Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 58

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die navolging van die Heer

58 Ek sê: “Waaroor jy My nou gevra het, het Ek dit nou reeds gedoen en daarom sal jy maklik verder kan gaan! Want vir wie My lewenslig skyn, die sal met sy voete onderweg nie maklik meer teen `n klip stamp nie en hy sal weet om die dorings te vermy. Wie met My wandel, het oral al `n goed gebaande weg; wie egter sonder My wandel na die ryk van God, wat die innerlike ryk van die lewe en alle waarheid is, het `n lang, smal en baie doringrige weg te gaan, netsoos dit by baie ou wyses van alle volkere op aarde die geval was en ook in die toekoms die geval sal wees en bly.

[2] Jy het dit van nou af aan maklik, netsoos vele wat My gesien en gehoor het en heeltemal in My glo; maar hulle nakomelinge sal enkel en alleen deur hulle geloof God se ryk bereik. Wie My sien en hoor, glo maklik en kan ook maklik volgens My Woord lewe en handel. Maar wie My in die toekoms nie meer in lewende lywe sal sien nie, sal dit moeiliker hê om die ware, lewende ryk van God te bereik; want hy sal suiwer moet glo wat die uitgestuurde bodes hom oor My sal vertel.

[3] As hy egter dit wat hy hoor, bereidwillig in sy hart opneem en ware vreugde voel vanweë die waarheid wat hy gehoor het, sal die doop van die gees vanuit My weldra oor hom kom, en dan sal hy daarin die geopende poort na die Godsryk ontdek. Vanaf daardie punt sal ook vir hulle wat geen getuies gewees het van My huidige aanwesigheid nie, die weg na die Godsryk maklik wees. 

[4] Maar verheug jou, noudat julle dit almal weet, oor die feit dat God dit alles vanaf die eerste begin al so beskik het! En as julle die mense oor My en My ryk sal vertel, sê hulle dan ook wat Ek nou aan julle gesê het; maar laat hulle veral begryp dat My ryk nie van hierdie wêreld is nie - maar dat dit die inwendige ryk van alle waarheid en al die lewe in die diepste innerlike van die mens is. Wie dit in homself gevind en daardeur sy lewende geloof en werksame liefde binnegegaan het, het die wêreld, die oordeel en die dood oorwin en sal voortdurend die ewige lewe hê.

[5] Weliswaar meen die wêreldse verstand dat die dinge, wat Ek julle nou gesê het, dwaasheid is; maar tog is dit die hoogste wysheid van alle lewe in God. Heil diegene wat hulle nie daaraan erger nie!

[6] Niemand kan weet wat daar alles in `n mens verborge lê, wat noodsaaklik is vir sy lewe, behalwe die gees wat in die diepste innerlike van die mens is en woon; en so weet ook geen geleerde wat God Self is en wat daar in Hom is, maar alleen God se Gees, wat al Sy dieptes deurdring. 

[7] As die gees, wat die ware lewenslig in die mens is, nie gewek word nie, is dit duister in die mens en ken hy homself nie; wanneer deur die geloof in My en deur die liefde tot My en die naaste die gees in die mens egter gewek en tot `n helder lig aangesteek word, deurdring die gees die hele mens deur en deur, en dan neem die mens waar wat daar in hom is en ken hy homself. En wie homself ken, ken God ook; want die ware en ewige lewensgees in die mens is nie `n menslike gees nie, maar `n goddelike gees in die mens, anders sou die mens geen ewebeeld van God wees nie.

[8] As julle dit nou goed begryp het, sal Ons nou, na liggaam en gees gesterk, van hier op weg gaan na Galilea.”

[9] Almal verseker My dat hulle dit goed begryp het en bedank My vir hierdie les.

[10] Die herbergier maak natuurlik die opmerking, of Ek miskien nog tot die middag in sy huis sou wil bly.

[11] Maar Ek sê aan hom: “Kyk, alles in hierdie wêreld het sy tyd, dus ook net kom, bly en gaan! Ek weet egter waar vandag nog `n groot hoeveelheid werk op My wag, en Ek moet daarom ook daarheen gaan waar die werk op My wag! Bowendien sal daar oor `n uur `n groot karavaan van kooplui wat uit Jerigo kom, by jou aankom, en dan sal julle baie te doene kry. Die kooplui sal jou baie oor My kan vertel; vertel jy hulle ook dat Ek hier was, maar sê hulle nie in welke rigting Ek gegaan het nie!”

[12] Die herbergier verseker My nogmaals dat hy alles, wat hy as My wil herken het, streng in ag sou neem en bedank My ook nog eens vir die weldade wat Ek hom bewys het; toe gee Ek die leerlinge `n teken om op te breek.

[13] Daarop staan Ons egter op en gaan op weg. Die herbergier en sy geneesde seun begelei My meer as duisend treë en keer daarna goedsmoeds weer terug na huis.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205