Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 93

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Adam se Nuuskierigheid

93 Nadat Asmahael die drietal tereggewys het, spoor Hy Set aan om die kinders van die aand nader te roep en wel in die besonder die oudstes, sodat hulle volgens die wil van Adam ook van Hom `n woord oor die vrylating sou verneem.

[2] Nouliks het Set dit gehoor of hy was reeds soos `n werwelwind te middel van die kinders en deel hulle met groot lewendigheid Asmahael se baie seënbringende voorneme mee en beduie hulle dat hulle baie goed moes oplet, omdat hulle nog nooit dergelike woorde gehoor het nie, soos wat Hy wat daar op die dier sit, spoedig sal spreek

[3] "Want Hy Is --- luister - Hy Is -- kortliks gesê, kinders, - Hy oortref ons almal by verreweg in liefde en wysheid, - en elke woord van Hom is belangriker as die hele --- dit wil sê - as alle woorde van ons!"

[4] En weldra nader die oudstes Asmahael en was vol aandag en het vurig verlang na Asmahael se woorde.

[5] Maar toe hulle met Adam op honderd treë afstand agter die rug van die vier hoofstamkinders staan, merk hy dat daar iets ongewoons gaan gebeur, omdat die kinders van die aand hulleself om die viertal begin verdring, en toe sê Adam:

[6] "Luister, hoe sou dit wees as ons ook net daarheen gaan om makliker te kan sien en hoor waaroor Asmahael sal spreek; want ook al het ons sy laaste rede nie heeltemal tot op die kern begryp nie, tog was dit vol wysheid!

[7] Dit is waaragtig baie verwonderlik hoe ver die jongmens uit die diepte, deur die aanhoor van ons liefdevolle, wyse woorde in die kort tydjie van nouliks `n halwe dag dit gebring het; wie weet hoe ver hy dit sal bring wanneer hy `n langer tyd by Henog en te midde van ons sal wees en ook getuie sal wees van en deelneem aan die heilige fees van JaHWeH se Sabbat!

[8] En daarom sal ons onsself ook daarheen begewe; laat ons daarom gaan! Amen."

[9] Toe die kinders van die aand sien dat die aartsvader met Eva en die res nader kom, maak hulle dadelik plek, sodat hy maklik by Asmahael en by Set, Kenan en Henog kon kom.

[10] Toe Adam homself nou heeltemal te midde van syne bevind, vra hy dadelik wat daar nou gaan gebeur en of Asmahael ook al iets gesê het.

[11] Set begroet hom en sê: "Luister, liewe vader! Asmahael het nog nie tot die kinders gespreek nie, maar Hy het vooraf net met ons gepraat; maar nou sal Hy, ooreenkomstig jou wil, ook `n woord tot die kinders rig. Want omdat Hy met ons moes saamgaan, moet hy volgens jou wil immers dit doen wat ons almal reeds gedoen het, - nie waar nie, vader?"

[12] Adam, vervul van vrome nuuskierigheid, kon nie nalaat om aan Set te vra wat Asmahael vooraf dan wel vir hulle gesê het.

[13] Die vraag bring die arme Set in `n volkome sprakelose verleentheid: "Want", dink hy, "sê ek dit, dan word ek `n verraaier; sê ek iets anders, dan word ek `n leuenaar; en sê ek niks, dan word ek `n ongehoorsame seun en staan ek daar om te lyk soos iemand wat terg of sy vraende vader geen antwoord waardig ag nie!

[14] Ek sal egter Adam meedeel dat ek hom `n ander keer sal antwoord omdat tyd baie kosbaar is en om Asmahael nou nie op te hou by Sy nou volgende, seker onoortrefbare woorde tot die kinders nie.

[15] In alle sagmoedigheid sê Set dit ook vir Adam; maar hy wil geen genoegdoening daarmee neem nie en sê vir Set:

[16] "Luister, my beste Abel-Set, ek bemerk dat jy iets vir my verborge hou! In jou hart staan iets anders! Waarom bloos jy op my goed bedoelde vraag en word jy verleë en tien tellings lank sprakeloos?

[17] Ek, Adam, jou vader, sê vir jou: Asmahael sal nie sy mond oopmaak alvorens jy my `n getroue antwoord gegee het nie!

[18] Luister, jy is aan God en aan my trou verskuldig; spreek daarom sonder om te draal en sonder verontskuldiging! Amen."

[19] Set was buite homself van angs en kon geen woord uiter nie.

[20] Onmiddellik stap Henog op hulle af en sê vir Adam: "Vader, liewe vader, het jy ons nie self geleer dat die regte weg die kortste is nie? Is Asmahael nie in ons midde nie? Waarom moet Set in Sy plek antwoord, terwyl hy tog moontlik vooraf iets sou vergeet het van dit wat Asmahael vir ons gesê het, - as die hei--- spreker, dit wil sê, as Asmahael Self. Wend jou daarom tot die Maker van al - - dit wil sê tot Asmahael Self en wees daarvan verseker dat ons elke woord van Hom as volkome waar sal kan bevestig! Amen "

[21 Maar Adam vra ook aan Henog: Ook jy geval my nie - want jy spreek nie so vry as andersins nie! Vertel my wat Set die spraak belet! Vertel my wat Asmahael vir julle gesê het; want jou geheue is klaarblyklik beter as die van Set. Spreek jy daarom in sy plek en ek sal daarmee tevrede wees! Amen."

[22] Henog antwoord: "Vader, luister en begryp my goed! Elke reg op hierdie aarde het sy grense, net soos die aarde self, en dus het die reg van die vader oor sy kinders ook grense.

[23] As jy van Set en my `n antwoord verlang, het jy dan wel diep daaroor nagedink of die gebod wat Set en my tong vir die oomblik bind, nie hoër staan as die ietwat ongeleë eis van jou nie?

[24] En so is dit ook met hierdie saak gestel! Ons het van God `n gebod gekry om daaroor te swyg tot aan die tyd wat vir Hom welgevallig sal wees; daarom moet jy ons ook nie verder dwing om God se gebod voor jou en voor God te oortree nie!

[25] Laat voor alles jou goed bedoelde nuuskierigheid in soverre bevredig wees dat jy, o vader, mag weet en ook moet weet, dat JaHWeH nader aan ons is as wat jy ook maar kan vermoed! Dwing ons daarom nie om voor God se aangesig te sondig nie, maar luister self - dit wil sê: As jy wil weet wat Asmahael vir ons gesê het, wend jou dan, soos reeds gesê, slegs tot Hom; want Hy het - dit wil sê, Hy het van God, vir sover ek weet, geen gebod gekry om voor jou te swyg nie.

[26] Hy is heeltemal vry, - maar met ons is dit anders; verskoon ons gedurende die tyd van jou vrae! Amen."

[27] Met hierdie woorde kry Adam `n baie vreemde gevoel, hy het dieselfde gevoel gehad as tydens die tyd van sy naaktheid, toe hy homself na sy sonde in die grot verberg het en My stem gehoor het wat vra: "Adam! Waar is jy?"

[28] Hy was nie op `n soortgelyke verandering voorbereid nie; daarom word hy ook baie treurig en weet self geen raad nie en weet nie wat om te doen nie. Sprakeloos laat hy homself op die grond sak en ween en treur in sy hart:

[29] "My groot God en Heer, Skepper van alle dinge en heilige Vader van alle geeste en mense! Het U my dan geskep om my te kwel vanaf die begin tot op die uur?

[30] O, hoeseer sou ek my dan in U liefde moet vergis! Waarom moes ek selfbewus lewend word om vir U as `n ewige afkoeling van U groot moedswilligheid te word? Was dooie klippe dan nie goed genoeg daarvoor nie?

[31] U het my in die lewe geroep met al my sintuie en U adem my allerlei begeertes in en U gee my daarteen weer `n gebod, sodat dit my ten gronde sou rig en U my dan sou kan verdoem!

[32] O Heer, as U êrens liefde en erbarming het, doen dan nou met my, wat U volgens my sonde wil doen en vernietig my vir ewig! Maak my so asof ek nooit bestaan het nie; want dit is oneindig baie beter om ewig nie te bestaan as om te bestaan as `n vry, van homself bewuste wese onder die ewige druk van U onoorwinlike mag en om U as speelgoed te dien, ja tot `n smadelike speelbal van U ewige onmeetlike moedswilligheid, waarin U maar net genoegdoening skep.

[33] `n God is U en `n almagtige Heerser; maar `n Vader is U nooit!

[34] Sê my, as U wil en kan, of ek as vader ten opsigte van my kinders ooit so met opset gehandel het! Het ek hulle ooit geleer om voor U die stomme te speel?! Waarom bind U hulle tonge en sluit hulle harte vir my?

[35 Wie of wat is ek dan, dat U my kwel? Vernietig my en bedryf U lus met klippe en ander dinge!

[36] Is U `n heilige God - hoe kan U my dan onheilige begeertes teenoor U gewydheid inblaas?!

[37] Is ek U werk, vernietig my dan; en is ek dit nie, laat my dan soos ek is! Amen. Amen. Amen."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205