Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 164

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die genesing deur die geloof van die bekeerde regter

164 Toe die regter dit eg gemeen het en vervul van `n vaste, onwankelbare vertroue van binne en ook openlik met sy mond uitgespreek het, vaar daar onmiddellik as te ware `n bliksem deur sy bors, en hy word dadelik so volkome gesond soos wat hy nog nooit voorheen in sy hele lewe was nie; want hy was al vanaf sy geboorte swak gewees en daarom het hy, hoewel hy die seun van `n hoofman was, hom nie aan die krygsdiens gewy nie, maar het die wette van Rome bestudeer en regter geword. 

[2] Toe hy nou skielik geheel en al gesond geword het, begin hy ook luid te jubel en hy bedank My en ook die arts, wie se onverskrokke woorde en diep en lewensware toespraak so `n geloof en vertroue in hom gewek het.

[3] Toe hy hom heeltemal uitgeput het in louter lofprysinge van My, vir hom persoonlik nog volkome onbekende wese, wend hy hom weer tot die arts en sê (die regter): “O my beste vriend, hoe kan ek jou beloon vir die moed wat jy teenoor my betoon het en vir die werklik nie geringe moeite wat jy met my blindheid het, en hoe kan ek hierdie twee metgeselle van jou ook beloon, wat jou as eerstes die berig oor die persoonlike aanwesigheid van die groot Heer en van Sy waaragtige goddelikheid gebring het? Sê eers, julle twee beste vriende, wat het Hy aan julle gesê wat iemand moet doen om hom blywend van Sy barmhartigheid te verseker?” 

[4] Hierop sê ons Polycarpus: “Wat dit aanbetref, het Hy maar net gesê: “Hou jou by die tien gebooie van Moses en wees op die manier vir God, diegene en enig Ware, bo alles lief en julle naaste soos julleself; doen vir hulle wat julle redelikerwys sal verlang dat hulle ook vir julle sal doen. Verder moet julle julleself nie laat verlei deur die bekoorlike verlokkinge van die wêreld nie - dan sal julle in My bly en Ek in julle, en sal julle op die manier die ewige lewe deur die Gees van My liefde in jou hê; want Ekself is die Weg, die Waarheid en die ewige Lewe! Wie in My glo en hom aan My gebooie hou, dit is diegene wat My bo alles liefhet; na hom sal Ekself kom, Ek sal My aan hom openbaar en hom die ewige lewe gee!” Kyk, dit is die wese van Sy leer.

[5] Ons het nog baie met Hom gepraat en Hy het ons oor baie groot dinge grondig onderrig, waaroor ons nou nie kan praat nie, omdat dit so omvangryk is; maar daarvoor sal ons nog wel `n goeie oomblik vind.”

[6] Die regter en die arts bedank Polycarpus vir hierdie mededeling en neem die vaste besluit om hulle hele lewe lank daarvolgens te handel.

[7] Na hierdie tweede genesing glo ook die ander metgeselle nou volkome in My en vra My ook om genesing van hulle siek vlees en bloed, en ook hulle word skielik gehelp, waarop die juig en die prys van My Naam, wat Polycarpus hulle ook vertel, byna geen einde het nie.

[8] Dit trek die aandag van baie kuurgaste, wat na hulle toe gaan en vra wat opmerklik daar voorgeval het, dat hulle so aanhoudend jubel.

[9] Die regter sê: “Ons het julle tog ook nie gevra, waarom julle nie jubel nie? So lank jou liggaam siek is en ook jou siel, het jy weinig sin om te juig; maar as jou liggaam en jou siel volkome gesond geword het, het mens alle rede om te juig!”

[10] Daarop sê `n ryk Judeër, wat in die kuuroord egter nog nie baie beter geword het nie: “Hoe het julle hier op hierdie plek so vinnig gesond geword?”

[11] Die regter sê: “Dit strek jou as Judeër nie besonder tot eer, dat jy ons heidene daarna vra nie! Julle glo tog in die een, enig ware God, en ons het nog maar net in Hom begin glo en het Hom om Sy hulp gevra - en Hy het nie getalm om ons te help nie, en daarom jubel ons ons dank aan julle God toe, wat nou ook ons God is en sal bly. Waarom het jy jou as Judeër nie vol geloof tot jou God gewend nie, sodat Hy jou ook kan help, netsoos Hy ons onmiskenbaar gehelp het?”

[12] Heeltemal onthuts sê die Judeër: “Ek het niks in die Skrif gelees daaroor dat ons God ooit die onbesnede heidene gehelp het nie!” 

[13] Die regter sê: “En tog het ook ons die lewe en alles van Hom, en Hy laat ons oor julle heers! Hoe is dit dan?”

[14] Toe die Judeër en verskillende van sy stamgenote dit hoor, vra hulle niks meer nie, keer hulle om en gaan weg.

[15] Die geneesdes was egter baie bly omdat hulle op die manier van die lastige gaste verlos was.

[16] Omdat Ek nog nie na die kuuroord gekom het nie en hulle tog met groot verlange op My gewag het, besluit hulle, saam met almal, om My te gaan soek om My in die teenwoordigheid van alle mense eer te bewys; hulle vra daarom aan `n dienaar van Markus of Ek nog in die huis van Markus was, en of hulle My daar mag ontmoet.

[17] Die dienaar sê: “Die Majesteit en Heer bevind Hom nog in die huis met die middagmaal en vertel wonderbaarlike dinge.”

[18] Ek vertel naamlik wat daar met hierdie geneesdes gebeur en wat hulle gesê het; maar die dienaar, wat Ons eers in huis bedien het en daarna deur Markus na die kuuroord gestuur was om iets te gaan haal, het dit nie begryp nie, en daarom kon hy ook geen antwoord gee op die vraag van die geneesdes nie; want hy wis immers niks daarvan, hoe die Grieke uit Melita en die Romeinse regter deur die mag van My wil genees was nie. 

[19] Maar tog sê hy aan diegene wat hom vra of hulle na My toe mag kom (die dienaar): “Ek het nog `n kleinigheid om hier te doen; daarna sal ek weer na die huis gaan en julle versoek voorlê, en julle dan dadelik die antwoord van die groot Majesteit en Heer kom bring.”

[20] Daarmee was die geneesdes tevrede. Die dienaar gaan weg en doen wat hy moes doen, kom daarna na die huis, na Ons toe, en bring aan My oor wat die geneesdes hom gevra het.

[21] Ek sê aan hom: “Gaan sê vir My vriende, wat jou vra of Ek nog in die huis was en of hulle na My toe mag kom, die volgende: Wie deur die liefde na My gelei word, kan altyd na My toe kom, dan sal Ek hom opneem met die liefde wat hom na My toe gebring het!”

[22] Na hierdie woorde van My gaan die dienaar nogmaals na die kuuroord en sê dit aan die geneesdes, wat daarop vol blydskap dadelik op weg gaan om onmiddellik met alle eerbied na die woonhuis van Markus te gaan.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205