|
Die Huishouding van God - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 162
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187. |
|
|
Die Hoë Abedam in die kring van Sy salige kinders. Die einde van die noodweer
162 Na hierdie hartlike woorde van dank wend die Hoë Abedam Homself liefdevol tot Set en sê aan hom: "Set, My seun, kom hierheen, na hierdie bors, wat jou al liefgehad het voor daar nog êrens `n son die baan van haar aarde verlig het!
[2] Wees lief vir My, wees met jou hele hart lief vir jou Vader, wat uit ewige liefde vir jou die wye hemel oor aarde, son, maan en sterre uitspan om jou te kan toon watter buitengewoon goeie, heilige Vader Hy in ewigheid vir jou was en vir ewig wil en sal bly!
[3] Nie waar nie, My geliefde Set, aan die hart van die Ewige, Heilige Vader, is die rus sag en aangenaam?! -
[4] Kom ook jy hier, Adam, en julle drie, en voel en beproef hoe soet die liefde van die heilige Vader smaak en hoe goed Sy is vir die vermoeide harte van die kinders!"
[5] Hulle val almal voor Hom neer en roep in die hoogste geestesvervoering: "O U, bo alles, goeie heilige Vader", - en geeneen van hulle was in staat om meer te sê nie.
[6] Maar Abedam rig hulle op en sê nog verder aan hulle: "My geliefde kinders! Julle het My dikwels gesoek, het My lank en moeisaam gesoek, ja, verby alle sterre het julle My gesoek, terwyl Ek tog aanhoudend in julle midde gewandel het; maar julle kon My nie vind en herken nie, omdat julle oë, en daardeur ook julle harte, steeds in die verte gerig was om Diegene te soek en lief te hê wat tog steeds so na aan julle almal was, ja nader as elkeen aan homself.
[7] Maar nou het julle My gevind en is daaroor meer as gelukkig; laat ons daarom dan ook nou na buite gaan en kyk wie daar almal verlangend na ons hulp uitsien!
[8] Aan jou, Set, gee Ek nou die mag om die nog hewig woedende storm tot bedaring te bring, - en dan sal spoedig blyk wie almal nog die nabye Vader sal herken! Amen."
[9] En so gaan hulle uit die woning na buite, waar die noodweer, hoewel skynbaar ietwat afnemend, nog met groot krag woed. Toe hulle langs Eva kom sê Abedam, die Hoë, aan die vyftal wat Eva omring en troos:
[10] "Bly solank daar waar julle nou is, totdat ons terugkom! Wie die naasteliefde uitoefen, sal wederom naasteliefde ondervind; maar wie die swak moeder versorg, sal op aarde met liefde beloon word en wie liefde het as loon, het `n waardevolle pand in sy hand waarmee hy self maklik die mees kosbaarste sal kan verskaf.
[11] Ek sê vir julle: As die mens sou weet, hoe na hy dikwels aan die hoogste geluk is, dan sou hy alles verlaat en dit navolg! Maar dit is ook goed dat hy dit nie weet nie; want sou hy dit weet, dan sou hy traag word en eie grond en bodem onbewerk laat.
[12] Daarom bly julle ook hier en bewerk julle grond; want dit hang nie van `n lang tydsduur af nie, maar menigmaal kom dit ook op `n minuut neer. Wanneer die saadjie op daardie oomblik in die aardryk val, kom dit weldra op en die snel uitgebotte kiem sal dan spoedig sy nuwe takkies in die lig van die dag uitsprei!
[13] Ek is `n baie ervare Saaier en ken die regte tyd om saad in die aardryk te strooi. Laat daarom die saad vroegtydig opkom en kweek dit met die warmte/liefde van julle harte! Waarlik, daar sal aan die snel volgroeide takke geen gewone, alledaagse vrug te voorskyn kom nie!
[14] Bly daarom hier en slaan ag op hierdie woorde!"
[15] Na hierdie woorde verlaat hulle die woning dadelik. Die vyftal begin egter, nadat die ses die woning verlaat het, mekaar te ondervra: "Wie is hierdie Vreemdeling nou eintlik? Waar kom Hy vandaan?
[16] Is dit nie diegene wat homself aan die begin van die aand saam met die teruggekeerde Abedam by ons aangesluit het nie?!
[17] Hy lyk andersins tog soos `n gewone mens! Waar het hy dan sulke Wysheid opgedoen; ons het hom tog vroeër nooit in ons midde gesien nie?
[18] Sy woorde behoort seker tot die merkwaardigste wat ons ooit gehoor het! Hy sê van homself dat hy `n baie ervare saaier is. Hy sou nou `n saadjie in ons gestrooi het; wat spoedig sou moet uitkom en soos wat ons dit begryp, reeds die volgende dag, wat dus more op die Sabbat is, takkies, blare en baie ongewone, totaal ryp vrugte sal dra! Watter vrugte kan dit wees?
[19] Laat dit begryp word deur, wie dit kan en wil; maar ons, wat tog almal Emmanuel Abba gesien en gehoor het en getuies was van al Sy wonderdade en deur Hom gewek en geseën is, kan hierdie woorde nie begryp nie!
[20] Dit is weliswaar vreemd dat ons, as geseëndes, nie daartoe in staan is nie, - maar dit is nou eenmaal so!
[21] Eindelik val dit Enos op dat dit lig was in die woning en hy gee dit ook dadelik aan die origes te kenne.
[22] Kenan sê toe aan Enos en ook aan die ander: "Luister, dit is waarlik merkwaardig, - nou eers val dit my ook op! Daar is nêrens `n ligbron te sien nie en tog heers hier binne die volle daglig!
[23] Hoe is dit moontlik? Wie van ons begryp dit?"
[24] Maar Eva rig haarself op en noem die volgende aan die vyftal: "Kinders, waarom vra julle aan mekaar dinge wat geeneen van julle begryp nie!
[25] Luister, die storm het totaal gaan lê; aangename rus heers nou weer bo die hard beproefde vlaktes van die aarde; van die blare van die bome val die laaste druppels van die deurstane groot angs en `n koel dou heel menige wond wat die bliksem sekerlik in die gesonde stamme geslaan het; en `n verkwikkende slaap sal sigself al meester gemaak het van die kleine bang kindertjies; en almal wat gedurende die lang uur van verskrikking miskien tot vertwyfeling gebring is, sal neerval op die grond met deur wroeging verteerde harte en biddend in trane van berou, en God vir hierdie redding dank.
[26] Hoe kan julle dan jul die hoof breek oor `n gevinde lok skaapwol, - terwyl julle geen ag slaan op die lewende skaap nie?!
[27] Die ervare Saaier het `n heerlike saadjie in julle gestrooi; maar wanneer julle dit vertrap, sal weinig takkies die daglig aanskou!
[28] Julle weet immers almal dat die saadjie rus moet hê in die aarde, as dit wil ontkiem en vrug dra en sodoende gedy en seën bring! Waarom wil julle dan julle saadkorrel geen rus gun nie en in plaas daarvan, dit met die dowwe skerpte van julle verstand vertrap?!
[29] Nie alleen vir diegene wat daar buite is, het die storm gaan lê nie, maar ook vir julle! Ja ons is almal gered! Oordink daarom, in plaas van julle hoofde te breek, liewer in julle harte, wie ons gered het en dank Hom vir `n dergelike groot erbarming, dan sal dit sekerlik vroeër lig in julle word as deur julle gepieker!
[30] Vra julle nie af wie die vreemdeling is nie, omdat nog geeneen van julle Hom ken nie, maar skenk liewer in plaas daarvan in julle harte aandag aan Sy heerlike Woord, sodat dit spoedig sal ontkiem en opkom! En as julle dan met daglig die vrug sal sien, sal dit sekerlik makliker vir julle wees om aan die vrug die vreemde, heerlike Saaier te herken as wat julle met jul in duisternis gehulde hoofde reeds die daglig wil aanskou of miskien waan om dit reeds te gesien het!
[31] Ofskoon die vrou nie sal onderrig nie, is die moeder egter geregtig om haar dwase kinders tereg te wys, as sy dwaashede by hulle bemerk. Begryp dit goed! Keer in julle harte en soek daar lig vir julle duisternis en swyg! Amen.”
[32] Hierdie woorde van Eva neem die vyftal ernstig ter harte, sodat hulle ook onmiddellik dankbaar doen wat Eva vanuit haar moederliefde baie regverdig van hulle verlang.
[33] Wat doen die sestal intussen buite? In watter toestand vind hulle die aarde en die kinders daarbuite op die grond?
[34] Nog steeds deurkruis duisend weerligte die gloeiende wolke; rondom hulle heers die grootste aktiwiteit in nog honderd vulkane; die see is myle en myle ver teruggetrek; hier en daar brand nog bosse wat deur die bliksem aan die brand gesteek is; dofweg rol die donder nog; dikwels slaan nog `n weerlig met `n geweldige slag in die nog hewig bewende aarde en die gehuil van die nou reeds ver verwyderde woudbewoners weerklink nog huiweringwekkend uit die dieptes!
[35] So was die toestand buite. En duisende en nog eens duisende kinders lag daarby in groot kringe om die woning van Adam en prys God vir die redding; en bewende moeders haal huilend hulle klein kindertjies, wat dikwels saam huil, na hulleself toe; enkeles sluimer reeds, moeg van die verskrikking, op die skoot van hulle snikkende moeders in.
[36] En die sestal gaan rond en bekyk alles en troos die terneergedrukte harte van die vaders en moeders.
|
|
|
|
|