Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 104

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216.

 

Die reisigers voor die herberg

104 Ek sê: “Vriend, die derde uur van die nag is nou verby, en siel en liggaam is nou versadig; maar buite op die weg kampeer twee arm reisigers, omdat hulle geen geld het om in hierdie herberg `n onderdak te kan soek nie. Laat hulle binnebring en gee hulle brood en wyn en daarna `n slaapplek, nadat Ek terwille van julle enkele woorde met hulle gewissel het!”

[2] Toe die herbergier dit van My hoor, gaan hy onmiddellik met die opperkneg na buite; maar by die twee manne tref hy ook `n vrou en `n kind aan, en hy stuur die kneg na My toe met die vraag of hy ook die vrou met die kind moes opneem.

[3] Ek sê: “`n Man en `n vrou is één liggaam! Maar die tweede man is die broer van die vrou; daarom moet die herbergier hulle almal opneem!”

[4] Toe gaan die kneg weg en bring dit oor aan die herbergier, en hy bring hulle almal na die kamer en gee hulle brood en wyn.

[5] Toe die vier persone hulle versterk het, sê Ek aan die man, wat die vrou en die kind, `n meisie van twaalf jaar, het: “Luister, vriend, jy is wat jou afstamming betref `n Judeër, maar julle het ten tye van die Babiloniese gevangenskap - natuurlik in jou voorvaders - met nog tweehonderd manne, vroue en kinders heeltemal na die verre Indië gevlug.

[6] Meer as vyftig dae lank was jou voorvaders op reis, en hulle vind eindelik in die wyd uitgestrekte bergreekse `n eensame dal wat ryk was aan sagte weiding, allerlei vrugtebome wat hulle nie ken nie en kuddes bokke en gaselle. Ook ontbreek dit in die genoemde dal nie aan fonteine en stroompies, en ook nie aan edele visse nie.

[7] Julle voorvaders, wat hulle op die verre reis met vrugte en wortels gevoed het, ondersoek die dal, wat vele ure se reis lank was, in alle rigtings en tref alles aan wat nodig was om te lewe, slegs geen mense of een of ander soort woonhutte nie, waaruit hulle kon afgelei het dat die dal al voorheen deur mense bewoon was nie.

[8] Nadat hulle die dal ondersoek het, sê jou voorvader, wat een van die oudstes van die tweehonderd vlugtelinge was: “Aan JaHWeH God alle lof en eer! Ook dié dal het Hy gebou en het die velde daarvan beplant met allerlei gras en kruie en wortels en bome wat baie vrugte dra, waarvan ons al enkele daarvan geëet en wat ons nie geskaad het nie. En ook is die mooi dal ryk aan allerlei goedaardige diere, wat nie vir ons bang is nie, omdat hulle sekerlik nog nooit deur roofdiere en nog minder deur op buit beluste jagters agtervolg is nie. Ons is seker die eerste mense wat in dié dal gekom het. 

[9] Hier sal ons wonings vir onsself bou en sonder vervolging in alle vrede saamlewe, gesamentlik vir die noodsaaklike lewensonderhoud sorg en altyd JaHWeH God dank vir die barmhartigheid en Hom alleen die eer gee, omdat Hy ons op so `n wonderbaarlike wyse behoue na dié mooi dal gelei het!

[10] Toe Hy vroeër ons vaders uit Egipte deur die woestyn na Kanaän gelei het, het vele wat Egipte verlaat het, nie in die Beloofde Land ingekom nie, en diegene wat daarbinne gekom het, moes eers baie stryd en noodlottige gebeurtenisse deurstaan; maar ons het met Sy hulp gelukkig ontkom aan die goddelose tirannie van Nebukadnesar en het almal behoue dié verre dal bereik, wat aan alle kante deur sulke hoë berge omring is, dat mens nie daaroorheen kan nie. Onsself kom slegs deur `n baie smal en nouliks begaanbare kloof hierin, wat ons maklik sodanig kan versper, dat ook geen mens meer daardeur by ons kan kom nie. Dan hoef ons geen trotse en liefdelose konings van die aarde meer te vrees nie.  

[11] Onsself wil en sal die gebooie van God wat aan ons welbekende is, altyd streng onder mekaar in ag neem, sonder om ooit nalatig te wees nie, en ons elke dag van ons lewe baie dankbaar herinner, dat God ons dié dal laat vind het. Ons sal ook die dae tel en die sewende dag as die Sabbat vasstel en vir God op die dag alle eer gee. Die Ark van die Verbond, waarvan ons nie weet waar sy haarself bevind nie, sal ons in die dal wel nooit onder oë kry nie; maar in die plek daarvan wil ons in ons hart `n nuwe ark vir God bou deur Sy heilige gebooie op te volg, en deur ons liefde vir Hom sal ons Hom in ons hart `n offer bring, wat Hom meer welgevallig sal wees as die brandoffers van die priesters, wat die profete stenig en hulle vetmes van die tiendes en ryk offers!”

[12] Toe jou voorvader die goeie toespraak tot die ander beëindig het, val almal op hulle aangesig ter aarde en loof God byna `n volle uur lank en bid na Hom vir Sy verdere hulp, liefde en barmhartigheid.

[13] God het egter `n welbehae in die vlugtelinge gehad en gee jou voorvader wysheid, en toe vind hy in daardie dal baie dinge wat nodig was om beter in hulle lewensonderhoud te kan voorsien. Enkele noodsaaklike werktuie en gereedskap het hulle al saamgeneem op die rûe van hulle lasdiere, waarmee hulle in die begin die nodige hutte en voorraadkamers kon bou; die res het God se Gees hulle getoon en met enige moeite van hulle, self ook verskaf.

[14] Binne `n kort tydsbestek van enkele jare was hulle reeds baie goed van alles voorsien, het hulle groot kuddes van die edelste bergbokke met fyn wol, en gaselle en lamas en `n groot hoeveelheid seldsame en mak voëls en takbokke en herte, wat hulle almal mak wis te maak, om nuttig gebruik te maak daarvan. 

[15] En nou het julle uitgegroei tot `n volk en in aardse opsig welvarend geword; maar julle het te veel op aardse wins gaan let en daardeur het julle al baie van julle innerlike wysheid verloor!

[16] Deur dit wat Ek julle nou volgens volle waarheid vertel het, sal julle wel gesien het, dat Ek al julle lewensomstandighede baie goed ken, en Ek sou julle nog baie ander dinge oor julle land en lewensomstandighede kan sê; maar nou is dit julle beurt om te vertel om welke rede julle uit julle verre môreland hierheen gekom het. Maar spreek die suiwer waarheid sonder terughoudendheid; want uit My woorde sal julle wel opgemaak het dat Ek geen genoeë neem met `n leuen of met bedekte woorde nie!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205