wees om van naderby te bespreek wat ons die regter, voor wie ons môre vas en seker gelei sal word, as antwoord sal gee op sy vrae oor ons onderneming in hierdie streek, wat per slot van rekening sonder toestemming van Rome totaal onregmatig is; want ek vertrou die landelike rus van hierdie nag egter nog nie volkome nie, ondanks die goeie hoop wat jy, my vriend (dit is die kommandant) so pas onder woorde gebring het.
[4] Ek het die indruk dat ons môre `n nie minder erger storm te verduur sal kry nie - sy dit ook nie op die meer nie. Daarom sou dit ons nou egter nie skaad as ons met ons nog taamlike helder verstand beplan hoe ons onsself uit hierdie fatale toestand kan help.”
[5] Die kommandant sê: “Maar vriend, wat kan so `n beplanning en bespreking ons nou baat en help? Het dit dan nog nie dieper tot jou deurgedring nie, dat daar in die herehuis mense is wat ook ons mees geheime gedagtes stellig al weet, nog voordat ons dit in onsself gedink het?
[6] Kyk, mense wat iemand môre voor `n streng regbank wil lei, trakteer `n mens by die harde Romeine nooit op sulke brood en dergelike wyn nie, maar op baie armsalige brood en slegte water, op boeie en donker kerkers en nog ander huiweringwekkende dinge; want teenoor misdadigers ken die Romeine ook maar nooit die kleinste vonkie menslikheid nie. Laat ons nou dus ook geen woord meer spreek oor wat ons vir geen geld ter wêreld meer kan verander nie.
[7] Dit sou my wens wees om die beroemde Nasarener te ontmoet en met Homself oor hierdie saak te praat; slegs Hy sou ons almal die beste kan help! Ek stel al my vertroue op Hom!”
[8] Die owerste sê: “Ja, dit sou natuurlik baie goed wees, as Hy inderdaad ook hier aanwesig sou wees! Maar wat, as Hy uiteindelik tog nie aanwesig is nie?”
[9] Die kommandant sê: “Dan sal daar sonder uitsondering `n ander as Sy afgesant aanwesig wees, wat in Sy Gees handel en regspreek. En met hom sal daar sekerlik `n verstandige en waaragtige woord te spreek wees. Laat ons nou dus maar so vrolik en opgewek moontlik wees; want vandag het ons tog al meer as genoeg deurstaan en het in die storm waarlik so goed soos tien keer gesterf!”
[10] Toe die kommandant dit gesê het, kom daar, deur My gestuur, nogmaals `n dienaar van Markus na die gesante van Herodus toe, maar hierdie keer sonder brood en wyn.
[11] Toe hy by die verblufte dienare van Herodus aankom, sê hy op vraende toon aan hulle (`n dienaar): “Wie van julle is die moedige kommandant, wat die naam Leander dra?”
[12] Die kommandant sê: “Vriend, dit is ek! Wat is daar aan die gang? Wat moet daar gebeur?”
[13] Die dienaar sê: “Luister! die Een op wie jy jou vertroue gestel het en met wie jy graag sou wil spreek, is hier en Hy wil dat jy na Hom toe kom en dat Hy met jou praat! Volg my dus na die herehuis!”
[14] Aanvanklik was die kommandant baie verras deur hierdie uitnodiging.
[15] Die owerste wis hom van louter angs geen raad nie en sê half luid by homself: “O, ek het wel gedink dat ons saak sleg sou afloop!”
[16] Die dienaar sê: “Hoe maak jy jou nie verniet bang vir die grootste en hoogste Weldoener van die mense nie?! Wie in Hom glo, op Hom bou en Hom vertrou, gaan nooit verlore nie! Kom nou met my saam, kommandant Leander; want die Heer wil maar net met jou praat!”
|
|
|
|
|