|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 2
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die wonder in die huis van die herbergier
2 Daarop gaan Ons dadelik die herberg binne en die herbergier kom buitengewoon hoflik na Ons toe en vra Ons waarmee hy Ons van diens mag wees.
[2] Ek sê: “Ons het honger en dors, gee Ons daarom bietjie brood en water!”
[3] Die herbergier sê: “My menere, ek het ook wyn! Wil julle nie liewer wyn drink nie, want die is by my heel goed, en beter as die water wat in hierdie streek nouliks geskik is om mee te kook?”
[4] Ek sê: “Jou wyn is weliswaar nie sleg nie; maar Ons is in aardse opsig nie so welgesteld dat Ons Ons dors met jou duur wyn kan les nie. Bring Ons dus maar wat Ons gevra het, dan sal Ons daarmee ook tevrede wees! Maar gaan haal die water uit die bron in jou wynkelder, en nie uit die reënput agter in die binneplein nie; want die water word ook by jou betaal en daarom moet dit goed, vars en helder wees!”
[5] Die herbergier kyk My verras aan en sê: “Vriend, vir sover ek weet is Jy nou vir die eerste keer in my huis! Hoe weet Jy dan hoe dit ingedeel is? Wie kon dit vir Jou vertel het?”
[6] Ek sê: “Ag, verbaas jou maar nie daaroor nie, maar bring Ons wat Ons gevra het! Niks in die huis is vir My onbekend nie, ook al is Ek met hierdie vriende van My nou vir die eerste keer onder jou dak. Hoe dit moontlik is, dit weet Ek wel, netsoos Ek ook weet dat jou oudste en liefste dogter Helena al drie jaar lank aan `n kwaadaardige koors ly en dat jy al baie koste daarvoor gemaak het, terwyl tog geen enkele arts en nog minder een van jou vele huisgode, wat jy vir baie geld uit Athene laat haal het, haar gehelp het nie. Kyk, so weet Ek nog baie meer dinge van jou huis! Maar gaan nou en bring Ons wat Ons gevra het, sodat Ons Onsself kan versterk en daarna verder reis!”
[7] Daarop roep die grensloos verbaasde herbergier `n paar dienare en laat Ons brood, sout en verskeie kraffies vars water bring.
[8] Toe dit alles voor Ons op tafel staan en die dorstige leerlinge dadelik na die kraffies wil gryp, sê Ek aan hulle: “Wag nog totdat Ek die water geseën het, sodat dit niemand kwaad doen nie; want ook die bronwater in hierdie streek is koorsverwekkend, omdat dit onsuiwer natuurgeeste bevat!”
[9] Toe wag die leerlinge, en Ek adem oor die kraffies en sê aan die leerlinge: “Nou is die water geseën en gesuiwer; maar eet eers bietjie brood en drink dan met mate, sodat julle nie dronk word nie!”
[10] Die leerlinge doen dit; en toe hulle begin te drink, sê hulle met verbaasde vrolike gesigte: “Ja, sulke water moet jy inderdaad met mate drink, sodat jy nie dronk word nie!”
[11] Die herbergier merk dit en sê aan die twee dienare: “Hoe kan dit nou? Het julle hierdie merkwaardige gaste dalk wyn gebring, terwyl hulle tog uitdruklik net vir water gevra het?”
[12] Die dienare sê: “Heer, ons het gedoen wat ons beveel was! Maar hoe die water nou wyn geword het, dit weet ons nie; die Een wat daar oorheen geadem het, sal wel weet hoe die water wyn kon geword het. Vra Hom dit, want Hy skyn meer te kan doen as ons almal hier!”
[13] Daarop kom die herbergier na Ons tafel en Ons gee hom te drinke. Toe hy die kraffie byna heeltemal leeggedrink het, sê hy vol verbasing aan My: “Is U dalk `n groot en beroemde towenaar, of selfs vir my `n nog onbekende God, dat u so-iets kan doen? Ek vra U dit om vir my te sê!”
[14] Ek sê: “As jy jou gode uit jou huis mee wegdoen en nie meer in hulle glo nie, dan wil Ek jou wel sê wie Ek is en jou die enige egte, ware, maar nog aan jou volledig onbekende God, toon, wat ook jou dogter sou kon help as jy in Hom sou glo en Hom alleen die eer sou gee.”
[15] Toe die herbergier dit van My hoor, sê hy: “U spreek merkwaardige woorde! Al my gode vernietig sou geen kuns wees nie, maar as ons priesters of die Romeine dit hoor, sal dit sleg met my gaan; want wie hom vergryp aan `n beeld van selfs maar `n halfgod, word by ons swaar gestraf. Ek sou eers met my hele huis Judeër moet word en dit ten oorstaan van `n regbank met geskrif, seël en besnydenis aantoon, waarna my dan die Romeinse burgerreg afgeneem sou word en ek dit dan as Judeër weer vir baie geld sou moet koop, as ek verder `n Romeinse burger sou wil wees! Wat U van my vra, wonderbaarlike Vriend, is iets wat in my huidige posisie nouliks uitvoerbaar is. Maar ek ken `n oplossing: Doen U die gode weg uit my huis, in die teenwoordigheid van die getuies wat my in my huis ten dienste staan, dan sal ek in stilte met my hele huis alleen die eer gee aan die God wat U my getoon het!”
[16] Ek sê: “Goed, maak dan nou `n rondte in jou huis en oortuig jou daarvan, of een van jou vele kamers nog deur `n afgod, groot of klein, versier word!”
[17] Toe die herbergier dit wil gaan kontroleer, kom alle huisgenote hom al vertwyfelend huilend tegemoet en kerm: “Daar moes wel `n groot ongeluk oor die huis gekom het, want alle gode het dit skielik verlaat!”
[18] Toe sê die herbergier met `n onverskrokke gesig: “Maak julle maar nie bedruk daaroor nie! Slegs die dooie, deur mensehande gemaakte gode, wat vir niemand enige nut het en niemand in nood kon help nie, is sekerlik deur `n ware, lewende en bo alles magtige God vernietig; en in plek daarvan het hoogswaarskynlik die een, enig ware, lewende en bo alles magtige God in ons huis gekom, en deur hierdie dienaar van Hom, wat self al meer as magtig is, sal ons Hom nader leer ken en selfs getoon word! En so het deur die verwyder van die dooie en geheel en al magtelose gode oor ons huis geen onheil nie, maar slegs maar `n baie groot heil gekom.
[19] En omdat julle glo dat dit wonderbaarlik genoeg en inderdaad so is, moet julle eers na hierdie waterkraffies van ons kyk! Op versoek van hierdie wonderbaarlik magtige dienaar van die een, ware God is dit deur my twee dienare hier vol water op hierdie tafel gesit, wat hulle teenoor elkeen kan getuig. Aangesien hulle flink dors het wil hierdie gaste die water dadelik drink, maar die magtige godsdienaar sê aan hulle dat hulle die water eers moes drink nadat Hy dit eers geseën het. Daarop adem Hy oor die kraffies en die water, en onmiddellik word dit in die beste wyn verander. Daar staan nog `n volle kraffie; neem en proe die inhoud, en oordeel of die water dan wel wyn van die allerbeste soort is!”
[20] Daarop pak die vrou van die herbergier die kraffie, proe die inhoud daarvan en sê uiters verbaas: “Luister, dit is ongehoord! So `n wonder kan slegs `n God doen! Eens in Athene het ek ook wel towenaars gesien wat wonders gedoen het en ook water nou eers in bloed, dan weer in melk en dan weer in wyn en in nog allerlei ander dinge verander; maar van `n Apollo-priester, wat my agterna geloop het omdat ek `n baie mooi en ryk Griekse vrou was, het ek al gou tot in besonderhede gehoor hoe dergelike wonderbaarlik uitsiende veranderings op `n heel natuurlike manier tot stand gebring kan word. Maar dit neem ook elke geloof in towenaars en hulle valse wonders by my weg.
[21] Maar hier is geen enkele geheime en verborge valsheid te ontdek nie, en daarom is dit `n volkome egte wonderwerk van `n lewende God; dit glo ek nou heeltemal, en tot aan my dood sal ek aan daardie geloof vashou. En proe nou almal van hierdie wyn en gee julle oordeel!”
[22] Daarop proe almal van die wyn en stel vas dat dit inderdaad was netsoos die herbergier en sy vrou dit beskryf het.
|
|
|
|
|