Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 198

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die ondergang van die agente van Herodus

198 Na daardie onderrig kom RafaEl weer na Ons toe terug, en nou verklaar hy die voortdurende storm.

[2] In Tiberias is daar baie gesante van Herodus, wat die opdrag het om My en My leerlinge op te spoor, sodra hulle sou hoor waar Ek verblyf - en dit het hulle verneem deur die teruggekeerde skippers, wat om en by die middaguur die mense uit Joppe na Markus toe gebring het. Daarom het hulle verskeie skepe beman en dit teen die aand van Tiberias laat afvaar in die rigting van Markus, om My te gryp. Die Meer van Galilea het vanaf, die meer heidense as Judese stad Tiberias, tot aan die dorp van Markus egter baie steil en rotsagtige oewers, en tussen die twee bogenoemde plekke, wat tog taamlik ver van mekaar verwyder lê, het mens hoogstens drie plekke waar die vissers met hulle bote byna kan meer.

[3] Dat dit met die taamlike groot skepe, wat teen die aand vanaf Tiberias, met die mense van Herodus, uitgevaar het om My in die hande te kry, sleg gaan in die storm, kan elkeen maklik vir homself indink; want dadelik na hulle vertrek uit Tiberias, steek daar `n baie hewige noordwestewind op wat die skepe met onweerstaanbare geweld na die ooskus dryf, waar hulle met krag teen die oewer bots en behoorlik beskadig raak.

[4] Die skippers was nou druk besig om enkele gebroke roeirieme in `n ietwat bruikbare toestand te bring, maar verklaar tegelykertyd teenoor die gesante van Herodus dat hulle hierdie nag - as die wind nie sou draai of heeltemal gaan lê nie - hierdie oewer vir geen goud meer sou verlaat nie.

[5] As hulle self hulle lewe wil waag, moes hulle maar in die drie beste skepe klim, dieselfde roeirieme ter hande neem en probeer om na die oorkant na die kuuroord te vaar, wat met `n gunstige wind, ruim drie uur se vaar verder op lê. Maar ook die gesante van Herodus blyk geen sin daarin te hê nie.

[6] Toe die noordwestewind spoedig daarna na die ooste draai, sê die gesante van Herodus: “Wel nou, moedelose skippers, die wind het gunstig gedraai! Kan julle nou nie ook na die oorkant toe vaar nie?”

[7] Die skippers sê: “Oordag, as jy die gevaar sien, kan jy met hierdie wind maklik na die kuuroord aan die oorkant vaar; maar in die nag is dit, ondanks die gunstige draaiing van die wind, `n waagstuk, en dan kan jy baie gehawend raak. Bowendien is `n oostewind wat in die aande opsteek, nie te vertrou nie, omdat hy stellig in `n orkaan oorgaan; en as dit tekere gaan, wee dan diegene wat hulle op die water bevind!”

[8] Die skippers maak twee skepe vir hulleself stewig vas aan die oewer en sê aan die gesante van Herodus: “Die ander en beter skepe daar is tot julle beskikking! Vaar nou self maar waarheen julle durf en wil; ons vat vannag aan geen roeispaan meer nie! Die skepe wat ons hier aan julle oordra is die eiendom van die stad; as hulle saam met julle ten gronde gaan, kan Herodus dit aan die burgers vergoed. Maar hierdie twee skepe is ons eiendom, en ons sal hulle nie verder aan gevaar blootstel nie, en onsself nog minder.

[9] Bowendien het ons van alle kante gehoor dat almal wat probeer het om die Nasarener op te spoor, sleg daarvan afgekom het - en wie weet of Hy, wat, volgens wat mense sê, `n verbond het met alle geheime magte en kragte, nie alreeds presies op hoogte is van julle voornemens en ons reis na die kuuroord nie, waar Hy, volgens diegene wat ons vandag na die kuuroord gebring het, moontlik sou verblyf - wat miskien wel en miskien nie so is nie - al heeltemal verydel het; dit het ons in Tiberias ook al aan julle gesê, en daaroor het julle ons uitgelag. En nou staan ons hier en kan nie verder nie!” 

[10] Daarop sê `n owerste van die gesante van Herodus: “Laat die twee lafaards tog hier sit! Dit is `n maanligte nag en die wind is gunstig; met die windkrag is ons binne `n uur aan die oorkant, en in die kuuroord sal ons spoedig te wete kom waar die Nasarener Hom met Sy aanhangers ophou.”

[11] Hierop klim hulle in die vyf skepe, wat die eiendom van die stad was, en trek kragtig aan die roeirieme. Toe hulle uit die moerasagtige water op die vrye, oop meer kom, verander die oostewind, wat tevore alreeds hard gewoed het, onmiddellik in `n baie hewige orkaan, wat die water weldra tot toringhoë golwe opsweep.

[12] Toe sê die skippers op die veilige oewer: “O, dit sou wel `n groot wonderwerk wees as ook maar een van die vyf skepe die oorkant bereik. Die dwase kry hulle verdiende loon, as hulle almal ten gronde gaan! Miskien sal die skip, waarop die owerste vaar, die oorkant haal en daarteen te pletter slaan, omdat dit stewig getimmer en goed afgedek is; maar die vier oop skepe sal reddeloos sink!”

[13] En so gebeur dit ook: Die vier oop skepe met honderd en dertig soldate van Herodus word na `n kwartier deur die meer verswelg; slegs die skip van die owerste bereik na twee uur die oorkant, en wel alleen omdat Ek dit so gewil het.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205