Die Huishouding van God - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 22

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187.

Hanoch, Kain se seun, as wetgewer

22 Hulle het hulle self versadig en `n tyd lank het hulle gedoen, soos wat dit hulle beveel was. Kain het nou weer sy vrou beken en met haar `n seun verwek en het hom die naam “Hanoch” gegee, wat “die eer van Kain” beteken en Kain het al sy kinders bymekaar geroep en gesê: “Kinders, kyk na hierdie nuwe broer, wat JaHWeH my gegee het, as `n heerser oor julle, wat ek oor julle sal aanstel, sodat orde onder julle sal heers en `n einde gemaak word aan julle gestry en julle getwis. Hy sal vir julle gebooie gee en sal dié wat getrou is prys en die oortreders tugtig sodat ons ook `n volk kan word, groot en vol roem, net soos die kinders van God; wat die wette nie nodig het nie, aangesien hulle die Liefde het wat hulle vrymaak, maar vir ons onder hulle voete geplaas het, as gevolg van my sonde, en ons sal vertrap indien ons wetteloos en ordeloos is en niemand sal hê wat ons verteenwoordig en ons regverdig teenoor hulle groot mag nie.

[02] Sien, hulle God, is ook ons God; maar hulle het in hom `n goeie Vader - maar ons het `n Regter! Die Vader ken hulle liefde, en Sy oog en oor is by hulle. Maar by ons is dit nie so nie. Ons is aan ons self oorgelaat en kan doen wat ons wil; indien ons egter wil voortbestaan, benodig ons wette en ordelikheid. Andersins kan een die ander een na willekeur doodslaan wanneer daar twis en geskille ontstaan, en dan sal die houer van Geregtigheid voor die tyd vol word, en ons sal dan almal ten gronde gaan, deur die groot laste van gruweldade wat op ons sal neerstort. Daarom laat ons almal kragtig saamstaan en klippe bymekaar maak, grotes en kleintjies, en vir hom `n hoë vaste woning oprig, en vir elkeen van ons `n kleiner een in `n wye kring om dié van hom. Sodat hy oor almal se doen en late kan toesig hou en hulle dophou. Maar hy moet vrygestel wees van enige werk, as `n vors in julle midde, en moet eet van julle hande.

[03] Maar vir nou is ek in die naam van die Geregtigheid van God, as vader, julle almal se wetgewer, en wee hom wat teenoor my gebooie ongehoorsaam is! My vloek sal hom hard tref; daar sal geen barmhartigheid vir die vervloekte in my hart wees nie, omdat daar geen Liefde meer in my hart woon nie, maar net Geregtigheid.

[04] Sien, waar die Liefde woon, daar is ook barmhartigheid, en daar geld die reg van die Liefde; maar waar daar net Geregtigheid woon, daar kan net reg vir reg geld, en oordeel vir oordeel, loon vir loon, getrouheid vir getrouheid, gehoorsaamheid aan die wet, oordeel vir ongehoorsaamheid, straf vir oortreding, vervloeking vir verraad en dood vir dood.

[05] En die inwyding van my uitspraak sal wees, dat ek nou vir julle almal sweer, by die hemele en Sy onverbiddelike Geregtigheid en by die aarde, die hardvogtige woonplek van die vervloeking van God, dat elke oortreder hard en streng getref sal word, deur wat ek nou hier vir julle meegedeel het, deur my mond as vader en as vors.

[06] Maar na my sal julle broer as julle ware heerser en wetgewer kom, volgens sy regverdige insig en vrye willekeurigheid, - daarom sal hy ook vrygestel wees van die wet, aangesien elkeen van sy vrye handelinge vir julle `n wet sal word en moet bly, totdat hy dit goed sal ag, om dit weer op te hef.

[07] Hiermee is my wil nou aan julle bekend, handel daarvolgens en voer dit uit, indien julle deur my wet en orde onder die streng geregtigheid wil bestaan, om sodoende die oordeel te vermy, wat almal andersins sou tref, indien daar nie in die wet `n oordeel sou wees nie: Oordeel vir oordeel.”

[08] En kyk, almal het uitmekaar gegaan en hard begin werk om `n stad te bou waaraan hulle sestig jaar lank gewerk het. Aangesien die geboue dikwels inmekaargestort het, het hulle baie tyd benodig vir die bou van die woning van die nuwe vors en kon dit eers voltooi, nadat Ek vir Hanoch in `n droom gewys het, hoe hulle moet bou. Want Ek het medelye met die arme kinders gehad, wat gedurende die bouery aan baie en erge mishandelings blootgestel was. Die geordende, streng en wetlik korrekte Kain, wat nou sy familielede gelei het, was `n tiran, en het geheers deur groot skrik, vrees en angs vir die strawwe, sonder medelye en barmhartigheid, omdat daar in hom geen Liefde was nie, maar net regverdigheid en gehoorsaamheid teenoor al die wette, - maar hy het nie daaraan gedink dat gehoorsaamheid, wat `n blote gevolg is van te groot vrees, eintlik tog nie in die allerminste graad gehoorsaamheid is nie, maar net eieliefde. Wie hom self liefhet, die hou by die wet, bloot uit vrees vir die versekerde strawwe wanneer daar oortree word, aangesien hy vir homself jammer voel wanneer hy die pyn van die straf in sy onbeholpe swakheid voel. Maar vind hy ook net die geringste geleentheid om nie in sy hart dopgehou te word nie, dan sal hy die wet en die wetgewer vloek en die wet binnekort met die voete vertrap.

[09] Het sodanige persoon die geleentheid gekry om op enige wyse `n groter mag te versamel, stel hy homself tweemaal so gruwelik bo die wet, ten goede of slegte, en hy sal hulle vernietig en ongedaan maak saam met die liefdelose wetgewer. (NB. Dit moet ook deeglik in ag geneem word deur alle leiers en wetgewers van hierdie tyd; ook vir hulle wag dieselfde lot, indien hulle dink dat vrees die enigste middel is om wet en orde te handhaaf, met die daaraan verbonde voordeel van die stomme gehoorsaamheid van die slawe. Andersins sal almal dit spoedig op ruwe wyse ondervind, welke vrugte die wette, wat nie hulle oorsprong in die onbaatsugtige liefde gevind het nie, hulle vroeër of later sal bring, hetsy hier op aarde of dan verseker in die hiernamaals.)

[10] Want sien, die rede hoekom Kain so geregtelik wreed opgetree het, was omdat hy nie altyd volle barmhartigheid en bereidwilligheid van My ondervind het elke keer wanneer hy na `n bose daad trane van berou gestort het. Dit kon Ek egter nie doen nie, aangesien sy berou slegs die verlies van barmhartigheid betref het, maar nooit op My Liefde gerig was nie.

[11] En sien, wie op so `n wyse berou het, dié treur nie in ware diepte van sy hart oor die verlies van die lewe nie, maar veel meer oor die verlies van sy welsyn; en sy berou is daarom vals, omdat daar niks geleë is aan hom om tot `n volkome hereniging met My te kom nie. En sou Ek dit dan ook vir hom gee, wat hy eintlik nie wil hê nie, dan sou hy net die dood verwerf deur die dergelike verwisseling van wil, aangesien die vrye wil die eintlike lewe van die mens is.

[12] En sien, dit was ook die geval by Kain, aangesien hy die Liefde verban het en in plek daarvan die geregtigheid aangegryp het, sonder om te besef, dat daar geen geregtigheid sonder liefde is nie, en dat die geregtigheid die hoogste liefde self is, waarsonder alles ten gronde sou gaan en noodwendig moes.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205