|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 100
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Oor die regte weg na die regte doel. Verkeerde en korrekte ontwikkeling van die verstand
100 (Die Heer:) “Soos wat die mens homself nog so blind vir die lewe en onryp in die wêreld beweeg, lyk hy soos `n koringhalm, wat hom uit die kiem begin te ontwikkel. As hy onder invloed van die son nog maar `n span hoog bo die aardbodem uitgegroei is, merk mens nog niks van `n vrugdraende aar nie; maar onder die steeds sterker wordende invloed van die son word die aar ook baie gou sigbaar, wat steeds voller en volmaakter word, bloei en graankorrels set, welke aan die halm en in die huisies van die aar ryp word tot die stewige en lewedraende koringkorrels wat, wanneer hulle heeltemal ryp is, hulle geheel van die halm en ook volledig van die huisies losmaak en as sodanig vry daarin sit.
[2] As die korrel eenmaal heeltemal ryp geword het, sterf die halm en die aar. Waarom eintlik? Omdat al die vroeëre uiterlike lewe daarvan in die ware, innerlike vruglewe in die korrel oorgegaan het. En daarin is nou ook die wortels en die opgroeiende halm, in elke stadium van sy groei na volmaaktheid tot by die volledige rypheid; en dit nie net enkelvoudig nie, maar oneindigvoudig, want anders sou `n korrel wat in die aarde gelê is, nie weer alles wat vir die groei en rypword van die graan noodsaaklik is, in steeds groter wordende aantalle te voorskyn kon bring nie.
[3] Het julle dalk al eers meegemaak dat daar in die verstarde, koue winter, in die swak lig van die son, die maan en alle sterre, `n koringhalm met sy aar en korrels uit die aarde tot volledige rypheid opgegroei het? Net so min as wat dit in die winter moontlik is, is dit moontlik dat `n mens onder die tallose verskillende liggies van die so hooggeprese wêreldse wysheid ooit tot die ware innerlike lewensrypheid en bevryding kan kom! Die lewensomer moet oor hom kom, met die voorjaar wat dit voorafgaan; daardie laaste bestaan uit die geloof wat deur dade steeds lewendiger word, netsoos die somer, wat alle vrugte volledig tot rypwording bring, bestaan uit die steeds kragtiger wordende liefde vir God en van daaruit vir die naaste.
[4] God, wat in Homself die liefde, die lig en die lewe is, is die ware son van al die lewe. Wie God steeds inniger liefhet deur in alles volgens Sy geopenbaarde wil te handel, dring deur in sy innerlike in en gaan so oor in die ware somer van die Gees uit God, waar hy in die lewenslig van die liefde en die lewenswarmte daarvan tot die ware lewensrypheid kom.
[5] Julle hoor dit nou uit My mond; neem dit dus goed in ag en handel daarvolgens, dan sal julle tot die ware lewensrypheid kom! - Het julle dit nou begryp, en ook jy, Judas Iskariot?”
[6] Hy sê (Judas Iskariot): “Majesteit en Heer, U het nou in duidelike beelde gespreek, ons het dit ook begryp, en elkeen weet nou nog oortuigender as voorheen wat hy moet doen om tot die ryk van God in homself te kom; maar desondanks is dit tog geen maklike werk om dit in homself tot lewende krag te beweeg nie, - dit wat in die mens nog netso onbeweeglik rus en sluimer soos die kiem in `n saadkorrel. Dit moet eers in goeie aarde gelê word en volledig afsterf, sodat die alles tot stand bringende gees in die kiem kan ontwaak en sy eie aktiwiteite kan gaan ontplooi volgens die intelligensie wat in hom woon; want uit `n saadkorrel, wat droog in `n skuur lê, groei ondanks die mooiste voorjaar en die mooiste somer nooit `n halm, `n aar en ryp korrels nie!”
[7] Ek sê: “Goed, as jy dit ooreenkomstig die volle waarheid weet, trek dan jou ou, materiële, menslike Adam uit en trek die nuwe uit My aan, dan sal die innerlike mens in jou vanself wel netso aktief word as die gees in die kiem, wanneer die korrel wat hom omgeef in die aarde vergaan het en sodoende as voeding en versterking in die kiemgees oorgegaan het!”
[8] Daarop sê Judas Iskariot weer: “Majesteit en Heer, hoe kan mens dan die ou Adam uittrek en daarna `n nuwe aantrek? Moet mens sy materiële liggaam dalk doodmaak, om sodoende tot `n geestelike lewe te kom?”
[9] Ek sê: “Hoe kan een van My ou en mees geleerde leerlinge tot so `n meer as dom oordeel kom? Wie het gesê dat `n mens sy liggaam moet doodmaak om daarna `n suiwer geestelike mens te kan word? Jou wêreldse begeerte en luste, wat in jou vlees raas en woed, dié moet jy onderwerp met jou vrye wil, en streef na die ryk van God in jouself op die manier wat vir jou maar al te duidelik is, dan het jy daarmee die ou mens uitgetrek en `n nuwe aangetrek.
[10] Maar as jy by jouself nog steeds so heimlik aan die uiterlike dinge en hulle bekorings hang en ronddwaal in die beperkte gebied van jou aardse wysheid en allerlei ervarings wat jy as blinde opgedoen het, dan kan dit jou nog oorkom dat die kwade gees van die wêreld jou heeltemal gevange sal neem en jy hom met liggaam en siel as beklaenswaardige slagoffer ten prooi sal val.
[11] Wie slegs deur waarnemings en volgens die oordeel van sy wêreldse verstand tot die innerlike, ware wysheid van die Gees uit God wil kom, vergis hom geweldig; hy kom op syweë, wat vol afgronde is, waarin hy in die nag van sy gees maar al te vinnig en maklik kan val en homself heeltemal ten gronde kan rig.
[12] Straal daar in die nag nie tallose sterre aan die hemel nie? En tog kan jy by die lig daarvan geen letter lees nie! So kan die mens by die duisendvoudige skynsel van sy moeisaam verworwe wêreldse kennis en opgedane ervarings ook nie die innerlike skrif van die lewe ontsyfer nie.
[13] Maar netsoos mens oordag by die lig van die son selfs die kleinste letter goed kan lees, so kan `n mens, wanneer, deur sy handel, volgens My Woord, die innerlike lewenson in hom opgegaan het, ook sy innerlike, ware lewenskrif lees en begryp, en kan hy die beperkings sien van alles wat daar in hom is en hom ook aan alle kante na buite toe omring.
[14] Deur net met die swak skemerlig van die wêreldse verstand te soek, vind die siel in die mens haarself nie eers nie - laat staan haar lewensverband met die liggaam en met die gees in haar. Die mens moet sy harsingverstand goed ontwikkel en verstandig leer dink - egter nie op die manier van die wêreld nie, maar op die manier van die ware kinders van God, netsoos dit goed te sien is by die vrome aartsvaders en stamvaders; dan sal ook die harsingverstand weldra maklik die ligsterkte kry, vergeleke waarmee alle wêreldse wysheid `n groot duisternis is.
[15] Kyk byvoorbeeld maar net na die eerste ontwikkeling van die verstand van mense soos SamuEl en Dawid, van `n Salomo en van nog `n groot aantal mense! Waar is daar onder diegene wat in wêreldse opsig so geleerd is, sowel onder die Judeërs as die heidene, iemand wat dié manne in wysheid ewenaar? Neem dus in ag wat Ekself aan julle sê, dan sal julle harsingverstand ook in alle dinge baie goed verlig word!”
|
|
|
|
|