Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 69

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die waarde van die instellings van die tempel

69 Die herbergier sê aan My: “O Majesteit en Heer, aangesien Ons op die oomblik rustig bymekaar sit en nie bang hoef te wees dat Ons deur iemand gesteur word nie, en dit ook nog nie so laat in die aand is nie, vra ek U om aan my `n aantal dinge te noem wat nodig is om die ware heil van die siel te bereik!”

[2] Ek sê: “Glo sonder om te twyfel in God, hou jou aan Sy gebooie, het Hom bo alles lief, soveel jy maar kan, en jou medemense soos jouself, en glo dat Ek die beloofde Messias is, wat as die ewige Waarheid, die Lig en die Lewe Self nou in `n liggaam in hierdie wêreld gekom het, sodat almal wat in My glo en volgens My leer lewe, die ewige lewe sal hê! As jy dit alles glo en daarvolgens sal handel, sal jy vir jou siel in ewigheid die ware, lewende heil verwerf en behou.

[3] Kyk, dit alleen is volkome voldoende om die ryk van God in jouself te bereik; al die ander is ydel, en het met betrekking tot die nut vir die siel, geen waarde vir God nie. As Ek as Heer van al die lewe dit vir jou sê, kan jy ook glo dat dit so is en nie anders nie.”

[4] Die herbergier sê: “O Majesteit en Heer, ek glo dit nou vas en sonder enige twyfel; net het Moses nog `n hele boel reëls en voorskrifte gegee, byvoorbeeld dat mens as Judeër maar net bepaalde spyse mag eet, sy liggaam herhaaldelik moet was, moet vas, boete moet doen in sak en as, `n mantel van hare moet dra, en so nog `n groot aantal voorskrifte meer, wat moeilik te onthou en derhalwe nog moeiliker in ag te neem is, waardeur jy dan ook steeds in die angs leef dat jy vol sondes is, wat jy in onwetendheid begaan het. Hoe moet jy jou, wat die dinge betref, eintlik gedra? Is die streng inagneming van alle voorskrifte wat Moses en ook die ander profete gegee het, `n absolute voorwaarde om die goddelike welgevalle te bereik?”

[5] Ek sê: “As jy in ag neem wat Ek jou so pas gesê het, het jy daardeur al alles vervul wat daar deur Moses en alle profete geskryf staan wat julle moet doen. Die mens moet eet en drink om sy liggaamlike lewe in stand te hou; maar die spyse en die drank moet suiwer en vars wees. En so is dit vir die liggaam ook goed en gesond om dit so skoon moontlik te hou, en so ook in alle dinge suiwer, matig en nugter te wees. Dergelike verordeninge is dus nie alleen vir die Judeërs goed en heilsaam nie, maar vir alle mense; want in `n siek liggaam kan die siel haar ook nie so maklik verhef tot dit wat haar heil kan bevorder en haar vir die ewige lewe kan versterk nie. 

[6] Kyk, daarom het God deur Moses en ook deur die ander profete dit voorgeskryf wat vir die duur van die aardse lewe goed vir die liggaam is, en die mens doen goed daaraan as hy ook hierdie reëls in ag neem!

[7] Wie egter doen wat Ek jou so pas gesê het, word dan wel gelei deur die Gees van die ryk van God in sy eie hart, en Die toon hom ook die reëls vir die welsyn van sy liggaam; en op die manier lê in dit wat Ek jou gesê het, alles alreeds besluit! - Het jy dit nou alles goed begryp?”

[8] Die herbergier sê, waarmee die geneesde kneg baie dankbaar met hom instem: “O Majesteit en Heer, ons dank U uit die diepste van ons siel, van ganser harte en met al ons lewenskragte vir U baie wyse en waaragtige les, wat `n heel ander lig in ons aangesteek het as die lang preke van die fariseërs, wat die hele heil van die mense slegs laat afhang van die feit of mens hom streng hou aan die vele uiterlike dinge en reëls; maar of mens hom hou aan God se gebooie, waardeur die siel gelouter en vir die ewige lewe sterker gemaak kan word, heg hulle byna geen waarde nie en hulle sê dat die mens in plaas daarvan kan offer - wat nuttiger vir hom sou wees as wanneer hy hom star en met moeite aan die gebooie hou.

[9] En so sien jy die mense gereeld groot offers voor die deure van die fariseërs neerlê; maar iemand wat hom streng aan die gebooie van Moses hou, sien jy byna gladnie meer nie. Want die mense sê: As jy deur offers in God se oë dieselfde kan bereik en nog meer van jou sondes gereinig word as wanneer jy jou moeisaam aan die gebooie hou, dan is offer baie makliker en jou gewete ligter, omdat, volgens die woorde van die fariseërs, offers alles voor God versoen, maar die hou van die gebooie maar net vir sover iemand in staat was om streng en gewetensvol die een of ander gebod te hou.

[10] Wel nou, as jy die leer vergelyk met wat U, o Majesteit en Heer, my aangeraai en heel duidelik uitgelê het, dan bestaan daar tog `n oneindige groot verskil daartussen. By U is alles die volle en lewende waarheid, en by die fariseërs verdorwe, dooie leuens, waardeur werklik geen enkele siel die ewige lewe kan bereik nie. Heer, wat moet ons nou in die vervolg ten opsigte van die fariseërs doen?”

[11] Ek sê: “Luister na wat hulle as suiwer woord van Moses en die profete verkondig, en handel volgens daardie suiwer woord; maar hou jou nie aan hulle eie instellings nie, want in God se oë is dit `n gruwel!

[12] Daar staan immers ook geskryf: “Sien, die volk eer My met die lippe; maar hulle hart is ver van My! “Maar Ek sê vir julle: Die einde van hulle wat `n menslike leer verkondig, het naby gekom! Daarom het Ek, wat die Waarheid, die Weg en die Lewe het, na julle toe gekom en Ek sal die leuens en haar kwade werk wegvee. Weliswaar sal Ek hierdie wêreld binnekort verlaat, en in die tyd wat Ek vir die oog afwesig is, sal die leuens en haar valse en kwade dinge nog `n tyd lank voortwoeker onder die mense op aarde; maar dan sal Ek op die juiste tyd met alle mag en krag na julle mense toe terugkom en `n einde maak aan die heerskappy van die leuens en die bedrog! 

[13] Nou al bewerk Ek daarvoor die grond in die harte van die mense en bou Ek `n nuwe tempel en `n nuwe stad van God. Laat Ons die bou so vinnig moontlik voltooi, sodat die ou tempel en die stad van leuens, bedrog en alle kwaad vir altyd vernietig word!

[14] Dit sal julle nou nog wel nie in alle suiwerheid begryp nie; maar as julle van My Gees deurdring sal wees, sal dit vir julle ook baie duidelik wees, en dan sal julle jul herinner wat Ek julle vantevore gesê het.”

[15] Hierdie woorde van My was ook vir die leerlinge nie heeltemal duidelik nie, en daarom sê hulle onder mekaar (die leerlinge): “Hy het al verskillende kere oor `n tweede wederkoms op hierdie aarde gespreek, maar steeds op `n taamlike vae manier, netsoos profete dit doen! Laat ons Hom dit nou eers `n keer ronduit vra - miskien vertel Hy hierdie keer meer en duideliker daaroor!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205