|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 9 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 118
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216. |
|
|
Die gesprek tussen die tempeldienare en die Heer
118 Die skrifgeleerde sê: “Vriend, hoe weet Jy dit alles?”
[2] Ek sê: “Julle het so pas gesê dat julle baie ervare en wêreldwyse mense is. Waar staan dit dan wel geskryf dat een van Ons nie ook baie ervare en wêreldwys kan wees nie? Hoe gereeld het julle nie al die hele inrigting van die tempel vir geld aan vreemdelinge getoon nie - hoe het dit verswyg gebly?
[3] Vroeër mag slegs in geval van uiterste nood die hoëpriester die Allerheiligste betree, en dit gewoonlik slegs twee - tot hoogstens vier keer per jaar - en nou het die Allerheiligste teen betaling `n kermistent vir vreemdelinge geword en word daar in die tempel allerlei handel gedryf en groot bedrog gepleeg, wat elkeen nou goed weet. Hoe kan julle julleself dan verwonder as een van Ons ook daarvan op die hoogte is, en dat die Gesalfde van God ook volkome duidelik op die hoogte is van al die godslasterlike dinge en bedrieërye?
[4] Is die tempel, waarteen die ware mond van God nou ywer, nog wel wat hy ten tye van Salomo was? O, geensins nie! Die ou, heilige gebedshuis het `n rowershol en moordkuil geword!
[5] Kyk, so staan die sake nou in die tempel, netsoos elkeen weet, en vir die Gesalfde van God is dit gladnie meer nodig om met die volk te spreek oor die goddeloosheid daarvan nie, om sodoende die tempel verdag te maak en in aansien te laat daal nie, maar al die beter volk weet al lankal daarvan en bekla hulle bitter daaroor by die Gesalfde van God! Dink julle dalk dat Hy, as dit só met die tempel gestel is, dit sal loof en die klaende en huilende volk sal verstoot? Nee, waaragtig nie, dit sal Hy, wat die Regverdigste onder die regverdiges is, ewig nooit doen nie!
[6] As julle die Nasarener wat julle so haat, sou ontmoet en Hy sou presies so met julle spreek soos wat Ek nou gedoen het - wat sou julle Hom dan geantwoord het?”
[7] Die skrifgeleerde sê: “Ja, vriend, as mens by die waarheid sou moet bly, sou daar weinig ten gunste van die tempel te antwoord wees; die enigste wat mens wel in oorweging sou moet neem is, dat dit nie ons en baie ander van ons is nie, wat die aloue, goeie en ware inrigtings van die tempel so verdraai en misvorm het soos wat hy nou is nie, maar slegs die vernaamstes, owerstes en magtigstes in die tempel, al `n lang tyd gelede. Wat kan ons ondergeskiktes nou anders doen as om onsself te voeg na wat die tempel, waarvan ons lewe, ons voorskryf? Ons is tot jong wolwe gemaak en moet wel met die ou wolwe saamhuil, as ons nie deur hulle verskeur en opgevreet wil word nie!
[8] Om die suiwer waarheid te verkondig en ook daarvolgens te handel, sou die beste, mooiste en pragtigste wees onder die mense op aarde. Maar wat kan mens nou doen, as mens homself terwille van die waarheid alle denkbare vervolgings, straf en selfs die dood aan die kruis op die hals kan haal? As dit met die omstandighede so erg gestel is, moet mens self `n vervolger van die waarheid word om te kan lewe, omdat mens nou eenmaal, – sonder om dit ooit gewild te hê, - in hierdie wêreld moet lewe.
[9] Maar God is almagtig en ook uiters wys; vanaf die oerbegin het Hy alles goed en wys ingerig. Waarom het Hy dan na verloop van tyd toegelaat dat die mense, wat Sy mees voortreflike skepsels is, nou so baie diep uit hulle oorspronklike reinheid en waardigheid weggesink het?
[10] As die Gesalfde van God so magtig is in Woord, wil en daad, en alle elemente Hom gehoorsaam, dan kan Hy tog ook met alle mag en krag wat Hy besit teen die huidige skendery van die tempel optree en dit volkome vernietig!”
[11] Ek sê: “Jy is `n skrifgeleerde, en jou oordeel oor goddelike dinge en inrigtings is nog baie duisterder as `n blinde oor die kleure, wat deur die lig voor die oog verskyn!
[12] Die mens is natuurlik nie deur sy eie wil nie, maar deur die van die almagtige God in hierdie wêreld geplaas; maar God, as die ewige en suiwerste Liefde Self, is uiters goed en wys en weet waarom Hy die mens geskape en tot beproewing en versterking van die vrye wil, wat aan hom gegee is, slegs vir `n kort tyd in hierdie wêreld geplaas het.
[13] Omdat die mens egter bewus word waarom hy geskape en in hierdie wêreld geplaas is, het God hom dit in alle tye alles getrou geopenbaar en hom ook sulke lewenswette gegee, dat hy sonder moeite die doel wat vir hom gestel is, moet bereik, wanneer hy hom by die wette hou, wat baie goed moontlik is.
[14] Maar wanneer het God die mens ooit gebied om van sy vrye wil die grootste moontlike misbruik te maak en homself daardeur te beskadig?!
[15] As God die mees volmaakte, beste bedoelings met die mens het, naamlik om hom `n ewig vry en derhalwe aan Hom gelyk salige lewensgenot te skenk, waarom verset die magtelose mens hom dan - terwyl hy God, die ewige Heer, die skep nie kan verbied nie - aan die edele bedoelings van God op `n manier, asof hy meester oor die baie wyse en goeie wil van JaHWeH sou wees? As jy in jouself voel dat jy in hierdie wêreld moet lewe - waarom voel jy dan nie ook met `n dankbare hart waarom God jou in hierdie wêreld geplaas het nie, aangesien Hy tog Sy wil getrou aan jou geopenbaar het?!
[16] As die mens nou voel watter kwaad hy homself deur sy hoogmoedige weerspannigheid teen die geopenbaarde en goed bekende wil van God aangedoen het, en as God nou Self volgens Sy voorspelling in die Menseseun volgens volle waarheid na die ontaarde mensdom toe gekom het om hulle met alle liefde en geduld na die ou weg van die lewe te lei en te bring - wat Hy deur Sy leer en dade bewys - waarom verafsku julle Hom dan en wil julle jul nie deur Hom laat help nie?
[17] Dit is verseker nie die skuld van God nie, maar slegs van julle self, deur julle onversadigbare hebsug en julle werklik sataniese sug om te heers - selfs oor God! Ja, as God netso hard, liefdeloos en vol ongeduld sou gewees het soos julle, sou Hy nie net aan die tempel en sy slegte dienare nie, maar ook aan hierdie hele aarde `n absolute einde gemaak het; maar Hy verdra julle blindheid en julle daaruit voortvloeiende slegtheid, en vermaan julle almal, om te draai na die ligtende weg van die lewe.
[18] Maar julle wil dit nie en volhard nie net in julle ou sondes van allerlei soorte nie, maar vermeerder dit selfs nog van dag tot dag en vervolg God Self, wat julle nou wil help, goed sigbaar en herkenbaar vir elkeen. Is God dalk ook die skuld daarvan, wanneer Sy ewige liefde en waarheid vir julle tot walging geword het, wat deur julle blindheid en slegtheid gestraf sou moet word?!
[19] Ja, ja, julle sal die ewige waarheid deur julle wette van die leuen nog aan die kruis nael; maar dan sal die maat van julle slegtheid en verstoktheid ook vol raak, en dan sal die oordeel oor julle kom en julle die beloning gee wat julle vanweë julle slegtheid self van God verlang en wat Hy julle as gevolg van Sy liefde, geduld en erbarming nog altyd weerhou het, omdat Hy geen enkele siel, ook die van die slegte hoëpriester, terwille van die verderf in hierdie wêreld geplaas het nie.
[20] Kyk, so dink ons almal hier! Waarom dink julle ook nie so nie, volledig in die ware lewensorde van God?”
[21] Die skrifgeleerde wis nie meer wat hy teen hierdie woorde van My kon inbring nie. Na `n rukkie sê hy: “Ja, ja, Vriend, jy is seker `n Galileër van geboorte en lyk heeltemal van die beroemde Nasarener deurdring te wees? Jy het natuurlik heeltemal gelyk; maar wat kan ons, wat afhanklik is van allerlei wêreldse wette, dan doen?
[22] As ons die tempel verlaat, kan ons ons noodsaaklike lewensonderhoud, netsoos die voëls, oral gaan soek; en as ons in die tempel bly, moet ons die instellings en bepalings daarvan vir ons laat welgeval en moet ons minstens vir die skyn doen wat ons beveel word. Die profete het beslis altyd die wil van God wat aan hulle welbekend was, gedoen, maar hulle lewe in hierdie wêreld was werklik nie benydenswaardig nie; en bowendien het hulle lewe op hierdie aarde meestal onder allerlei harde vervolgings geëindig.
[23] As `n mens selfs onder die mees gelukkige lewensomstandighede vele male slegter daaraan toe is as `n voël in die lug - hoe sien dit dan wel nie daaruit met die aardse lewensgeluk van die mense nie, wat deur die mense van die wêreld verag en vervolg word?”
[24] Ek sê: “Met die lewensgeluk van die deur God besielde mense sien dit altyd baie goed daaruit; want hulle weet in hulleself waarom hulle in hierdie wêreld geplaas is, en wanneer hulle ly, weet hulle baie duidelik waarom. Bowendien het hulle geen vrees vir die liggaamlike dood nie, omdat hulle reeds in alle helderheid die ewige lewe van die siel in hulle het, voel en sien en in die lewe ook die krag en die mag van die Gees van God in hulle, waardeur hulle die ewige lewe en die goddelike wysheid besit.
[25] Maar wat het `n mens daarenteen in hom, wat in alle wêreldse genietinge swelg, waarvan word hy ten slotte bewus? Van die dood, wat geen lewe aan hom wil vertoon nie - en ten slotte is vertwyfeling sy lot. Wat beteken die aardse lyding van `n deur God besielde mens uiteindelik vergeleke met sy gelukkige skeiding van hierdie wêreld, en wat stel daardie baie kortdurende goeie lewetjie van `n wêreldse mens voor, vergeleke met sy ongelukkige skeiding van hierdie wêreld? Oordeel nou self, wie van die twee mense in die wêreld die gelukkigste is!
[26] Wat verloor `n mens wat die wysheid vanuit God het, eintlik, as hy deur blinde wêreldse dwase verag en op die een of ander manier vervolg en ten slotte selfs gedood word? Hy verloor nie net niks nie, maar win maar net daarby, omdat hy deur sy geduld maar net steeds inniger verbind raak met die Gees van God en hom sodoende in homself ook in alle waarheid meer bewus word van die salige, ewige lewe!
[27] Maar wat win die wêreldse mense wat die wyse, wat sy wysheid vanuit God het, verag en vervolg? Die ewige dood en die oordeel daarvan! As die tempel julle niks beters kan bied as die bevrediging van julle liggaam nie, as julle die slegte doeleindes daarvan dien, dan is julle werklik baie betreurenswaardige mense, en `n blinde bedelaar op straat is beter daaraan toe as julle!”
[28] Toe die twee dit van My gehoor het, was hulle nog meer uit die veld geslaan, en geeneen van die twee wis nou meer wat hy My ten antwoord sou kan gee nie.
[29] Die skrifgeleerde prys My verstand, gee My in alles gelyk en sê ten slotte aan My: “Vriend, ek sal vannag met die ander `n vergadering hou, en die gevolg daarvan sal sekerlik wees dat ons geheel en al sal afsien van die vervolging van die Nasarener; maar tog sal ons probeer om persoonlik met Hom kennis te maak, en wat Hy ons sal aanraai, sal ons doen! Want ons het nou van julle, Sy werklik goddelike wysheid geproe en het nou al baie ander mense geword; hoe sal Hyself dan wel nie indruk op ons maak nie! Môre sal ons verder daaroor praat!”
[30] Hiermee neem die twee afskeid, gaan weer na hulle tafel en begeef hulle weldra ter ruste. Ons bly egter nog ruim `n uur wakker en spreek met mekaar oor hierdie vervolgers van My, en Kisjona en Maria was baie bly dat hierdie tempeldienare My nie herken het nie en dat hulle van gedagtes verander het.
[31] Toe die fariseërs in hulle slaapvertrek kom, begin hulle baie ernstig te beplan wat hulle in die toekoms moes doen. En hulle word dit almal daaroor eens dat hulle My êrens moes ontmoet en hulle deur My moes laat adviseer oor welke rigting hulle lewe in die toekoms moes inslaan.
[32] Ons begeef Ons ook ter ruste, maar nie in `n eie slaapvertrek nie - met uitsondering van Maria, vir wie Kisjona spesiaal gesorg het, maar netsoos wel gereelder, bly Ons aan Ons tafel, wat natuurlik eers afgedek word.
|
|
|
|
|