Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 119

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die Heer roep die drie aartsengele MigaEl, GabriEl en RafaEl

119 Vroeg in die oggend, wat baie suiwer was, staan Ons op van die goeie russtoele en begeef Ons na buite, en wel na die nabygeleë oewer van die meer. Kisjona, Philopold en ook die vier Indo-Judeërs was by Ons. Maria bly nog in huis om te rus en kom eers teen die volledige sonsopkoms na Ons toe, vergesel deur Joël.

[2] By hierdie geleentheid sê Ek: “Aangesien Ek hierdie keer* hierdie plek nie meer so liggaamlik soos nou sal betree nie, sal julle met julle oë in vervulling sien gaan wat daar van My geskryf staan: “En julle sal engele tussen hemel en aarde sien opstyg en neerdaal, en hulle sal Hom dien!" *(“Hierdie keer” dien hier opgevat te word as: “tydens die aardse lewe van My as mens”)

[3] My leerlinge het so-iets al gereelder gesien; maar hier laat Ek dit veral terwille van die vier Indo-Judeërs gebeur.

[4] Eerste roep Ek in die gees vir MigaEl, wat soos `n helder flits uit die sigbare hemel na die aarde neerdaal, sodat almal geweldig daarvan skrik. MigaEl staan in al sy majesteit voor My, sterker stralend as die son, en niemand behalwe Ek, kan sy ligglans verdra nie.

[5] Ek sê aan hom: “Johannes, omhul jou met `n skadu, sodat My vriende jou kan sien, herken en spreek!”

[6] Toe omhul hy hom met `n skadu en staan hy vol liefde en eerbied voor My en sê (MigaEl): “Kyk, broers! Dit is die Lam wat die sondes van die wêreld van julle sal wegneem en vir julle die weg na die ewige lewe berei! Glo in Hom en het Hom bo alles lief; want Hy is die oerewige begin en die oerewige einde, die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste - buiten Hom is daar geen God nie!”

[7] Toe die engel hierdie woorde met `n baie lieflike stem uitgespreek het, buig hy diep voor My en prys My Naam hoog.

[8] Toe val ook alle ander voor My neer en loof en prys My netsoos die engel.

[9] Ek beveel hulle almal om op te staan en sê aan hulle: “Bly in julle natuurlikheid; want Ek is nou `n mens netsoos julle en is deur julle geloof in My en deur julle liefde vir My in julle, netsoos julle in My! Bly daarom in julle natuurlikheid!”

[10] Toe staan almal weer op, en Johannes loop na sy vroeëre leerlinge en spreek met hulle oor dinge, wat na My oor die Judeërs en oor die mense van die aarde sou kom vanweë hulle ongeloof, en hy bly die hele dag by Ons in die sigbare menslike gedaante van Johannes, wat vir almal goed herkenbaar was.

[11] Na hom roep Ek die aartsengel GabriEl. Hy kom onmiddellik netsoos MigaEl-Johannes, maar omhul hom dadelik met `n skadu, gee My die eer en loop dadelik na Maria en spreek met haar oor sy sending met haar, en hulle raak daarby vervul van deemoedige geluk en saligheid. Daarna gaan GabriEl, wat in die gedaante en persoon van die voorvader Jared verskyn het, ook na My leerlinge en spreek met hulle oor die Adamitiese oertyd en oor die toenmalige openbarings aan die kinders van die hoogte en ook aan die kinders van die wêreld; en ook hy bly tot die aand sigbaar by Ons.

[12] Na hom roep Ek vir RafaEl. Ook hy verskyn dadelik op dieselfde manier as die eerste twee, omhul hom met `n skadu, gee My die eer en loop na die vier Indo-Judeërs toe in die gestalte en die persoon van Henog, en spreek baie vriendelik met hulle oor My, en dat hy die een was wat hulle op My bevel uit die Babiloniese gevangeskap bevry het en hulle na die land gebring het, wat behalwe deur Adam en Eva, nie voorheen deur `n mens bewoon was nie.

[13] Die dogtertjie was baie verbaas oor die gestalte van RafaEl en sê: “O, lieflike boodskapper uit die ligtende hoogtes van God ! Vir jou het ek in my helder drome al baie gereeld gesien en ook mee gespreek; maar as ek met my ouers daaroor wou praat, wou hulle geen geloof daaraan heg nie en noem my `n droom fantaseerder. Maar nou sien hulle jou self met hulle oë en sal nou wel glo dat ek in my drome die volle, ligte waarheid gesien het!”

[14] En die ouers loof My, omdat Ek hulle so `n vrome dogter gegee het.

[15] Hierdie gebeurtenis van die aankoms van die drie engele duur ongeveer `n uur lank.

[16] Kisjona, wat byna heeltemal in die war was van vreugde, vra aan My: “O Majesteit en Heer, hoeveel van sulke geeste woon daar nie in U hemele nie?”

[17] Ek sê aan hom: “O My beste vriend, die aantal van sulke geeste in My ryk is eindeloos; want wat sou `n eindige aantal wees vir `n ewige en in Sy Gees van Liefde en Wysheid oneindige God?! Kyk op `n helder nag na die sterre wat vir jou talloos is - jy weet al wat hulle is; ook daarop word mense verwek en gebore! Uit hulle word egter ook geeste opgewek tot `n ewige lewe en ewige werksaamheid. As jyself as voleindigde gees in My ryk sal wees, sal jy alles self sien en sal jou saligheid daaroor nooit meer `n einde neem nie!

[18] Ek sê aan jou: Geen oog het ooit gesien, geen oor gehoor en geen sintuig gevoel wat daar in die hemel wag op diegene wat God bo alles liefhet en hulle aan Sy gebooie hou nie!

[19] Weliswaar is die lewe van die mens van sy geboorte tot by die afval van sy liggaam, behep met baie noodlottige gebeurtenisse en allerlei soorte lyding; maar as hy volgens die bekende orde van God leef en daardeur in homself reeds op hierdie aarde die lewenshelder bewussyn ontvang van wat hom in die ander, ware lewe te wagte staan, sal hy al die nog so bittere beproewings, wat hom maar net gestuur word om die Gees van God in sy siel te wek, met alle geduld en standvastigheid verdra en daarby heel blymoedig wees.

[20] Neem `n voorbeeld van Myself! Ek weet watter lyding Ek op hierdie aarde, binne `n kort tyd, te wagte staan; maar My oorgrote liefde vir julle mense, ja, vir My kinders, versag dit vir My. Laat menige lyding en menige verdriet, wat julle, My kinders in dié lewe te verduur kry, ook versag word deur die liefde vir die Een wat in My woon, dan sal julle daardeur ook, netsoos Ek, welgemoed en blymoedig en opgewek van gees kan wees!

[21] Kyk, hierdie drie engelegeeste, wat vandag tot sonsondergang by Ons sal bly, het op hierdie aarde baie te verduur gehad; nou is hulle egter meer as gelukkig en sal ewig niks meer te ly kry nie. Dit is egter hulle grootste saligheid as hulle in My Naam die mense op hierdie aarde `n egte liefdesdiens kan bewys, hoewel hulle daarnaas oor tallose sonne en aardes in die eindelose ruimte te gebied het.

[22] Betoon ook julle dus reeds nou op hierdie aarde, liefde aan die mense, terwille van My Naam, dan sal julle daarvoor ook al vele salighede te geniet kry; want gee is baie saliger as neem!”

[23] Toe Kisjona dit uit My mond gehoor het, bedank hy My vir hierdie les en belowe My vurig dat hy die woorde van My in al sy dade bo alles ter harte sou neem.

[24] Toe kom daar ook `n dienaar uit die huis na Ons toe, aan die oewer van die meer, om aan Ons te berig dat die oggendmaal gereed gestaan het.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205