Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 186

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die genesing van die siekes uit Joppe

186 Toe Ek hierdie dinge gesê het, kom `n dienaar van Markus Ons uitnooi vir die middagmaal; want dit was inmiddels al ver na die middag.

[2] Maar Ek sê: “Wie van julle nou na benede wil gaan om hom met aardse spys en drank te versterk, kan nou gaan en sy liggaam tevrede stel; Ekself sal vandag egter tot vanaand op hierdie berg bly. Wie by My wil bly, sal ook geen honger of dors ly nie!

[3] Daar sal weldra `n groot aantal hongerige en dorstige armes uit die omgewing van Joppe hier aankom, wat die maaltyd wat vir Ons voorberei is, sal eet. Daar sal kreupeles, aan hande en voete verlamdes, melaatses en mense wat deur kwade koorse gepla word by wees; wanneer hulle van die spyse wat vir Ons berei is, eet, sal dit beter gaan met hulle. - Dit moet die dienaar in die huis so reël!” 

[4] Eén van die aanwesige leerlinge van Johannes sê: “Majesteit en Heer, die mense wat uit Joppe hier sal aankom weet tog nog niks oor U nie en kan tog ook nog geen geloof in U en U Woord hê nie - en tog word hulle genees deur U seën, wat U in die spyse sal lê. Hoe rym dit met wat U altyd sê: “Jou geloof het jou gehelp”?”

[5] Ek sê: “Hoe rym dit met jou dat jy, wat tog al `n ouer leerling is, so `n onnosele vraag kan stel? Het Ek nie al `n groot aantal leerlinge uitgestuur nie?

[6] Twee van hulle bevind hulle nou in Joppe en verkondig My Woord aan die armes. Hulle het die armes in My Naam ook wel die hande opgelê, en dit gaan beter met hulle; maar die geneesdes val weer terug in hulle ou swakhede en alledaagse sondes en sodoende ook in hulle ou liggaamlike kwale.

[7] Hulle het hulle weer tot die twee leerlinge gewend, met die vraag of die hulle weer wou genees. Maar die leerlinge het gesê: “Ook al genees ons julle weer in Naam van die Heer, julle sal tog weer opnuut sondig; daarom sê ons vir julle: Doen eers egte boete, en as die Heer sien dat julle jul lewe ernstig en vir goed verbeter het, sal Hy julle wel self help! Staan op en wandel vol berou, geloof en vertroue na die wónderbron aan die Meer van Galilea, wat die Heer Self daar geplaas en geseën het, dan sal julle daar genesing vind; laat die voetreis, wat `n swaar opgawe vir julle is, `n boetedoening vir julle wees!” 

[8] Kyk, na hierdie ernstige vermaning, het die siek armes, hoe moeilik dit ook gegaan het, vol geloof en vertroue aan die ver en moeisame reis begin, en die skip wat nou juis op hierdie oewer aankoers, bring hulle hierheen. 

[9] Hulle kom dus nie sonder geloof hier aan nie, maar met `n regte hoeveelheid geloof, en hulle sal dan ook deur hulle geloof gehelp word.

[10] Maar stel in die vervolg nie meer so `n onnosele vraag aan My nie; want dergelike vrae sou blyke daarvan gee dat jy nog geen geskikte sout sou wees om die spyse vir siel en gees van die mense mee te kruie nie!”

[11] Hierop vra die leerling My om vergewing en bedank My vir die teregwysing.

[12] Ek wend My tot die dienaar, wat intussen van Markus opdrag gekry het om `n toereikende hoeveelheid brood en wyn op die berg te bring, en sê: “Die armes moet hulle ete buite kry; want die buitelug is meer bevorderlik vir hulle gesondheid as die lug en dampe van die eetsaal. Gaan doen nou wat aan julle opgedra is!”

[13] Hierop gaan die dienaar weg en sorg nougeset vir alles.

[14] Weldra bring ander dienare verskeie kraffies vol wyn en ook verskeie brode.

[15] Die na benede gestuurde dienaar sê aan die arme gaste, wat aan land gestap het, dat hulle so goed en kwaad as dit gaan buite aan die tafels moes plaasneem, en laat dadelik die uitstekend voorbereide spyse in oorvloed op hulle tafels sit.

[16] Die armes skrik egter daarvan en sê: “O vriend, aan sulke spyse sou ons egter wel behoefte hê; maar ons is arm en kan dit nouliks betaal!”

[17] Die dienaar sê: “Die Een wat hierdie spyse voorgeskryf het vir julle genesing, het dit al betaal; eet en drink dus sonder om vir julle verdere sorge daaroor te maak! Maar as julle gesond word, verval dan nie weer in julle ou swakhede en sondes nie, netsoos julle dit nog maar kort gelede in Joppe gedoen het, nadat julle vir die eerste keer deur die twee leerlinge genees was!”

[18] Toe die armes dit hoor, verbaas hulle hulleself oor die woorde van die dienaar, en een van hulle vra hom hoe hy dit kon geweet het, aangesien die twee leerlinge wat dit aan hulle gesê het, vir sover hy wis, al `n geruime tyd in die hawestad verblyf en hierdie streek sekerlik nie besoek het nie en dit dus nie vir hom kon vertel het nie, en dat, behalwe die twee leerlinge van die groot Heiland en hulleself, niemand iets daarvan kon weet nie. 

[19] Die dienaar sê: “Vra nou nie verder nie, maar eet en drink, sodat julle weer gesond kan word! As julle weer gesond geword het, sal ons nog wel daaroor kan praat hoe ek die dinge te wete gekom het.”

[20] Toe begin die armes te eet en te drink, en toe hulle werklik versadig was, verlaat hulle kwale hulle ook; die melaatses word rein, die koorslyers raak hulle koors kwyt, en die verlamdes en kreupeles word genees van hulle lyding en kan hulle voete en hande so goed gebruik as net soos wat `n sterk en volkome gesonde mens dit kan. Aan die verbasing, die vrae en ook die lofprysinge kom byna geen einde nie. Maar die dienaar gee hulle geen antwoord wat van spesiale belang was nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205